Regering moet optree voor bek-en-klou landwye krisis word

(Argieffoto)

Die krisis rakende die uitbreking van bek-en-klouseer moet dadelik in die Staatskoerant afgekondig word sodat die minister van landbou broodnodige geld en hulpbronne beskikbaar kan stel om die situasie te hanteer.

Die DA-LP Noko Masipa sê dié stap moet dringend gedoen word om te verseker die uitbreking word nie ʼn landwye ramp nie.

Nagenoeg 20 000 diere op vyf kommersiële plase word nou reeds deur die uitbreking van die siekte geraak. Bek-en-klouseer het vroeër vandeesmaand vir ʼn tweede keer in Limpopo uitgebreek – met rampspoedige gevolge vir die bedryf. Min. Thoko Didiza het onder meer ʼn verbod op lewendehawe-veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geplaas.

“Die departement se versuim om doeltreffend te reageer op die uitbreking het grootskaalse verwarring en chaos veroorsaak,” het Masipa gesê.

Hy het gesê deur geld en hulpbronne beskikbaar te stel kan amptenare, die polisie en betrokke landbouorganisasies die vervoer van diere in geraakte gebiede behoorlik monitor en ook op dié manier die verspreiding van die siekte help stuit.

“ʼn Toename in logistieke hulpbronne gaan ongetwyfeld voorkom dat bek-en-klouseer onstuitbaar deur die land versprei. Dit gaan ook verhoed dat die rooivleisbedryf ondergronds gedruk word met onwettige verkope op die swart mark,” het Masipa gesê.

Die DA vra onder meer vir ʼn omvattende ondersoek na nóg ʼn bek-en-klouseer-uitbreking in Limpopo skaars maande ná die vorige een. Die party sê ook die afhandeling van ʼn toegewyde bek-en-klouseer-fasiliteit wat inentings vir die siekte moet ontwikkel, moet bespoedig en geprioritiseer word.

“Die regering kan nie net terugsit terwyl die land se veebedryf toenemend vatbaar word vir die sporadiese uitbreking van bek-en-klouseer nie. Volgens berigte moes selfs pres. Cyril Ramaphosa 20 werkers op sy plaas weens bek-en-klouseer aflê.

“Die omvang van die uitbreking moet ernstig opgeneem word en beheermaatreëls – met bykomende steun, hulpbronne en geld – moet ingestel word,” het Masipa gesê.

Die uitbreking van die siekte in Januarie vanjaar het gelei tot ʼn verbod op die uitvoer van Suid-Afrikaanse vleis én wol en het die land nagenoeg R10 miljard gekos.

“Ons ekonomie kan bloot nie die verlies bekostig nie. Die DA pleit by die regering om beslissende stappe te doen om die uitbreking onder beheer te bring en die kwessie in die Staatskoerant af te kondig sodat die landboubedryf bemagtig kan word om die verdere verspreiding van die siekte te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KO ·

Dit is reeds buite beheer, veilings in sekere provinsies is dan reeds gestop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.