Regering oorweeg steeds nie verpligte entstof

(Foto: Twitter)

Die departement van gesondheid het opnuut benadruk dat die regering in hierdie stadium nie verpligte inenting teen Covid-19 oorweeg nie. “Vir nou het die president aangekondig dat nee, ons dit nie gaan doen nie,” het dr. Sibongiseni Dhlomo, adjunkminister van gesondheid, aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê.

Dit terwyl daar al meer bewyse is dat die entstof wel doeltreffend is om te voorkom dat mense ernstig siek word en sterf.

Sowat 83% van die 11 205 mense wat op 5 September vanjaar landwyd in hospitale vir Covid-19 behandel is, was nié ingeënt nie.

Dr. Nicholas Crisp, waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het Donderdag aan die komitee gesê die departement is besig om data op te bou oor wie tans die koronavirus opdoen.

Crisp het aan LP’s gesê van diegene wat in daardie stadium in hospitale behandel is, het 1 996 pasiënte (83%) reeds minstens een dosis van die entstof ontvang. Altesame 9 249 mense wat behandel is, het geen inenting gehad nie.

Die departement samel ook data in oor hoe siek mense word indien hulle reeds een dosis ontvang het of ten volle ingeënt is, en dan steeds die virus opdoen en in die hospitaal beland.

Uit die 11 205 pasiënte in hospitale op daardie dag, was 767 in hoësorgeenhede. Uit dié pasiënte het 129 reeds minstens een dosis van die entstof ontvang. Die ander 638 pasiënte was nie ingeënt nie.

Crisp sê dit is naastenby dieselfde koers as wat by hospitaalopnames opgemerk word.

Op dieselfde datum was altesame 1 611 pasiënte in intensiewesorgeenhede landwyd: 325 van hulle het minstens een dosis van die entstof ontvang, terwyl 1 286 geen inenting ontvang het nie.

“Weereens is jou kans om in ʼn intensiewesorgeenheid opgeneem te word, veel hoër as jy nie ingeënt is nie,” sê Crisp.

“Die entstof is uiters doeltreffend om mense uit die hospitaal te hou.”

Dhlomo het aan die komitee gesê hoewel mense moontlik steeds in ʼn hospitaal kan beland, die kanse dat ʼn pasiënt in byvoorbeeld die intensiewesorgeenheid opgeneem sal moet word – en nie weer daar sal uitkom nie – veel skraler is.

“Die voorlegging wys dat selfs met net een dosis van die entstof, jy 80% beskerming geniet.”

Die komitee het die verligting vir hospitale verwelkom wat die entstofprogram teweeg bring en volgens dr. Kenneth Jacobs, komiteevoorsitter, moet Suid-Afrikaners die belang van inentings begin besef.

Crisp het aan die komitee gesê daar is twee soorte sogenaamde entstofhuiwering: “Die een is meer luiheid, waar mense dink dit is moeite om vir ʼn inenting te gaan.

“Dan is daar mense wat huiwerig is omdat hulle negatiewe boodskappe gehoor het, asook diegene wat bloot teen entstowwe gekant is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.