Regering moet waak teen onhoudbaar hoë belastingvlakke

(Foto: pixabay)

Daar kan ʼn tyd kom dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers gaan weier om belasting te betaal indien die vlakke daarvan onhoudbaar hoog word.

Bryden Morton, uitvoerende direkteur van 21st Century, en Chris Blair, uitvoerende hoof van die maatskappy, sê die uitwerking van enige verandering aan die belastingstelsel moet in gedagte gehou word wanneer besluite oor regeringsbesteding geneem word.

Algehele regeringsbesteding in 2020 was volgens Statistieke SA (Stats SA) sowat R2 biljoen. In die 2021/’21-boekjaar het die koste van 18 miljoen maatskaplike toelae wat uitbetaal word, die staat sowat R195 miljard gekos. Dit beteken 10% van alle regeringbesteding word aan toelae spandeer. Anders gestel: tien sent van elke rand wat die regering uitgee, is om ʼn maatskaplike toelaag te betaal.

Morton en Blair sê die besteding verteenwoordig geld wat op velerlei ander maniere produktief gebruik kan word. Dit sluit in die verbetering van die ekonomiese infrastruktuur om meer werk te skep.

Werkloosheid staan op ʼn rekordhoëvlak van meer as 35%. Nie net wys dit hoeveel mense tans nie aan die ekonomie kan deelneem nie; dit is ook ʼn aanduiding van hoe min mense tot persoonlike inkomstebelasting bydra.

“Die voortgesette groei in die werkloosheidskoers is ʼn kommerwekkende teken: Meer mense sluit aan by diegene wat toelae benodig en hulle word ondersteun deur werkende mense wat tot die belastingbasis bydra,” sê dié kenners.

Die regering beoog boonop om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel en diegene wat reeds belasting betaal, sal selfs meer moet opdok om ook die NGV te finansier.

“Op watter punt besluit diegene wat belasting betaal genoeg is genoeg en wysig hulle hul belastinggedrag om belasting te vermy, of te ontduik?” sê Morton en Blair.

Volgens hulle glo talle belastingbetalers reeds dat hulle belastingvlakke ongeregverdig hoog is. ʼn Voorbeeld hiervan is die rebellie teen die e-tolstelsel. Baie belastingbetalers meen hulle betaal reeds vir tolpaaie deur die belastingheffing en hulle beskou die e-tolstelsel dus as dubbele belasting. Dit dra by tot die lae vlakke van invordering wat Sanral met die stelsel ondervind.

Nog ʼn voorbeeld is die brandstofheffing wat die afgelope ruk toenemend onder skoot kom. Dit is onlangs verminder in ʼn poging om verbruikers ʼn blaaskans te gee.

Morton en Blair sê indien hierdie voorbeelde ʼn aanduiding is dat Suid-Afrikaanse belastingkoerse ʼn sogenaamde kookpunt bereik, die vraag ontstaan wat die regering kan doen om dit volhoubaar op te los.

“Die antwoord is om die belastingbasis te verbreed, eerder as om bestaande belasting te verhoog,” sê hulle.

Dit gaan egter ʼn “kreatiewe” benadering tot beleid vereis. “Een so ʼn positiewe beleid is die verlaging in die maatskappybelastingkoers wat Suid-Afrika meer aantreklik sal maak om ondernemings op die been te bring en werkers in diens te neem – wat beteken nuwe werkgeleenthede word by die ekonomie gevoeg en die belastingbasis word verbreed.”

Hulle waarsku egter dat die regering moet besef dat belastingbetalers nie onbepaald gaan opdok nie.

“Die regering moet kennis neem van hierdie boodskap as hy besluit oor nuwe bronne van finansiering omdat die belastingbetalende burger nie ʼn onuitputlike bron is nie – of die regering sal die gevolge moet dra,” sê Morton en Blair.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manie ·

Betaal die keiser wat hom toekom, in SA se geval, nie veel nie.

domheks ·

As die keiser dit werd is! Korrupsie, korrupsie en nog korrupsie!

Reynier ·

As ek weet hoe om almal te kry om saam met my op te hou belasting betaal. Sal ek ophou. As hulle R350m het om vir Kuba te gee het hulle nie my belasting nodig nie.

Witbaard ·

Regering voel vere vir die belastingbetaler se welstand, solank hulle net die geld kry, is hulle happy.

henndrik ·

Werkgewers word deur die wet verplig om belasting van werknemers te verhaal en aan die ontvanger van inkomste oor te betaal. Die enigste mense wat dus belasting kan weerhou is mense wat voorlopige belasting betaal en ek weet nie of daat genoeg van hulle is nie. Daar sal op een of ander manier ‘n hof uitspraak moet wees wat werkgewers sal toelaat om belasting te weerhou so ons sal ‘n artikel oor opsies waardeer

Bosvelder ·

Dit klink nie reg nie, maar ek sê nie dis verkeerd nie. 18 milj toelae @ R 195 miljard beteken die gemiddelde toelaag is R 10,833 Hierdie toelae word nie aan arm mense betaal wat die geld meer nodig het nie. Dit is ‘n skaamtelose getap van ons belastinggeld!

Blikkies ·

Jy is korrek, en as elke 18 000 000 eisers R350 toelaag kry los dit hulle met R188 700 000 000 oor van die R195 Miljard……..gee jou drie raaie waarna toe is daai geld.

Piet 6 ·

Dit is R10833 per jaar of R902.77 per maand. Die toelae is van R350 tot R1980 per persoon per maand. Dan lyk dit logies. Onthou dit sluit alle toelaes in en nie nie net die R350 nie.

Pietertjie ·

Vertel dit vir die regering. En hoop dan daar is iemand wat dit verstaan. En hoop verder dat iemand daarop gaan ag slaan. Hoop dan nog verder dat iemand dit gaan begin toepas. Ek het ‘n groter kans om duisend jaar oud te word.

efjy ·

Daar kan ‘n tyd kom wat belastngbetalers gaan weier om belasting te betaal indien die staat nie korrupsie en misbruik daarvan gaan staak nie.

Kokerboom ·

Solank SA belastingbetalers net kerm en kla en nie aksie neem, sal NIKS gebeur!!

Neestemmer ·

Belasting is iets wat mens aan ‘n regering moet betaal waarmee hulle die land moet opbou en onderhou, Hierdie konsep bestaan lankal nie meer in SA nie, en jou “ belasting geld” is eintlik net ‘n bydrae om die ANC georganiseerde misdaadbende te befonds……

Ek dink daar is meer en meer mense wat ‘n beginselprobleem daarmee het om misdaad en korrupsie te befonds met jou swaarverdiende aalmoese.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.