Regering ‘saboteer’ Metrorail

(Foto: Untu)

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, saboteer Metrorail deur hom te dwing om ʼn passasierspoordiens te bedryf sonder dat geld daarvoor verskaf word – wat weer beteken dis bykans onmoontlik vir administrateur Bongisizwe Mpondo om die rekeninge te betaal.

Dít volgens die vervoervakbond Untu, wat sê Vodacom het Dinsdagaand boonop sy kontrak met die Passasierspooragentskap (Prasa) opgeskort. Alle Vodacom-selfone, wat treindrywers gebruik om met sentrale beheerkamers te praat, is gevolglik buite werking, sê Steve Harris, algemene sekretaris van Untu.

Die selfone word gebruik wanneer treine mondeling gemagtig moet word.

“Treine sit vas tussen aansluitings en oorgange omdat die treindrywers nie toestemming kan kry om op hul roetes voort te gaan nie,” sê Harris.

“Dit veroorsaak ʼn lewensgevaarlike situasie vir die treindrywers en die metro se veiligheidswagte wat weereens deur skares woedende pendelaars as die sondaars beskou gaan word. Dit beteken ook duisende pendelaars wat landwyd op treine gestrand sit, is maklike teikens vir misdadigers wat baie goed weet hoe kwesbaar hulle is.”

Volgens Harris word daar normaalweg per radio tussen ʼn treindrywer en die sentrale beheerkamer gekommunikeer, maar die meeste treine en basisstasies se radio’s is stukkend.

“Treindrywers is beveel om hul private selfone te gebruik om magtiging te verkry, maar dit is teen een van Prasa se bedryfsreëls. As ʼn treindrywer sy of haar private selfoon gebruik aan stuur van ʼn trein, kan Prasa hulle van wangedrag aankla. Die situasie is onhoudbaar vir Untu se lede,” sê Harris.

(Foto: Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het twee maande gelede ʼn R1,4 miljard-inspuiting beloof om die sentrale spoorlyn in Kaapstad te herstel, asook ʼn verdere R1,4 miljard om die Mabopane-spoorlyn in Gauteng op te knap.

Harris sê Mbalula het ook beloof om enige administratiewe rompslomp te beperk sodat die administrateur vinnig kan optree. “Dit is van geen nut as die regering Prasa nie finansier nie. Die departement van vervoer het die afgelope twee jaar R9 miljard van Prasa se begroting gevat en dit aan die bankrot Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gegee om die e-tolstelsel, waarvoor motoriste weier om te betaal, te finansier.”

Harris sê toe die vakbond dié besluit bevraagteken het, is Untu ingelig dat Prasa nie sy begroting kan bestee nie. “Nou het Prasa ʼn administrateur wat die begroting kan bestee, maar daar is geen geld om die rekeninge te betaal nie.”

Hy sê daar is tot dusver ook nog geen teken van die nuwe veiligheidsmaatskappye wat veronderstel is om Prasa se werkers, pendelaars én die bates van dié staatsbeheerde onderneming te beskerm nie.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het ook nog nie ʼn verduideliking verskaf oor wat die doel van die spesiale spoorpolisiëringseenheid is nie, omdat dié eenheid nêrens naby treine, spoorlyne of ander bates te sien is nie, sê Harris.

Untu het ook die Spoorwegreguleerder – wat as waghond van spoorveiligheid in Suid-Afrika optree – gekap. Harris sê die reguleerder laat Prasa toe om pendelaars se lewe in dié omstandighede in gevaar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gawie ·

Wat ek nie verstaan nie – net meer as ‘n jaar terug was SAexpress se lisensie om te vlieg teruggetrek omdat hulle papierwerk nie in orde was nie, alhoewel daar op daardie stadium geen wesenlike veiligheidsprobleme ondervind is nie. Die BurgerLugvaartOwerheid het net sy voet neergesit.
Nou is daar by Prasa daagliks ernstige veiligheidsprobleme wat duidende mense se lewens ernstig in gevaar stel, maar die SpoorwegReguleerder doen niks.
Is dit dalk omdat die SpoorwegReguleerder niemand van formaat het om hom voor stok te kry nie, maar BurgerLugvaart deur IATA (International Air Transport Association) verantwoordelik gehou word.

Diertjie ·

Ja nee kyk “our people” het die laaste 26 jaar 1000e Kere bewys dat hulle nie bevoeg is om die land te regeer nie!! Al’s val uitmekaar!!

HOOP ·

En so val die instansies nog , dit was n lekker pad van ’94 af nou kom dit terug kader teen kader.Dis nie lank nie dan gaan die hare waai onder hulle.

Sarel ·

Kom nou Fikile Mbalula nou is mos tydcom jou krag te wys en of jy iets van ondergang kan red. Ek moet darem noem hierdieckerr het jy die gemors geerf en nie veroorsaak nie

Boertjie ·

Die enigste ding waaroor die ou Boertjie wonder, is hoe breek hulle daai radio’s. As die goed reg gebruik word, sal dit mos jare en jare kan hou. As mens die ding met respek behandel, sal hy mos hou. Of altans, dis wat my ma my geleer het.

Scalla ·

CR, as hoogs suksesvolle en vooruitstrewende sakeman en leier, erken tog die Anc het nie die bestuursvermoë nie, na 26 jaar is die bewys daar, tree drasties op, verwyder van jou comrades wat aangestel was en nie bevoeg is nie, ons gaan almal vrek van die honger, stel die land se belange eerste, staan nou jou man en wys jou stoffasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.