Regering soek akkommodasie vir SA’ners van China

Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die regering is tans besig om gepaste verblyf te soek vir die 184 Suid-Afrikaners wat uit China teruggebring word. Dit is sodat dié groep onmiddellik in kwarantyn geplaas kan word.

“Die regering is besig om behoorlike verblyf reg oor die land te soek. Dit sluit in hotelle, wildreservate en alle oorde op afgeleë plekke. Die proses is amper voltooi,” sê Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Die Suid-Afrikaners sal in kwarantyn geplaas word onmiddellik ná hul aankoms in die land. Die minister het landsburgers verseker dat die gekose fasiliteit oor baie streng militêre beveiliging sal beskik. “Dit is een van die maatreëls wat ons tref om te verseker dat persone wat naby hierdie gebied woon, nie blootgestel word aan die mense in kwarantyn nie,” sê Mhize.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede naweek aangekondig dat die regering Suid-Afrikaners uit China gaan verwyder nadat die gevreesde koronavirus (Covid-19) in Desember daar uitgebreek het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het verlede week bevestig dat hy deel vorm van die proses om Suid-Afrikaners uit Wuhan te verwyder. Mediaberigte het egter beweer dat die proses vertraag word omdat geen weermaglede dit in China wil waag nie. Die weermag het nog nie op dié bewerings gereageer nie.

Maroela Media het verlede week berig dat die vliegtuig reeds regstaan om die Suid-Afrikaners huis toe te bring. Mkhize het herhaal dat dié wat teruggebring word, geen teken van die virus toon nie.

Twee gevalle van Covid-19 is reeds die afgelope week in Suid-Afrika aangemeld.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Werner ·

Dis nou hoe wonderlik voorbereid hulle is hoor dink hierdie land is al vrot vd virus kan nie sien hoe dit anders sal wees met hierdie onbevoegde spul nie

Johan Venter ·

Die Sjinese het ‘n volledige hospitaal binne week of twee gebou. Ons weet mos nou la langer as dit van die bedreiging.

Mikki ·

Gaan daar maklik n Hotel, Oord of Wildsplaas op n verafgeleë plek gevind word wat bereid is om die kwarantyngroep te huisves? Wat van die personeel en werkers?

Johan Venter ·

Ek lees nou in Rapport: 16 m. Italianers oornag in kwarantyn weens virus

Lorna ·

Weermag is BANG OM CHINA TOE TE GAAN
okay ek is ook bang maar ek is nie die weermag nie
Wys net hoe hul opgelei is

Rooikoos ·

Hulle sal seker dan ook bang wees om die land te verdedig.

Anel ·

Ek was onder die indruk dat so plek klaar gereed gebring is en dat hulle net wag vir die mense se koms. Nou wonder ek of staan die vliegtuig regtig gereed om te vlieg en is dit maar weer ‘n storie nie! In hierdie land is sien glo. Nie glo sonder om te sien nie. En dat die klomp weermaglede nie wil vlieg nie, glo ek ook. Jammer hulle kan nie meer.met krygshof gedreig word nie want dan tas jy seker hul menswaardigheid aan. Wat kan mens nog meer sê? Ek is seker dat daar soveel mense die virus het of gaan kry en dat ons nooit sal weet nie. Mense sal doodgaan van longontsteking en intussen het hulle die virus. Wag maar tot dit winter word.

Johanncb ·

Het die Regering dan nie gesê hulle is slaggereed vir enige gebeure nie? Vra maar net!

Gypsygirl ·

Johann, die regering slaggereed vir COVID-19, wonder ek ook, na Polony verwoesting gesaai het.

Jax ·

Niemand in hierdie land is voorbereid op hierdie virus nie! Die publiek is die ergste! Mense se onkunde gaan hulle duur te staan kom

Elize ·

En die regering het bly lieg om te se ons is gereed…… Wat n joke

Magda ·

hahaha – soek akkommodasie – julle paleise van huise is so groot – elke Parliaments lid neem so paar in!!!!!!!!!! Ons betaal in elk geval daarvoor en ek dink dit is tyd dat ONS wat betaal vir julle verblyf n se het – Laai hulle by julle huise af as dit NIE so erg is nie – Minister van “WAT” wonder ek ook??

lollapot ·

Veiligste blyplek is by die top 6 van die regerende party! waar wil jy veiliger kry?

Moedeloos ·

Tygerberg Hospitaal het klomp sale wat leeg staan en vergaan. Maak dit die isolasie sale en kry oor die hele land personeel wat vooraf gemasker is die lot en laat net hulle net met hierdie pasiente werk. Helikopter kan land by Tygerberg. Die vlugpersoneel kan vooraf ook goed gemasker en bedek word. Jul planne moes al lankal inplek gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.