Regering nie ernstig genoeg oor vroeëkinderontwikkeling nie

dr-eric-atmore

Dr. Eric Atmore. Foto: Stefan Els/Universiteit Stellenbosch.

Navorsing toon dat daar sedert 1994 ʼn merkbare gebrek aan politieke wilskrag by die regering was om vroeëkinderontwikkeling in Suid-Afrika te ondersteun.

“Terwyl die beleidsdokumente die belangrikheid van die verskaffing van vroeëkinderontwikkelingsdienste beklemtoon, is dit minimaal geïmplementeer.

“Die Nasionale Tesourie het ook nie genoegsame gelde verskaf om hierdie vroeëkinderontwikkeling-beleide te implementeer nie en ons regeringsamptenare op nasionale en provinsiale vlak het nie die kapasiteit om vroeëkinderontwikkelingsprogramme op die been te bring soos dit in die verskillende beleidsdokumente uiteengesit word nie.”

Dit is die bevindinge van dr. Eric Atmore, adjunk-medeprofessor in sosiale ontwikkeling aan die Universiteit van Kaapstad en die direkteur en stigter van die Sentrum vir Vroeëkinderontwikkeling in Claremont, Kaapstad. Hy het Vrydag sy doktorsgraad in Opvoedingsbeleidstudie by die sesde seremonie van die Universiteit Stellenbosch (US) se April-gradeplegtigheid ontvang.

“My navorsing toon ook dat groter aktivisme van verskaffers van vroeëkinderontwikkelingsdienste nodig is.”

Atmore het, as deel van sy doktorale tesis onder toesig van prof. Nuraan Davids van die US se Departement Opvoedingsbeleidstudie, al 27 beleide en beleidsverwante dokumente oor vroeëkinderontwikkeling wat sedert 1990 die lig gesien het in Suid-Afrika, opgespoor, gelees en ontleed. Daarna het hy onderhoude met 19 sleutelfigure wat tussen 1990 en 2015 by die beleidsvorming oor vroeëkinderontwikkeling betrokke was, gevoer. Hy het ook sy eie stem bygevoeg om sy boodskap oor te dra.

Atmore wys daarop dat sy studie die eerste van sy soort in Suid-Afrika en, sover hy kon vasstel in al die literatuur, die eerste een ter wêreld is wat gekyk het na die verloop van beleidsvorming oor vroeëkinderontwikkeling oor só ’n lang tydperk.

Hy sê sy navorsing bevat talle lesse oor die implementering van vroeëkinderontwikkelingsbeleide en oor die pad vorentoe om in die behoeftes van jong kinders in Suid-Afrika en in die res van die wêreld te voorsien.

“Daar is sowat 30 000 vroeëkinderontwikkelingsentrums met sowat 90 000 mense, meestal vroue, wat elke dag onderrig, ontwikkeling en sorg aan ons jongste kinders bied. Dit word al vir lank deur die niewinsgewende en gemeenskapsektore verskaf. Die aktivisme moet tot politieke wilskrag en die regering se verbintenis tot ons jongste kinders in Suid-Afrika lei,” voeg Atmore by.

Hy meen die uitgebreide netwerk van vroeëkinderontwikkeling-diensverskaffers in die gemeenskap is een van die sterkpunte van hierdie sektor in Suid-Afrika.

Oor hoekom daar ’n gebrek aan navorsing oor vroeëkinderontwikkelingsbeleide in Suid-Afrika is, sê Atmore dit is moeilik om beleid na te vors. Hy voeg by dat die meerderheid navorsing in vroeëkinderontwikkeling oor programme en die implementering daarvan handel, terwyl slegs ’n paar navorsers op vroeëkinderontwikkeling-beleidstudies fokus.

Hy sê een van die hoogtepunte sedert hy die Sentrum vir Vroeëkinderontwikkeling op die been gebring het, is om te sien hoe vroue uit verskeie gemeenskappe landwyd vroeëkinderontwikkelingsdienste aan jong kinders verskaf.

“Hoewel dit nie altyd die beste gehalte is nie, inspireer dit ’n mens om te sien wat Suid-Afrikaners kan doen as hulle regtig vasbeslote is en die visie het om ons jong kinders te onderrig en na hulle om te sien.

“Ons het al verskeie onderwyspryse ontvang, wat die Presidentseerbewys vir vroeëkinderontwikkeling en die Afrika ICT-prys in Onderwys insluit. Maar niks kom daarby om te sien hoe hierdie inspirerende vroue uit ons gemeenskappe vroeëkinderontwikkelingsdienste aan ons jong kinders verskaf nie.”

Atmore sê regeringsbeamptes en aktiviste in die vroeëkinderontwikkelingsektor, sowel as mense wat by onderrig en maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika en wêreldwyd betrokke is, sal baat vind by sy navorsing.

Die 63-jarige Atmore is reeds sedert 1979 by vroeëkinderontwikkeling betrokke en baie passievol daaroor.

“Ek het ook hierdie navorsing gedoen omdat ek redelik aktief betrokke was by beleidsvorming oor vroeëkinderontwikkeling tussen 1990 en 2012 en daar is ’n storie om te vertel oor hoe vroeëkinderontwikkeling in die postapartheidstydperk in Suid-Afrika ontvou het.

Hy sê dat hoewel goeie geleenthede vir hoëgehalte-vroeëkinderontwikkelingservarings noodsaaklik is vir jong kinders se groei en ontwikkeling, ons as ’n land nie veel van die proses van beleidsvorming vir vroeëkinderontwikkeling verstaan nie en dat daar swak plekke in die implementering van vroeëkinderontwikkelingbeleide is.

“My motivering om by vroeëkinderontwikkeling betrokke te wees, is die wete dat jong kinders ’n fundamentele reg op goeie gehalte vroeëonderrig en ontwikkeling het – wat gesondheidsorg en voeding insluit, maar daar is baie, sowat 70% van Suid-Afrika se kinders, wie se reg nie geëer word nie,” voeg Atmore, wat self drie kleinkinders het, by.

Hy het ook reeds die eerste ruwe manuskrip vir ’n boek wat op sy tesis gegrond is, voltooi en beplan om die boodskap daarvan by konferensies in Suid-Afrika en oorsee te versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alex ·

Kinders behoort die reg te hê om nog kinders te wees en nie vroeg ryp gedruk te word nie.

willem Botha ·

Die huidige regering net soos die vorige np presedent is ernstig oor niks behalwe selfverryking ten koste van ander,daaroor is hulle baie ernstig

Gert van Wierdapark ·

Dis deel van die a en see se plan B om hul stemvee te onderdruk deur ontwikkeling terug te hou! In die “Land van die blindes” is Een-oog mos koning.

dejager ·

Die huidige sisteem werk so goed omdat die regering nog nie hul neuse daarin gedruk het nie

Oom Okkert Stywe Arms ·

Gelukkig was my ouers 100% in byheer van my vroeekinderontwikkeling, soos dit hoort. Slim mense maak my dom en dan wil hulle nog die regering by hul slimgeit betrek. Nee dankie!!!

Judge Dredd ·

Primere en Sekondere skool onderrig het ontaard in niks meer as “babysitting” van skoliere – net ‘n manier om kinders onder uit die voete van ouers te hou, terwyl ouers doen (of nie doen) wat ookal ouers doen.
Oordrag van kennis/geleerdheid is sekonder aan propaganda/babysitting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.