Regering-taakspan moet help om staking op te los

Amcu-ondersteuners Foto: Sowetan / Tsheko Kabasia

Amcu-ondersteuners Foto: Sowetan / Tsheko Kabasia

ʼn Inter-ministeriële taakspan sal na verwagting Donderdag met die vakbond Amcu en mynbase vergader om die staking in die platinummynbedryf te bespreek.

Die vergadering sal by ʼn onbekende plek in Johannesburg plaasvind.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) staak al sedert 23 Januarie by Lonmin, Impala Platinum en Anglo American Platinum. Hulle dring aan op ʼn basiese salaris van R12 500. Hulle het die werkgewers se aanbod, dat werknemers teen Julie 2017 ʼn bedrag van R12 500 sou verdien, verwerp.

Die arbeidshof het die gesprek fasiliteer nadat onderhandelinge met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie vasgeval het.

Ngoako Ramatlhodi, die nuwe minister van minerale hulpbronne, het Woensdag aangekondig dat die tegniese taakspan saamgestel sal word. “Die taakspan se mandaat is om die benadering te vergroot en alle moontlikhede te ondersoek om ʼn oplossing te vind,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Die span word saamgestel uit beamptes van die departemente van minerale hulpbronne en arbeid en die nasionale tesourie. Hulle sal ondersteun word deur verteenwoordigers van die mynmaatskappye en Amcu.

Volgens die webwerf, platinumwagenegotiations.co.za, wat deur die mynmaatskappye opgestel is, het die myne reeds meer as R20.1 miljard aan ‘n verlies in inkomste gely en die werknemers meer as R8.9 miljard. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ansie Smit ·

Ek werk vir ‘n kontrakteur op Lonmin, die vrees van die wat werk toe kom is onbeskryflik. Nou wonder ek, waarvoor word die AMCU Striking Fund se geld gebruik? Wie word daaruit verryk? En hoekom kom krap die EFF ook en gee geld vir die Striking Fund.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.