Regering tjoepstil oor hulp vir entstof-newe-effekte

Die ACDP sê hy voer ʼn opdraande stryd om inligting te kry oor ʼn fonds van die regering wat vergoeding sal betaal aan diegene wat enige verlies ly of skade opdoen weens die toediening van die Covid-19-entstof. (Argieffoto: Daniel Leal/AFP)

Die ACDP sê hy voer ʼn opdraande stryd om inligting te kry oor ʼn fonds van die regering wat vergoeding sal betaal aan diegene wat enige verlies ly of skade opdoen weens die toediening van die Covid-19-entstof.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake het die totstandkoming van die fonds verlede jaar in die Staatskoerant bekend gemaak. Dit vorm deel van wetgewing oor die ramptoestand wat sedert Maart 2020 in Suid-Afrika geld.

Dr. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, sê die party probeer sedertdien uitvind presies hoe diegene wat geraak word, hulp kan kry. “Baie mense wat bekommerd was oor die inenting, het voortgegaan met die idee dat indien iets skeefloop, die staat daar sal wees om hulle te help. Maar om enigiets oor die fonds uit te vind, is ʼn uitdaging.

“Ons weet nie hoe om aansoek te doen nie, wie om te kontak of waar die fonds se kantore geleë is. Dit is bitter moeilik,” sê Meshoe. Volgens die ACDP het ʼn amptenaar van die party op verskillende dae herhaaldelik ʼn nommer gebel wat op ʼn advertensie vir die fonds geplaas is, maar sonder sukses.

Ernstige skade ná inenting

‘n Emosionele Zakhele Goqo sê hy het ernstige newe-effekte na die toediening van die Covid-19-entstof begin ondervind. (Skermgreep)

Twee mense wat aanvoer dat hulle geweldige newe-effekte weens die gebruik van die Covid-19-entstof opgedoen het, het Maandag by die ACDP se mediakonferensie hul persoonlike ondervinding ná die toediening van die entstof gedeel.

Zakhele Goqo is ʼn voormalige paramedikus van KwaZulu-Natal wat aanvoer dat hy geweldige newe-effekte weens die entstof ondervind het. Goqo het verlede jaar ineengestort nadat hy die entstof ontvang het. Hy het onder meer gesukkel om asem te haal, het ʼn abses aan sy arm ontwikkel en sy gesig het geweldig opgeswel.

Hy is kort daarna in die hospitaal opgeneem en het ná ʼn operasie met ʼn trageotomiebuis in sy keel wakker geword.

“Dit was die begin van hierdie nagmerrie wat ek saam met my familie beleef,” sê Goqo.

ʼn Video van Goqo wat die afgelope ruk op sosiale media versprei is, het selfs die departement van gesondheid genoop om ʼn verklaring daaroor uit te reik. In dié verklaring vra die departement diegene wat newe-effekte ondervind om na vore te kom. “Gepaste stappe kan net gedoen word as dit aangemeld word. Covid-19-entstowwe is baie veilig en doeltreffend om hospitalisasie en sterfte te voorkom. Ons ontmoedig mense om ander mense se gesondheidstoestande en ervarings te gebruik om hul persoonlike teorieë te bevorder vir die onverdedigbare teenkanting teen dié lewensreddende ingryping.”

Die departement sê ernstige newe-effekte word selde deur inenting veroorsaak en dat die meeste toestande ondervind sou word ongeag of iemand ingeënt is.

Vir Goqo is dit skrale troos. Hy sê hy het gehoor gegee aan pres. Cyril Ramaphosa se oproep om ingeënt te word.

“Ek het. Kyk nou na my,” het hy emosioneel gesê.

Oosthuizen sê sy sukkel sedertdien met verskeie mediese toestande. (Skermgreep)

Soreka Oosthuizen het ook haar ondervinding gedeel nadat sy in Mei verlede jaar die entstof ontvang het. Oosthuizen sê sy is by die werk aangemoedig om ingeënt te word. Sy was huiwerig om dit te doen, maar het die inenting ontvang nadat sy deurlopend “aangemoedig” is om dit te doen.

Enkele ure ná die toediening van die entstof is sy in die ongevalle-afdeling van ʼn hospitaal opgeneem, sê Oosthuizen. Sy het onder andere blase ontwikkel en ʼn swaar maandstonde het begin wat volgens haar sedertdien nog nie weer opgehou het nie.

Oosthuizen sê sy het toevalle begin kry, haar bene het opgeswel en sy was sedertdien in en uit hospitaalteaters. Sy sukkel onder meer met inwendige bloeding, ondervind hartprobleme en het ook neurologiese toestande begin ondervind.

Aplastiese bloedarmoede is sedertdien by haar gediagnoseer, sy sukkel om te eet en voel die heeltyd swak. Oosthuizen sê sy benodig fisioterapie, arbeidsterapie, oortappings, elektroliete, antibiotika en verdere operasies.

“Ek kan nie in hierdie stadium werk nie en ek weet nie of ek ooit weer sal kan nie, of gaan leef om dit te doen nie.”

Sy vertel haar storie om mense bewus van enige moontlike gevare te maak en mense aan te moedig om self oor inenting te besluit, sê Oosthuizen.

“Ek doen dit nie om iemand wat nie sy standpunt kan of wil verander nie, van plan te laat verander nie. Ek probeer bewustheid kweek. Newe-effekte bestaan.

“My keuse mag nie deur jou gemaak word nie. Dit is immers my liggaam,” sê Oosthuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

85 Kommentare

jongste oudste gewildste
Madeleine

Dankbaar vir die berig!!

Diline

Tipes van die ANC kaders! Ek glo nie meer ‘n enkele woord wat uit hulle monde uit kom nie, klomp leuenaars! Maak beloftes wat nie nagekom word nie. Nou sit daar mense daar buite wat hulp nodig het en niemand is daar om hulle die BELOOFDE ondersteuning te gee nie.

Yolandie

Dis maar net 2 sake waarvan ons weet. Te lank word die inspuiting net in ons kele afgedruk…….spuit spuit spuit dit is veilig sê hulle. Dankie aan die dapper mense wat praat oor hoe dit hulle gesondheid beinvloed het.

Jacob

Ek daag die regering uit om drie voordele verbonde aan die entstowwe te verskaf gestaaf deur onafhanklike wetenskaplike studies deur erkende wetenskaplikes wat nie deur farmaseutiese maatskappye of regerings betaal word nie. Verder daag ek diegene wat nou verkondig dat die ramptoestand afgeskaf moet word, maar dat inentings voort moet gaan om te bewys dat nie een van hulle aandele in enige maatskappy het wat of entstowwe vervaardig of enige produkte wat met entstowwe te doen het nie of enige posisie beklee waardeur hulle bevoordeel word deur ‘n entprogram nie. Ek daag hulle ook uit om te bewys dat die… Lees meer »

Raadsman

Ek dink daar was genoeg inligting waarskuwings op Youtube om mense te waarsku om hulself nie te laat inspuit nie. Net jammer soveel dokters in SA het mense verder so mislei en wie anders moet jy glo as ‘n onbevoegde dokter vir jou se jy moet jou laat inspuit.
Ek dink alle mense moet sover moontlik hulself vergewis van enige medikasie in toekoms om rede meeste dokters protokol volg en nie meer self volledige diagnoses doen nie. Daar is nog wel dokters wat omgee.