Regering soek kerkgangers wat Bloem-diens bygewoon het

Dr. Zweli Mkhize (Foto: Twitter)

Met die Suid-Afrikaanse korona-infeksiekoers wat teen elfuur Maandagaand op 554 mense gestaan het, het die regering ’n soektog begin na almal wat ’n kerkbyeenkoms voorverlede naweek by die Divine Restoration Ministries in Raymond Mahlabastraat, Bloemfontein, bygewoon het.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het aangekondig dat die sowat 200 mense wat die geleentheid bygewoon het waar die prediker Angus Buchan en die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, ook teenwoordig was, hulself dringend moet aanmeld om vir die koronavirus getoets te word.

As hulle dit nie doen nie, gaan die regering hul name publiseer ten einde hulle op te spoor.

Wat voedselsekerheid betref is daar genoeg kos in die land en paniekaankope is dus onnodig, het die minister van landbou, Thoko Didiza, gesê.  Sy het boere en plaaswerkers spesifiek vir hul insette bedank.

Soos landbou-unies het die minister gesê Suid-Afrika het voedselsekerheid, en dat voedselvoorsiening voortgaan, met die verskaffing van groente en vleis as prioriteit.

Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, het gesê onderhandelings tussen die regering, sakeleiers en vakbonde by Nedlac gaan voort, en finaliteit behoort môre bereik te word.

Hulp sal uit die Werkloosheidsverskeringsfonds verleen word aan ondernemers en werknemers wat hul werk verloor, en diegene wat die koronavirus opdoen, sal uit die Vergoedingsfonds gehelp word.

Ebrahim Patel Donderdag by die mediakonferensie in Pretoria. (Foto: Twitter)

Hoewel presiese besonderhede, bedrae en getalle eers Donderdag sal volg, het Nxesi werkgewers daaraan herinner om die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid na te kom.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het R3 miljard se hulp van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) aangekondig om kwesbare maatskappye in sleutelbedrywe te help.

Hy het gesê elf firmas word tans ondersoek dat hulle pryse op wederregtelike wyse buitensporig verhoog het. Enigeen met inligting oor sulke gevalle kan 0800 014880 skakel. Kwaai boetes van tot ’n miljoen rand kan opgelê word.

Suid-Afrikaners is ook vermaan om die Staatskoerant fyn dop te hou om te weet wat hulle mag en nie mag doen nie.

Een van die bedrywe wat voluit vorentoe beur, is visserye, het die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, gesê. Alle visvangpermitte wat binne die volgende drie maande sou verval, hoef nie vir die volgende drie maande hernieu te word nie.

Sy het die versekering gegee dat veldwagters sal voortgaan om stropery te bekamp en die land se wild teen stropers te beskerm.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Nicole

“Opgewonde” om te hoor dat ons boere sommer nou bedank word vir die kos wat hulle verskaf!! Wow!!! Wonder of die moorde nou sal afneem tydens die 21 dae “lockdown” tydperk??? ????