Regering moet uit een mond oor Covid-inenting praat

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die VF Plus sê ministers moet daarteen waak om teenstrydige uitsprake rakende die regering se standpunt oor die entstof teen Covid-19 te maak en sodoende verwarring onder mense te skep.

Die oproep deur Fanie du Toit, ʼn VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), volg nadat die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, Dinsdag tydens ʼn vergadering van die NRP in antwoord op die party se vrae gesê het die regering kan dit wel later oorweeg om diegene wat nie ingeënt is nie, se toegang tot openbare persele en dienste te beperk.

Pres. Cyril Ramaphosa het daarteenoor reeds verskeie kere gesê dat die inenting teen Covid-19 vrywillig is en dat die besluit om ingeënt te word by elke Suid-Afrikaner berus.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid.

Phaahla het egter gedurende die vergadering gesê die regering sal ook beperkende maatreëls deur sakeondernemings en openbare ontspanningsgeriewe soos rolprentteaters en restaurante steun, sou die ondernemings besluit om sulke maatreëls in te stel.

Volgens Du Toit het die minister voorts gesê die regering oorweeg dit om die entstofprogram later na kinders van 12 jaar en ouer uit te brei.

Hy meen Suid-Afrikaners se grondwetlike regte word nie in ag geneem met die uitsprake nie.

Die uitsprake weerspieël ook ʼn skynbare wanbegrip van die omvang van openbare onsekerheid rakende Covid-19 en die entstof, sê Du Toit.

“Sulke uitsprake kan weerstand wek teen die regering se Covid-19-programme.

“Die VF Plus maan die regering om oordeelkundig op tree oor hierdie gevoelige saak en dring daarop aan dat alle Suid-Afrikaners, ook kinders, se grondwetlike regte tydens besluitneming gerespekteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.