Regering se planne vir twee nuwe universiteite vorder

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die departement van hoër onderwys en opleiding se planne om twee nuwe universiteite te bou blyk ál meer van ’n realiteit te word.

ʼn Uitvoerbaarheidstudie van R6 miljoen word tans gedoen oor die grootte en vorm wat hierdie twee instellings gaan aanneem, het minister Blade Nzimande Dinsdag bevestig.

Die kabinet het reeds die oprigting van die Universiteit van Wetenskap en Innovasie in Ekurhuleni – die enigste metro tans sonder ’n universiteit – en die nuwe sogenaamde polisie-universiteit in Hammanskraal goedgekeur.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy regering se planne vir twee nuwe universiteite reeds twee jaar gelede tydens sy staatsrede voorgelê.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor basiese onderwys, sê nou die twee nuwe universiteite kan ’n groot aanwins vir die land wees, mits dit reg geïmplementeer word.

“Daar is baie in hoër onderwys om te kritiseer,” sê Boshoff. “Die swak bestuurde en oorhaastig uitgebreide Nasionale Finansiële Hulpskema (NSFAS) is sekerlik die belangrikste. Die nuwe universiteite, spesifiek met betrekking tot die aard van wat beplan word, kan egter uiters nuttig wees,” meen Boshoff.

Hy benadruk dat daar sedert 1994 slegs twee nuwe universiteite op die been gebring is: die Universiteit van Mpumalanga in Mbombela en die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley.

“Intussen neem die vaardigheidstekort sowel as werkloosheid onverpoosd toe.

“Terwyl sekere gevestigde universiteite eenvoudig nie hul probleme rakende akademiese – en finansiële bestuur te bowe kom nie, vaar die universiteite in Nelspruit en Kimberley besonder goed. Dit sal dus verstaanbaar wees as die departement se strategie is om sulke suksesverhale te herhaal, totdat van die wanfunksionele universiteite ontbind kan word.

“Die probleem lê egter, soos altyd, in die implementering,” sê Boshoff. “Mits dit deeglik dopgehou word, is die twee nuwe universiteite potensieel ʼn groot aanwins vir Suid-Afrika.”

Boshoff meen die naskoolse onderwyslandskap is stadig besig om van die chaos te herstel wat die FeesMustFall-veldtog en die voormalige minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, Kadar Asmal, tydens sy destydse termyn berokken het.

Boshoff beklemtoon dat ʼn mens in gedagte moet hou dat Asmal tydens sy termyn kampusse wat lewensvatbaar was en selfs gefloreer het, gedwing het om met ander saam te smelt om minder dog groter universiteite te vorm.

Dit sluit in onder meer die samesmelting van Unisa en die destydse Technikon van Suid-Afrika. Dié samesmelting was volgens Boshoff nie suksesvol nie met die voortslepende administratiewe krisis by Unisa wat grotendeels aan die samesmelting toegeskryf kan word.

Volgens hom was “die fokus en korporatiewe kultuur van die instellings so ver van mekaar verwyder dat samesmelting geen goeie gevolg kon hê nie”.

Só lyk Nzimande se planne:  

Nzimande het Donderdag gesê sy departement beplan om bestaande fasiliteite by Giyani in Limpopo op te knap. Die Tshwane Universiteit van Tegnologie sal na verwagting in die toekoms die fasiliteite benut indien die uitvoerbaarheidstudie die gebruik van hierdie fasiliteite ondersteun.

Intussen is die departement besig om nuwe infrastruktuur vir ʼn reeks TVET-kolleges regoor die land te implementeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

007 ·

Gaan leer by Soltek en Akademia. Dan kan julle sien wat word met geld gedoen. En ook hoe dit bedryf en bestuur word.

Ilze ·

Dit sal seker gratis wees. Blatante verkiesings liegstories vir 2024

Anel ·

En wat gaan dit kos en hoe lank gaan hulle bou? En waar gaan die geld vandaan kom? Dis lekker om te droom!!!

Witbaard ·

Los dan die Afrikaanse Universiteite wat onsself opgebou het uit.

Anonymouse ·

Ai die kommenaar op Maroela Media. Al wat Afrikaners doen is kla, kla, kla. G’n wonder niemand luister eers meer na ons nie. Hierdie 2 universiteite is ‘n goeie ding. Al opinie wat ek kan gee as dat ek hoop ‘n paar ambagskole volg ook. Want soveel as wat ons almal betaal vir NSFAS, soveel meer betaal ons vir werkloosheid en al die dinge wat daarmee gepaard gaan.

annie ·

Het polisie-opleiding ‘n universiteit nodig? Afrika hou nie van die terme universiteit en technikon nie. Dit is nie grênd enoeg nie. Maar om grootsheid aan ‘n paar lesings en baie sertifikate te verleen en die uitkoms is dieselfde, is effe oordrewe.

Bertie ·

Ons eet mos nou al hierdie nuwe universiteite gaan nie reg geïmplimenteer word nie.

JohanR ·

Kon nog nooit verstaan hoekom almal wil universiteit toe gaan. By die tyd dat daai universiteit by my IT werkplek aangekom het met sy graad, het ek al 4 jaar van regte eigte ondervinding gehad. Hy moes nog rondvroetel vir die ondervindig, en ek het toe eintlik sy baas geword sonder ‘n universiteit stukkie papier.

Di ·

NET SO! Baie het die papiere maar as dit by praktiese uitvoering kom van die take het meeste van hulle nie ‘n IDEE wat om te doen. Dan moet daar fisiese opleiding verskaf word voordat die geleerde op die ou einde sy werk kan doen. Praat veral in die IT omgewing

Jaco ·

Maar niemand wil jou ook werk gee sonder opleiding en ondervinding nie (dit kry jy net as jy die “regte” velkleur het).

Samuel ·

Ek hou nie my asem op nie. Was daar al ooit iets wat die ANC behoorlik kon bestuur?

Marius ·

Die kaders moet eers gaan leer hoe dit te gedoen word met minder as die oorspronklike kostes en tyd.

Saartjievandiebosveld ·

Rerig…moet hulle geglo word. Verkiesings foefie

Johan ·

Ag asseblief tog. Nét verkiesings foefies en populistiese broodjies bak.

Pieter9 ·

Sal jy jou Sertifikaat by een van die 2 Universiteite wil verkry? Dink Fort Hare, Walter Sisulu… wat gaan jou kwalifikasie werd wees.

Yvonne ·

O wee my hier kom nog n stelery en gemors….kan nie eers die wat daar is onderhou en bestuur nie……sterkte……hou maar die vuurhoutjies dop

Esme ·

Minister Blade, onthou asseblief om brandblussers in te sit. Alles in Suid-Afrika het ‘n geneigdheid om aan die brand te raak. Reserveer asseblief die twee nuwe Universiteite sodat julle nie julle neuse by Soltek en Akademia indruk nie.

Veronika ·

Bou liewers nog tronke as universiteite vir julle se mense om af te brand ……

Blikkies ·

Behalwe vir die twee instansies na 1994. Wat ‘n klomp Bol…….om net die studie te doen kos ‘n allemintige R6 Miljoen. Ek dink toe Solidariteit Soltec begin bou het, het die ANC dieselfde tyd skynbaar ‘n skool gebou. Toe Soltec al studente kwalifiseer en uitstuur, toe is daai grond waar die ANC se skool moet staan nog net dit wat hy was, ‘n stuk oop erf. Dept. Onderwys het dan al R550 Miljoen rand geblaas op onreëlmatige uitgawes wat bedoel was vir skole in die Oos Kaap, met die klem op onder andere. Wat laat hierdie spul nou dink hulle kan sommer gou een, Nee Twee Universiteite bou, wat al twee jaar gelede ter tafel gelê was!! hulle kan dan nie eers een nuwe skool klaar bou nie? Dit gaan nooit gebeur nie en lippe taal om stemme te werf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.