Regering vergader oor Lichtenburg-krisis

Lichtenburg. (Argieffoto: ANA)

Die staatsprokureur en regeringslui vergader Vrydag met Sakeliga oor die krisis in Lichtenburg en die groter Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit in die Noordwes.

Dit volg nadat feitlik alle administrasie en dienslewering verlede week in die Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit tot stilstand gekom. Dit nadat die provinsiale regering die week tevore besluit het om ingevolge artikel 139(1) van die Grondwet by die bedrywighede van die munisipaliteit in te gryp.

Binnegevegte heers al geruime tyd in die munisipaliteit en dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit se finansiële en operasionele bedrywighede byna heeltemal inplof.

Vrydag se vergadering spruit uit eise wat Sakeliga op 23 September gestel het vir die dringende regstel van die Noordwes‑provinsie se “chaotiese en irrasionele intervensie” in die Ditsobotla- plaaslike munisipaliteit.

“Ondernemings en inwoners van Ditsobotla gaan gebuk onder ʼn erg verskerpte ineenstorting van plaaslike dienslewering en die irrasionele besluite van die provinsiale regering om die munisipaliteit onder vrywillige administrasie te plaas sonder om ʼn administrateur aan te stel,” sê Tian Alberts, regs- en skakelbeampte van Sakeliga.

Sakeliga het verskeie ondersteuners uit die sakegemeenskap en plaaslike gemeenskap genooi om bystand tydens die vergadering met die regering te verleen, onder meer Agri Noordwes en die Lichtenburg Sakekamer.

“Tensy die regering Sakeliga tevrede stel dat dit genoegsame noodmaatreëls getref het en in plek stel, is ons van voorneme om op ʼn dringende grondslag met litigasie voort te gaan. Ons bly daarom in konsultasie met ons regspan ter voorbereiding van ʼn dringende aansoek.”

Sakeliga waarsku dat dit nie slegs ʼn humanitêre krisis is nie, maar ook ʼn konstitusionele krisis wat in Ditsobotla aan die ontvou is, gegewe die regering op alle vlakke se oënskynlike algehele onvermoë om uitvoering aan grondwetlike voorsienings vir ingryping by mislukte plaaslike regering te gee.

“Ons het vertroue in Sakeliga se regsposisie en vermoë om die onkonstitusionaliteit van die regering se optrede in die howe bevestig te kry. Terselfdertyd waarsku ons dat die oplossings vir sodanige onkonstitusionaliteit, in die konteks van omvattende mislukking van die uitvoerende gesag, versigtige en innoverende litigasie vereis en met ʼn wesenlike mate van onsekerheid gepaard gaan.

“Ons regstrategie is daarom daarop gerig om ondernemings en die plaaslike gemeenskap met soveel korttermynverligting as moontlik by te staan terwyl ons ʼn grondslag vir duursame oplossings lê, welke oplossings slegs met verloop van tyd ontwikkel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christine ·

Die hele land is in krisis, nie slegs Lichtenburg nie! Dis ál wat die damn ANC kan doen, en dis vergaderings hou en KFC vreet!

Bertie ·

Dit gaan vir hierdie kaders net oor selfverryking. Hulle voel vere vir die mense vir wie hulle veronderstel is om te dien. Hoe gouer politiek uit munisipaliteite gehaal word, hoe gouer sal ons weer die dienste kry wat ons verdien.

Heinrich ·

Professionaliteit = doen eerste jou werk en hou jou persoonlike gevoelens vir jouself. Dit het afgesterf saam met die ou SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.