Regering maak gereed vir vlak 3

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Nog kwarantynfasiliteite word inderhaas ingerig, hospitale word opgeknap en ventilators en maskers word nou plaaslik vervaardig, ingeval die aantal Covid-19-gevalle skerp toeneem met die inwerkingtreding van vlak 3 van die afsonderingstydperk. Sowat 8 miljoen mense in Suid-Afrika sal na verwagting eerskomende Maandag terugkeer werk toe wanneer dié vlak ingestel word.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het Vrydagmiddag gedurende ’n virtuele mediakonferensie gesê haar departement het 1 751 fasiliteite, waarvan 642 in staatsbesit, geïdentifiseer wat voortaan vir kwarantyndoeleindes gebruik sal word.

Altesaam 358 van dié fasiliteite is in die Wes-Kaap geleë wat tans die episentrum van die nuwe koronavirus in Suid-Afrika is. Altesaam 27 500 bykomende beddens is dus nou vir kwarantyndoeleindes in dié provinsie beskikbaar gestel.

Volgens De Lille sal 129 600 beddens oor die hele land beskikbaar gestel word vir diegene wat in kwarantyn geplaas word, asook diegene wat gerepatrieer word en onder verpligte kwarantyn geplaas moet word.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die minister het ook gesê 31 hospitale in die Oos-Kaap en 19 hospitale in KwaZulu-Natal sal opgeknap word terwyl tien instellings in Mpumalanga reeds geïdentifiseer is wat as veldhospitale gaan dien.

Kaapstad se Internasionale Konvensiesentrum gaan ook in ’n veldhospitaal vir die Wes-Kaap omskep word en strukture sal in Noordwes opgerig word vir mediese doeleindes, het De Lille gesê.

Maskers, ventilators

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het gesê meer maskers gaan benodig word noudat al hoe meer Suid-Afrikaners terugkeer werk toe. Die regering maak tans gebruik van plaaslike vervaardigers om chirurgiese maskers te verskaf.

Volgens Patel is is 25 miljoen chirurgiese maskers gedurende Mei vervaardig. Daar word nou verwag dat nog 31 miljoen chirurgiese maskers gedurende Junie vervaardig sal word. Dit beteken dat sowat 1 miljoen maskers elke dag plaaslik vervaardig word.

Die regering beoog om ook van plaaslike vervaardigers gebruik te maak om ventilators te vervaardig.

Volgens Patel sal drie prototipes van ’n ventilator binnekort gefinaliseer word waarna die vervaardiging van ventilators in Junie sal begin. Daar word verwag dat 20 000 ventilators teen Augustus plaaslik vervaardig sal word, het hy gesê.

Die werkplek

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, het gesê Suid-Afrikaners sal vanaf Maandag toegelaat word om terug te keer werk toe mits die nodige veiligheidsmaatreëls by die betrokke werkplek ingestel word. Dit sluit in ’n Covid-19-veiligheidsplan en die aanwys van ’n beampte wat leiding onder werknemers sal neem om te verseker daar word aan die nodige maatreëls voldoen.

Werkgewers mag egter hoegenaamd nie die koste verbonde aan die instel van dié maatreëls van werknemers se salarisse aftrek nie, het Nxesi gesê.

Sou ’n werknemer gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk positief toets vir Covid-19, moet die werknemer onder verpligte kwarantyn van 14 dae geplaas word met betaalde verlof.

Volgens Nxesi mag werknemers weier om terug te keer werk toe indien hulle redelike regverdiging kan toon dat hulle by die betrokke werkplek aan Covid-19 blootgestel gaan word.

Werknemers ouer as 60 jaar, asook diegene met bestaande mediese toestande, word versoek om van die huis af te werk. Diegene wat in dié stadium van die huis af kan werk, word ook versoek om dit te doen.

Die betrokke ministers gedurende Vrydagmiddag se mediakonferensie. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die dra van maskers in die werkplek is verpligtend. Werknemers moet elkeen minstens twee gratis maskers ontvang.

Volgens Nxesi het sy departement Maandag 72 werkplekke besoek om vas te stel of hulle gereed is om bedrywighede te hervat met die nodige veiligheidsmaatreëls. Altesaam 44 van die werkplekke het nie aan die maatreëls voldoen nie.

Altesaam 44 van 72 werkplekke wat Maandag nagegaan is om te verseker dat hulle gereed is om oop te maak, was nie gereed nie. “Niemand van ons is immuun nie en elke poging moet aangewend word om die veiligheid en gesondheid van werknemers te verseker,” het die minister gesê.

Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)

Volgens Nxesi het die Werkloosheidsversekeringsfonds tot op hede reeds R15 miljard aan 3 miljoen begunstigdes uitbetaal. Die WVF verwag egter nou om onder minder druk te verkeer aangesien baie Suid-Afrikaners gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk sal terugkeer werk toe.

Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die departement van arbeid se kantore gaan nie Maandag oop wees soos beplan nie, maar eerder eers op 8 Junie. Dit is omdat verskeie werknemers nog opgelei moet word.

Minerale en energie

Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, het op sy beurt gesê die vraag na elektrisiteit sal toeneem te midde van die heropening van die ekonomie. Suid-Afrika sal ook aanvanklik lae dieselvoorrade beleef totdat raffinaderye weer genoeg diesel kan produseer.

Myne sal na verwagting teen volle kapasiteit gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk bedryf kan word. Mynwerkers se veiligheid en gesondheid behoort egter voorkeur te geniet, het die minister gesê.

Volgens Mantashe het sy departement teen Donderdag meer as 4 600 mynwerkers vir Covid-19 getoets van wie 384 positief getoets het. Meer mynwerkers sal nou nagegaan en getoets word vir die nuwe koronavirus wanneer vlak 3 ingestel word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

RB ·

Julle is so reg hiervoor soos die man in die maan vir ‘n sonlanding is!
Julle het julself telkemale as leuenaars bewys.

Tyd sal leer nè!

Alleen Wolf ·

Hulle gooi maklik die syfer van agt miljoen mense wat Maandag gaan terugkeer werk toe rond, wat hulle buite rekening laat, hierdie wetenskaplik goed ingeligte spul narre, is daar gaan baie werknemers voor ‘n toe deur staan Maandagoggend, BESIGHEID BESTAAN NIE MEER NIE.
My hart bloei vir ons blankes wat hierdeur geraak word, maar die wiel draai, geregtigheid het ‘n manier om jou by te kom op sy tyd.

Fedup ·

If i could sound extremely sincere in congratulating the circus for the level 3 move, i would.
But.
I won’t, as sincerity is not in my dialect for stupidity.

Willem ·

Maak reg vir wat ons is lankal op vlak 2 die people steur hul nie aan die vlak ding nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.