Regering skuil agter pandemie oor salarisooreenkoms – onderwysvakbond

(Argieffoto: Facebook)

Die onderwysvakbond Sadtu beskuldig die regering daarvan dat hy die Covid-19-pandemie gebruik om nie ʼn salarisooreenkoms wat reeds in 2018 oor staatsamptenare se verhogings aangegaan is, na te kom nie.

Die ooreenkoms bepaal dat staatsamptenare vir drie agtervolgende jare ʼn salarisverhoging sal kry wat meer is as inflasie, maar die regering sê nou hy kan dit nie bekostig nie.

“Die regering het versuim om deur sy voorbeeld leierskap te toon om grondwetlike verpligtinge na te kom,” lui ʼn beëdigde verklaring van Sadtu wat by die arbeidshof ingedien is.

“Hy kom nie na die hof met skoon hande in pogings om die Grondwet te handhaaf nie. Ten spyte hiervan wil die regering hê die hof moet hom help om die wetlike verpligting wat hy vryelik en bewustelik in goeie gees aangegaan het, te vermy.”

Die vakbond het die regering gekap wat nou aanvoer dat die Covid-19-pandemie gedeeltelik die rede is vir waarom hy nie by die ooreenkoms kan nakom nie.

Sadtu hou vol die regering was bewus van die heersende ekonomiese situasie toe hy die ooreenkoms goedgekeur het.

“Gevolglik kan hy [die regering] net die aanpassing van die tydsraamwerk waarbinne die verpligtinge nagekom moet word, aanpas – hy kan nie heeltemal vrygestel word van die uitvoering daarvan nie.”

Sadtu het ook ʼn voorstel deur die direkteur-generaal van die nasionale tesourie, Dondo Mogajane, dat die regering gedwing is om die ooreenkoms aan te gaan, verwerp.

In Julie het Mogajane gesê staatsamptenare het gebaat by dekades van salarisverhogings wat meer as inflasie is en veel meer is as wat diegene in die private sektor kry. Hy het gesê die jongste ooreenkoms is nie volhoubaar nie, veral omdat die regering weens die gesondheidskrisis gedwing word om bykomende geld te bestee om kwesbare groepe te beskerm.

Sadtu sê egter Mogajane is nie ʼn kabinetslid nie en was ook nie ʼn lid van die onderhandelingsproses nie – en moet dus nie uitsprake maak oor kabinetsbesluite nie.

Die vakbond het gesê dit is skokkend om jou voor te stel dat die kabinet gedreig is om die verhogings goed te keur.

“Die kabinet het die aanbod gewillig gemaak en was deeglik bewus van die grondwetlike verpligtinge,” voer Sadtu aan.

Die regering moet teen 28 September sy beantwoordende verklarings by die hof indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andre ·

Ja almal soek verhogings en niemand kan kry nie.In die regering se geval is dit egter duidelik dat die geldjies klaar is.Die regring het nog net versuim om vir our people te sê dat hulle SASSA toelae en die staatsdiens dalk binnekort nie meer so maklik betaal gaan kan word nie.

annie ·

Die pandemie was onvoorsiens. Mens sou dink dat die onderwysers wat vir maande die minimum gewerk het en baie wat steeds in hul pajamas onderrig gee… gaap-gaap… begrip sou hè vir die ekonomiese krisis en benarde landsfinansies en dankbaar wees vir ‘n werk/salaris, maar nee.

Chanel ·

Ons het steeds gewerk… Laat nagte gesit en aanlyn lesse opstel… So asb tog maak seker van jou feite voor jy onderwysers aanvat… Eks seker jou kind se onderwysers het uit hul pad gegaan om hulle te help. Of het hulle ook by die huis gesit en niks gedoen nie…. Hê ook net bietjie respek vir onderwysers…. As dit nie vir hul was nie sou jy ook nêrens wees vandag nie.

Vanessa ·

Annie, ek persoonlik is nie ‘n onderwyseres nie, maar ek moet sê hulle het uit hul pad gegaan om my kind steeds “online” te onderrig. Ek stem saam jou dat daar wel staatsamptenare was wat gesit en niks doen het, maar vol salaris ontvang het, maar die onderwysers was definitief nie een van hulle nie.

Eiervrug ·

Bedank dan, en gee jou CV by ‘n ander Company in. Kyk hoe vêr kom jy…. As jy ongelukkig is, bedank. Maak ‘n plan. Hou net om altyd met ronde hande te sit en kla…..

Nie Verbaas ·

Dit is verbasend hoe sekere mense nie die vermoe besit om basiese logika toe te pas nie. Waar dink die spulletjie gaan die bankrot regering die geld vandaan kry? Net nog n resultaat van verlaagde slaagsyfers?

Jaco ·

Die vakbond sê die regering het geweet van die ekenomiese toestand. Maar ongeloofik het die vakbond nie. Hulle is net so skuldig om vir verhogings te vrae wat meer is as inflasie.

Oros Soros ·

Die ongelooflike arrogansie van die regering gaan hom kom byt. Hoe gee jy alreeds vir ‘n beduidende deel van die staatsdiens ‘n verhoging, maar skuil nou agter ‘n ramp wat jyself geskep het? Hoeveel geld in SAL en Eskom vermors? Hoeveel inkomste prysgegee met die onsinnige inperkings op tabak en so aan? Die moeder van alle stakings is aan die broei en gaan kom. Die houding van “my woord is wet en basta” klink meer na 1922 en die mynstaking. Die regering saai wat hy gaan maai: “Chaos”.

Magda ·

Regtig – Daar is NIE geld nie, en baieieieiei mense moet klaar kom met minder as die minimum, salaris verhogings is NOU die laaste ding wat op n lys of glad nie eers op enige lys geplaas moet word nie. Wees bly julle het nog werk, wat in elk geval soos 7999/**9799 gedoen word.

Charles ·

Die staat in geheel moet maar eers terughou met hul verhogings eise, die privaatsektor het in die algemeen n baie groter verlies gely as enige staatsampternaar, nou gaan dit oor opstaan en probeer red wat te redde is om die korrupsie foos ekonomie te probeer “kickstart”

Jacobus ·

Algemene stelling – die regering steek baie dinge weg agter die sg pandemie.

Casper ·

Het die regering geweet covid 19 Kom.Nee.Hoelank was skole gesluit wat onderwysers nie gewerk het nie.Daar is nog staatsdepartemente wat aflospersoneel gebruik maar almal kry vol salarisse.Ja daar is baie tender bedrog gepleeg en korrupsie.Die WVF is inwerking gestel om honger onder mense hok te slaan.Toelaes is verhoor en Groot bedrae geld moes aan gesondheidsdienste verskaf word.Het die staat regtig geld vir verhogings.

Anel ·

Nou sê hulle die regering het geweet van die finansiëlie probleme en is nie gedreig nie. Hulle het geweet daar is nie geld nie maar hulle is wel gedreig. Die vakbondlede het dan gestaak of word daarvan vergeet? Dis mos al wat our people kan doen om hul sin te kry. En dit gewoonlik net voir die eksamens. Nou het our people onderwysers by die huis gesit en klomp verskonings aangebied hoekom hulle nie kan werk nie. Het volle salarisse gekry vir niks doen en nou wil hulle verhogings hê! Ek dink baie van hulle sit nog steeds by die huis terwyl blanke onderwysers hulle dood gewerk het om kinders op standaard te hou. Kyk maar na die uitslae aan die einde van die jaar en dan sal ons sien wie verdien die verhoging. En dan, wat hulle dalk gerieflikheidshalwe vergeet het, is daar mense in die privaatsektor wat alles verloor het. So daar is nie ekstra belasting om vir die staat te gee nie. Kom net by.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.