Regering neem MRK hof toe oor gelykheidsverslag

Argieffoto.

Die regering gaan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) na die hooggeregshof neem oor dié menseregtewaghond se gelykheidsverslag. Dit is vandag in die arbeidshof in Johannesburg bekend gemaak.

Solidariteit het buite die hof bekend gemaak dat hy ook gevoeg is tot die aansoek om die SAMRK se gelykheidsverslag by die hooggeregshof te hersien. Die regering het reeds stukke by die hof ingedien.

Solidariteit het ook aangekondig dat hy die hersieningsaansoek in die hooggeregshof gaan opponeer.

Die arbeidshof in Johannesburg het vandag ʼn aansoek van Solidariteit aangehoor dat die gelykheidsverslag se bevindings afgedwing moet word. Die regering argumenteer hulle is nie gebonde aan die verslag nie, maar wil nou die verslag na ʼn ander hof neem om dit te hersien.

Volgens Solidariteit sal dit artikel 9-instellings irrelevant maak indien hul aanbevelings geïgnoreer kan word.

Uitspraak is voorbehou.

Die SAMRK se gelykheidsverslag het bevind dat sekere dele van die Wet op Gelyke Indiensneming nie aan die Grondwet en internasionale konvensies voldoen nie. Die SAMRK het ook aanbeveel dat die regering binne ses maande na die verskyning van die verslag moet verslag doen oor hoe die Wet op Gelyke Indiensneming verander gaan word.

“Ons is verstom dat die regering in die arbeidshof argumenteer dat hy nie gebonde is aan die SAMRK se verslag nie, maar terselfdertyd bring die regering ʼn aansoek in die hooggeregshof dat die bevindinge en aanbevelings daarvan nietig verklaar word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Die regering het 60 dae gehad om op die verslag te reageer. Dit is nou 18 maande later. Die regering het sy reg op hersiening verloor. Solidariteit gaan die hersieningsaansoek beslis teenstaan.”

In sy Gelykheidsverslag het die SAMRK aanbeveel dat die Wet op Gelyke Indiensneming gewysig moet word en dat die regering binne ses maande na die uitreiking van die verslag terugvoering moes gee oor hoe die wet verander gaan word.

Die aanbeveling lees soos volg: “Daar word gevolglik aanbeveel dat die Wet gewysig word om meer genuanseerde groepe op grond van behoefte en met inagneming van sosiale en ekonomiese aanwysers te teiken en dat die regering binne ses maande ná die uitreiking van die Gelykheidsverslag aan die SAMRK verslag doen oor die stappe wat geneem is, of wat hy beoog om te neem ten einde die Wet te wysig.”

Die verslag beveel voorts aan: “Die Wet moet verder gewysig word om terug te keer na ʼn posisie waar oorweging van ʼn streek se ekonomies aktiewe bevolking in verhouding tot verteenwoordigende vlakke verpligtend en nie diskresionêr is nie.”

Die regering moet ook “vasstel of, en hoe die Wet gewysig kan word om ʼn kwalitatiewe en ʼn konteks-sensitiewe vasstelling van behoefte te vereis wanneer regstelaksieplanne geïmplementeer word.”

Die Gelykheidsverslag stel dit dat “die definisie van aangewese groepe in die Wet op Gelyke Indiensneming nie voldoen aan grondwetlike of internasionale regsverpligtinge nie”.

Die verslag van die SAMRK volg op aanbevelings van die Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) wat skerp kritiek op Suid-Afrika se stelsel van rassediskriminasie gelewer het

Die aanbevelings van die VN-komitee volg nadat die departement van justisie en Solidariteit in 2016 voorleggings aan dié komitee in Genève gedoen het. Solidariteit het daarna ook ʼn petisie by die SAMRK ingedien waarin gevra is dat Suid-Afrika se voldoening aan internasionale vereistes ondersoek word.

Volgens Hermann is die kern van die SAMRK-verslag dat regstellende aksie meer genuanseerd toegepas moet word; dat behoefte en sosio-ekonomiese aanduiders in ag geneem moet word; en dat die manier waarop regstellende aksie tans toegepas word, aanleiding gee tot ʼn praktyk van rassekwotas.

Die Gelykheidsverslag meld: “Die definisie van aangewese groepe in die Wet op Gelyke Indiensneming voldoen nie aan grondwetlike of internasionale regsverpligtinge nie.”
In hoofstuk 1 van die SAMRK-verslag word aangedui dat “spesiale maatreëls tans nie in ooreenstemming met grondwetlike doelstellings is nie. Waar spesiale maatreëls nie op grond van behoefte en met inagneming van sosio-ekonomiese faktore ingestel word nie, kan die maatreëls nie substantiewe gelykheid bewerkstelling nie.”

Die SAMRK neem verder daarvan kennis dat ʼn konteks-sensitiewe benadering dus in ooreenstemming is met die vereistes wat CERD vir spesiale maatreëls stel.

“Die regering het nog geen wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming aangebring nie ten spyte daarvan dat die land se menseregtewaghond bevind het dat ʼn ongenuanseerde rassebenadering ongrondwetlik is. Om 18 maande te wag en dan ʼn hersieningsaansoek te bring, is minagtend teenoor ʼn instelling wat deur die Grondwet ingestel is, en minag ook die Grondwet self,” het Hermann verduidelik.

Die grondwethof het dit al by ʼn vorige geleentheid duidelik gemaak dat artikel 9-instellings van die Grondwet nie sonder tande behoort te wees nie. In ʼn onlangse uitspraak van die grondwethof is bevind dat daar van artikel 9-instellings verwag kan word om onafhanklik, en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe te wees. Toe die grondwethof byvoorbeeld moes beslis oor die magte van die openbare beskermer, ook ʼn artikel 9-instelling, het die hof soos volg bevind: “Geen besluit wat in die Grondwet of die reg gesetel is, mag verontagsaam word sonder dat beroep op ʼn geregshof gedoen is nie.”

Die grondwethof het voorts bevind dat die vraag of ʼn artikel 9-instelling onpartydig is, al dan nie, irrelevant sou wees as die uitvoering van die besluite wat die instelling neem aan die genade oorgelaat word van diegene teen wie die besluite geneem is, het Hermann bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
skurweberg

Ek het net een boodskap vir die regering “Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en ’n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar.” Lukas 11:17 (Die Bybel Nuwe Vertaling, (Suid–Afrika: Bybelgenootskap Van Suid–Afrika) 1983.

aj

Die ANC leiers praat altyd van ‘ons mense’ …. wat WIT MENSE uitsluit.

Daarom is dit verstaanbaar dat hulle (ANC Regime) die MRK se verslag oor rassekwotas wil laat hersien.

Want in hulle oë is WIT MENSE nie mense nie ….? ….. en het daarom ook nie regte nie?

In hulle verwronge siening is : ..”all animals equal … but some are more equal…”

SKANDE!

‘Sonde teen die mensdom!’

Willie

Hoekom raak die VF nie by hierdie hofsaak betrokke nie? Dis mos n gulde geleentheid vir “slaan terug” deur regstellende aksie teen te staan. Help nie ek vra die VF direk nie. Ek het al geleer hulle beantwoord nie epos navrae nie. Maar kom verkiesingstyd, dan verwag hulle ek moet vir hulle stem.

jaco

Die ANC-regering stel die MRK aan en betaal hulle salarisse. So die MRK bestaan hoogs waarskynlik uit ANC-lede en ANC-gesindes. Die hof waar die MRK verhoor gaan word, word ook deur die ANC-regering beheer.
So eintlik kla die ANC die ANC by die ANC aan. Iets maak nie sin nie.

Rubber

Apartheid onder die dekmantel. Nou praat hulle so deurmekaar hulle weet self nie tot watter mate hulle die diskriminasie wil toepas. Onmenslik. Skrap rassisme!