Regering se planne met inligtingstegnologie

Stella Ndabeni-Abrahams. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die regering het ʼn konsepplan aangekondig om inligtingstegnologie in die land te verbeter en die departement van kommunikasie dienooreenkomstig te herstruktureer.

Die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, het Dinsdag sleutelaankondigings daaroor gedoen tydens ʼn virtuele mediakonferensie in Pretoria, wat deur tegniese probleme gekniehalter is.

Ndabeni-Abrahams het nie veel praktiese inligting oor die uitvoerbaarheid van die plan verskaf nie.

Volgens haar het die wêreldwye aard van die koronavirus en die gevolglike inperkingsmaatreëls weer die wêreld se afhanklikheid van inligtingstegnologie bevestig, en dit is iets waaruit Suid-Afrika volgens die minister moet munt slaan.

Sy het Suid-Afrika se inligtingstegnologiesektor bedank vir die bydrae wat tydens die grendelstaat gemaak is tot bekostigbare data deurdat verskeie dienste gratis verskaf is.

Voorts het sy reguleerders gekomplimenteer met die rol wat aanlyn onderrig dus tydens die grendelstaat kon speel.

Die doel van die regering se inligtingstegnologie-konsepplan is om Suid-Afrika ʼn produseerder eerder as ʼn verbruiker van inligtingstegnologie te maak.

Voorstelle in hierdie verband is velerlei, waarvan opleiding van Suid-Afrikaners vir inligtingstegnologie-gedrewe werkgeleenthede een is.

Voorts wil die staat in samewerking met die private sektor ʼn Instituut vir Kunsmatige Intelligensie op die been bring.

ʼn Derde doelwit is om gevorderde inligtingstegnologie-vervaardiging te stimuleer ten einde die werkgeleenthede te skep waarop die vierde industriële rewolusie na verwagting sal berus.

Vierdens wil die regering hê Suid-Afrika moet spesifiek fokus op databeveiliging as spesialiseringsgebied.

Van die produkte wat Ndabeni-Abrahams wil hê die land moet vervaardig, sluit kamerafone, sagteware, tablette en TV-stelle in, sodat Suid-Afrika bestand kan wees teen ʼn handelsoorlog tussen die Ooste en die Weste waarin die strydendes wedersydse gebruik van mekaar se tegnologie verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kerneels ·

Hoe uiters ironies dat die minister van kommunikasie se virtuele mediakonferensie deur tegniese probleme gekniehalter is.

Kokerboom ·

Ek wil nie negatief wees maar as die regering van die dag sulke ambesieuse planne (wat in beginsel goed is) aankondig dan rys my hare wetende dat bedrog, korrupsie en kaderbevoordeling weer hoogty gaan vier!!!Sulke inisiatiewe moet ASB aan privaatsektor gelos word.

Johanncb ·

Die regering wil inligtingstegnologie opgradeer, maar hulle kan nie eens basiese instandhouding, soos infrastrukteer, doen of opgradeer nie!

Johnny ·

Instituut vir Kunsmatige Intelligensie? Is dit nou vir die kaders omdat hulle nie natuurlike intelligensie het nie?

Strandloper ·

Net nog n geleentheid om geld te laat verdwyn. Glo nie iemand sal die All Now Criminals ooit kan vetrou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.