Regering staan in pad van nog kragopwekking

André de Ruyter, hoof van Eskom. (Foto: ANA)

Die hoof van Eskom het vandeesweek opnuut en herhaaldelik benadruk dat burokratiese rompslomp, wat ʼn hindernis is om bykomende krag by die bestaande netwerk te voeg, so gou moontlik uit die weg geruim moet word.

“Eskom formuleer nie beleid nie; Eskom stel beleid in werking,” het André de Ruyter Woensdagoggend by ʼn vergadering oor die stand van die netwerk gesê.

Fase 4-beurtkrag geld tans steeds, met die moontlikheid dat dit Donderdag na fase 3 afgeskaal en teen die naweek opgeskort kan word, terwyl Eskom sukkel om met sy verouderde toerusting die land se ligte aan te hou.

De Ruyter sê daar moet dringend oorgeskakel word na groener en skoner energie deur beduidende belegging in die opwekking van wind- en sonkrag en natuurlike gas toe te laat. Hy sê die hulpbronne wat nodig is om Eskom se vloot steenkoolkragsentrales ten volle te herstel, gaan ongelooflik baie tyd en geld kos – en dat dit eerder bestee moet word om nuwe opwekkingsmoontlikhede te ontsluit.

De Ruyter het gister gesê alle hindernisse om nuwe kapasiteit by die netwerk te voeg, moet so gou as moontlik verwyder word. Hy sê die regering is deegliks bewus van die behoefte aan dringendheid, asook die stappe wat gedoen moet word om die krisis op te los.

“Beurtkrag kan net gestuit word as ons bykomende opwekkingskapasiteit by die netwerk voeg. Ek sê dit sedert ek in Januarie 2020 by Eskom aangesluit het en dit duidelik vir my was dat die enigste permanente oplossing tussen 4 000 en 6 000 MW nuwe kapasiteit is.”

Hy sê Eskom het self al verskeie stappe gedoen en projekte van stapel gestuur om bykomende kapasiteit moontlik te maak. Slegs deur bykomende kapasiteit by die stelsel te voeg, sal Eskom ruimte hê om behoorlike instandhouding te doen.

“Om die tekort in opwekkingvermoë te bowe te kom, kan verskeie stappe gedoen word om nuwe kapasiteit by die netwerk te voeg. Oor die afgelope agt jaar, sedert 2014, is geen nuwe verkryging of opwekkingskapasiteit egter voltooi nie.”

Tussen die departement van minerale hulpbronne en energie, asook die Nasionale Energiereguleerder, word daar egter op talle fronte gesloer om projekte deur te voer.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê Eskom se frustrasie wys opnuut dat die regering nie aan kragverskaffing toegewyd is nie soos wat ekonomiese groei vereis nie.

“Die waardevolste stap wat binne die staat se vermoë is, is om die mark vir elektrisiteit te dereguleer en administratiewe rompslomp te verwyder,” sê Boshoff.

Hy meen Suid-Afrikaners moet maniere vind om self in hul elektrisiteitsbehoeftes te voorsien.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, moet ʼn moratorium op die moeilike regulasies plaas wat onafhanklike kragopwekking in die land onmoontlik maak.

“Suid-Afrika gaan sukkel om die beurtkrag-nagmerrie betyds te pak as die elektrisiteit-ekostelsel, bestaande uit reguleerders en beleidmakers, deurlopend sukkel met ʼn gebrek aan dringendheid om regulatoriese hindernisse vir onafhanklike kragverskaffers (IPP’s) te verwyder,” sê Mileham.

“Suid-Afrika moet dit maklik – nie moeilik nie – maak vir IPP’s om nuwe krag op skaal en in die kortste moontlike tydperk te produseer.”

Mileham sê dit is skandelik dat kontrakte wat IPP’s sal toelaat om onbeperkte krag in die netwerk te voer nog nie gewysig is nie. Bestaande onafhanklike kragverskaffers kan tot 200 MW bykomende krag by die netwerk voeg – mits hulle toegelaat word om hul kapasiteit uit te brei.

“Regulatoriese besluite staan egter in die pad.”

Mileham sê Mantashe en die kabinet moet in die nasionale belang optree en ʼn moratorium op onnodige regulatoriese vereistes plaas, of moet uit die pad staan en provinsies en munisipaliteite wat die hulpbronne en kapasiteit het, toelaat om self in hul kragbehoeftes te voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

PieterJ ·

Regering staan in die pad van alles wat goed is vir ons land.

Yvonne ·

Pieter jy praat die waarheid….dit is buite hulle vermoe om regte en beste besluite te neem

Henri ·

Die Eskomedie is nie meer snaaks nie. Hulle moet wind blaas in blink idees, maar sê eksdom as ek nie bly is oor vlak 3 beurtkrag nie. Ek praat nie eers van die cANCer en hulle kadawers nie…

Papsak ·

Asb laat die regering uit ons land se pad staan laat privaatsektor krag oor vat dan sal krag probleem op gelos word regering staan in weg vir alles in die land daarom le ons in grond weg gesak deur regering

Marius ·

Al wat vir die regering belangrik is om te kyk waar hul nog meer geld uit die belasting betalers kan trek.

marius ·

Verouderde toerusting se voet . Medupi is splinternuut en ‘n totale gemors . Jou verskonings is tiperend van hierdie spul plebejagters . Julle SAL NIE want jule KAN NIE want julle WIL NIE . Dis die waarheid .

Althes ·

Ten minste is hy eerlik oor die stand van sake. Hy het ñ hoop gemors om op te ruim na staatskaping, nepotisme en wanbesteding, luiheid en onbevoegdheid van vorige hoofde.
My innige simpatie aan hom en Jan Oberholzer

Frank ·

Jy sal die duiwel laat trots voel oor jou definisie van die waarheid en verdraaiing van feite

Johann ·

Die bankrot ANC sal eers mooi seker maak hulle sakke is vol VOOR hulle die land se krag krises aanspreej.

Werner ·

Ons kan nie, en jy mag nie. Net met n goeie skoot Afika-logika kan mens dit verstaan

Di ·

Hierdie korrupte regering wil niks goedkeur om vooruitgang in die land te laat gebeur nie. Ek het self die TV onderhoud gekyk waar De Ruyter lank terug al gewaarsku het dat hierdie ons voorland gaan wees as die Regering nie die nodige veranderinge goedkeur nie wat skynbaar al BAIE lank terug aan hulle voorgele is. Die Regering moet nou pa staan vir die gemors waarin ons is, hulle WIL NIE luister nie. Hulle moto is totale verval, wil nie geld uithaal op noodsaaklike dinge nie want dan is daar minder om mee korrupsie te pleeg.

Johan ·

Dit is asof die cANCer dit met opset doen. Asof hul die ekonomie wil vernietig. Van die os na die jas, ek weet van n kontrakteur wat tot by die hek kon kom om n tender in te dien, die wag wou hom nie inlaat nie “want, waar is my KFC”. Kan jul dit glo, dit is hoe dit gaan. Hy het naar net weer geloop, ons mense is nie welkom om daar te werk nie.

Frank ·

Het hy video opname geneem van die wag en gesprek en aan HK gestuur? “All that is necessary for evil to flourish is for good men to do nothing”

SjN ·

Die regering is met àlles waar hul betrokke is in die pad, selfveryking is prioriteit.

Keelvol ·

Se eerder vir ons wanneer gaan die opgradeering en instandhouding werk begin as wat Jy met een verskoning na die ander aanbied, de ruyter.

Johan ·

Hi Johan, die kragstasies is letterlik opgebruik weens swak instandhouding. Ons sal alternatiewe moet bou. Ek het al vir hul konsultasie werk gedoen, maar nooit direk nie ek gee DIESELFDE kwotasie direk in en aan n subkontrakteur dan kry ek dit via die sub. Altyd masief opgemerk natuurlik.

Anton ·

Dis nie al waar hulle in die pad staan nie, ‘n pad wat voor hulle tyd gebou is

Anel ·

Die dag as die hele land in donkerte gehul is en alles, maar alles tot stilstand kom want daar is geen krag nie, dalk sal die korruptes wakker word, maar ek glo swaar!!

Bertie ·

Kommuniste is maar traag om beheer prys te gee. Hulle wil alles vanaf ‘n sentrale punt beheer. Net jammer die spulletjie hier in SA is meer bek as binnegoed.

Helizna ·

Kernkrag is die skoonste en mees effektiewe kragvoorsiening.

Nico ·

Al die goeie gehalte kole word uit gevoer, Eskom moet wakker word, dit is deur Eskom se toedoen dat die apparate so verouderd is, Eskom kon al lankal iets daaraan gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.