‘Regering moet skuld vir soldaat se dood aanvaar’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die DA sê die regering en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die dood van ʼn soldaat in Mosambiek vroeër vandeesweek.

Kobus Marais, die DA se skaduminister van verdediging, sê die DA het vantevore gewaarsku teen ʼn halfgebakte militêre verbintenis waar die nodige finansiering nie ten volle deur die SAOG goedgekeur is nie.

“Dít is ʼn oorlog teen die Islamitiese Staat (Isis) in Cabo Delgado en die SAOG moet dit óf aanvaar en die troepe wat daar ontplooi is behoorlik voorberei en ondersteun, óf ons soldate uit die oorlogsones onttrek.”

Die betrokke soldaat, kpl. Tebogo Edwin Radebe, is in Mosambiek deur rebelle doodgeskiet terwyl hy en ʼn groep soldate by ʼn ontruimingspunt op ʼn helikopter gewag het. Dít nadat die soldate reeds hul pad uit ʼn lokval in ʼn gebied oos van die Chai-nedersetting geveg het.

“Hierdie voorval kon vermy gewees het as daar voldoende lugaanval-ondersteuning verskaf is, wat skynbaar nie die geval was nie,” sê Marais.

“Hiér is waar die dodelike Rooivalk-aanvalshelikopters en vierdegenerasie-Gripens-vegvliegtuie op bystand moes gewees het om die vyand op ʼn afstand te hou.”

Marais sê hy versoek nou dat die minister van verdediging, Thandi Modise, ʼn volledige verslag verskaf oor hoe lank die weermag na verwagting ter ondersteuning van die SAOG-sending in Mosambiek (SAMIM) ontplooi sal word.

Hy wil ook weet hoe hierdie ontplooiing, wat oënskynlik verder uitgebrei sal word, gefinansier word, aangesien daar geen duidelikheid is ​​oor die finansieringsbronne vir Operasie Vikela nie.

“Met die huidige vlak en kompleksiteit van bedreigings in Cabo Delgado kan dit jare neem om vrede in die gebied te bewerkstellig.”

Marais sê harde vrae moet nou gevra word oor die militêre intelligensie wat skynbaar misluk het en wat die hinderlaag kon vermy het.

“As hierdie vrae nie nou aan die regering gerig word nie, sal die lewe van ons soldate voortdurend in gedrang gestel word – iets wat ons in geen omstandighede kan toelaat nie,” sê hy.

Radebe (31), wat aanvanklik van Paul Roux in die Vrystaat kom, word deur sy tannie, twee susters, ʼn broer en twee dogters oorleef.

Sy oorskot is Donderdagoggend aan sy familie by die Waterkloof-lugmagbasis oorhandig en planne vir ʼn amptelike begrafnis sal na verwagting binnekort aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.