Regering teen EFF se Reserwebank-voorstel

Nomvula Mokonyane. Foto: Elmond jiyane, GCIS

Die Suid-Afrikaanse kabinet het hom uitgespreek teen die EFF se voorstel vir die nasionalisering van die Reserwebank.

Die minister van kommunikasie, Nomvula Mokonyane, het vanoggend as kabinetswoordvoerder tydens terugvoer oor vandeesweek se kabinetsvergadering aan die parlementêre perskorps gesê die onafhanklikheid van die Reserwebank is een van die sterk punte van die Suid-Afrikaanse ekonomiese stelsel en moet behoue bly.

Die kabinet het toegegee die onlangse verswakking in die handelsbetrekkinge tussen die VSA en Turkye het ʼn negatiewe invloed op die waarde van ontluikende geldeenhede, waaronder die Suid-Afrikaanse rand, gehad.

Kapitaaluitvloei uit ontluikende markte het versnel, wat negatiewe gevolge inhou vir ekonomiese groei en werkskepping. Die kabinet wys egter uit dat Turkye se groot skuldlas in buitelandse geldeenhede en lae vlakke van buitelandse geldeenheidreserwes die land blootstel aan massiewe kapitaaluitvloei.

In teenstelling met Turkye het Suid-Afrika volgens die kabinet verskeie sterk punte, waaronder ʼn onafhanklike sentrale bank, inflasieteikening met inflasie wat konstant binne die teikengebied bly, lae vlakke van skuld in buitelandse geldeenhede en ʼn duidelike fiskale konsolidasieplan.

“Die kabinet is absoluut verbind om hierdie sterk punte te behou,” het Mokonyane gesê. Op ʼn vraag het sy dus bevestig dat die regering nie ten gunste is van die wetsontwerp wat die EFF by die parlement ingedien het om die Reserwebank te nasionaliseer nie.

“Die regering sal voortgaan om met die sakesektor, vakbonde en die burgerlike gemeenskap saam te werk om vertroue in die ekonomie te herstel en beperkinge op ekonomiese groei te takel. As ons almal saamwerk, kan ons die planne om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat groei, tot uitvoer bring,” het Mokonyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rynhardt ·

Die Anc-regering spreek hom nou vinnig en skielik uit teen die EFF se voorstel van die nasionalisering van banke, dit gaan die Anc se rigtingaanwyser,Malema en kie.baie ontstel!My pa het al in die 80’s gese dat wanneer die NP sy verraad bewerkstellig en die Anc aanbewind kom,gaan die nasionalisering van banke plaasvind!So moenie die Anc vertrou wat hom skielik nou so vinnig teen nasionalisering van banke uitspreek nie.

Paul ·

Onafhanklik? Die reserwebank is minder onafhanklik as die regters van die Grondwethof, of die Openbare Beskermer, en die minister weet dit. Dit pas hulle om die persepsie van “onafhanklik”- kaart te speel. Dit is soos ‘demokrasie’ wat hulle voorhou, maar dan inkleur soos dit hulle pas. Die nuwe president van Zim het ook mos na sy verkiesing gesê Zim is nou ‘n volle ‘demokrasie’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.