Regering moet optree om gladde proses by grensposte te verseker

(Argieffoto)

Suid-Afrika se regering moet dringend stappe doen om te verseker goedere en mense kan ordelik deur al die land se grensposte – ook die problematiese Beitbrug-grenspos – beweeg voor die aanvang van die vasteland se vryehandelsooreenkoms, het die bedryf gewaarsku.

Die oproepe van die Federation of Eastern and Southern African Road Transport Associations (FESARTA) en die South African Association of Freight Forwarders (SAAFF) kom na die chaos by Beitbrug, die grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Luidens berigte het sommige mense selfs in die lang toue, wat verband hou met toetse vir Covid-19, gesterf.

In ʼn gesamentlike verklaring het die organisasies gesê die verlies aan menselewens en die koste van vertragings by die Beitbrug-grenspos kon voorkom word.

“Die regering het nie met bedryfsliggame beraadslaag nie; hy het ʼn eensydige besluit geneem om streng Covid-19-toetse by grensposte te doen wat gelei het tot toue van meer as 20 km lank aan albei kante van die grens. Hy het net gehoor gegee aan ons voorstelle nadat ʼn benarde situasie ontstaan het,” het Mike Fitzmaurice, FESARTA se uitvoerende hoof, gesê.

Die koste vir Suid-Afrika tot dusver was vyf sterftes en verliese van tot R2 miljard.

Die minister van binnelandse sake het Donderdag egter gesê net een sterfte kon bevestig word.

Die regering skryf die vertragings by Beitbrug toe aan vertragings aan die Zimbabwiese kant van die grens, waar die proses steeds met die hand gedoen word.

Ter voorbereiding van die inwerkingstelling van die ooreenkoms oor die Afrika-vryhandelgebied (AfCFTA) – wat oor minder as ʼn week gebeur – moet dringende stappe gedoen word om die ordelike vloei van mense en goedere deur alle grense verseker, maar veral ook by Beitbrug, het dr. Juanita Maree, voorsitter van die SAAFF, gesê.

“Die ooreenkoms is ʼn ongelooflike, eens-in-ʼn-leeftyd-geleentheid om 30 miljoen mense uit uiterste armoede te lig en die inkomste van 68 miljoen ander, wat op minder as sowat R80 per dag oorleef, te verhoog.

“Munisipaliteite, staatsagentskappe en departemente, asook die private sektor aan albei kante van die grens, moet saamwerk om kapasiteit en doeltreffendheid te verseker sodat daar geen opeenhopings by die grens is nie, broodnodige ekonomiese groei kan plaasvind en handel en sake kan floreer.”

Maree sê die SAAFF het tot dusver 3 000 liter water uitgedeel aan uitgeputte vragmotorbestuurders wat by die Beitbrug-grenspos in die tou vasgevang is, om te probeer help.

“ʼn Goed gevestigde vennootskap tussen die staat en die private sektor sal soortgelyke rampe in die toekoms voorkom, gegewe die belangrike rol wat die vragmotor- en vragbedryf speel in die fasilitering van AfCFTA se infrastruktuurontwikkeling. Die vervoerbedryf maak dit moontlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.