Regering versoek om by ‘pensioenkrisis’ in te gryp

Foto: ANA

Pensioenarisse het ʼn beroep op die regering gedoen om in te gryp in die dreigende krisis met hul spaargeld en om die gedrag van pensioenfondsbestuurders te ondersoek.

Dit het Dinsdagaand aan die lig gekom tydens ʼn paneelgesprek wat deur die Kaapstadse fondsbestuurder 10X Investments gehou is en deur die Daily Maverick aangebied is om die “pensioenkrisis in Suid-Afrika” aan te roer.

Zack Bezuidenhout, hoof van S&P Dow Jones-indekse vir sub-Sahara-Afrika, het bewyse voorgehou wat wys dat 80% van aktiewe bestuurders jaarliks onderpresteer teen die bedryf se normstandaard terwyl ʼn premie vir hul dienste gevra word.

Bezuidenhout het gesê die probleem is nie eksklusief tot Suid-Afrika nie. “Dit is baie moeilik om ʼn normstandaard te klop,” het hy bygevoeg.

Africa Melane, radio-aanbieder, het die regering versoek om in te gryp en die pensioenfondsbedryf te red nadat TV-persoonlikheid Siv Ngesi ook wou weet waarom inligting oor hoe om te spaar nie deel is van die skoolkurrikulum nie.

Melane het gesê die regering moet optree om enigiets, wat soos roofgedrag lyk, onwettig te maak en om pensioenarisse te beskerm.

Talle lede uit die gehoor het gesê hulle is vasbeslote om hul makelaars en finansiële raadgewers ʼn paar moeilike vrae te vra oor wie voordeel trek uit hul swaarverdiende geld.

Steven Nathan, uitvoerende hoof van 10X, het aan die gehoor gesê volgens syfers van die nasionale tesourie, kan slegs 6% van Suid-Afrikaners bekostig om af te tree en dié getal is nou al die afgelope 25 jaar dieselfde.

Nathan, die voormalige besturende direkteur van Deutsche Bank in Johannesburg en Londen, het aangevoer ingewikkelde beleggingstate is klaarblyklik ontwerp om verwarrend te wees. Hy het gesê selfs hy sukkel soms om sin te maak van die maandelikse state wat mense na hom toe bring, veral wat betref hoeveel hulle betaal aan fooie, ondanks die feit dat hy al vir so lang ruk in die bedryf is.

Die paneelgesprek het onderwerpe gedek van pensioenfondsbestuurders se duur fooie, aktiewe en passiewe beleggingsbestuur en ingewikkelde pensioenfondskontrakte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Manna ·

Ek stem dis hoog tyd dat hierdie aasvoëls wat op ou mense teer vas gevat word. In plaas dat ou mense na jare se harde werk die voordeel van hulle spaargeld geniet. Moet hulle sukkel om aan lewe te bly terwyl die menere al die voordele geniet al onder presteer hulle.

Basjan ·

Sekere makelaars en finansiële raadgewers is gewetenlose skurke. Hulle is gou om makelaars-
en adminfooie van jou te verhaal, maar as dit by dienslewering kom, is hulle weg.

Johan ·

Die ander klip in die bos is: “Hoekom moet ons so baie belasting betaal op enige lompsom wat uitbetaal word?”

Ja, daar is ‘n gedeelte wat kwytgeskeld is, maar ek voel die hele lompsom moet belastingvry wees. Die regering soek minder mense wat ‘n las is (dmv die “social grants” stelsel) en die doel van pensioen is juis om selfversorgend te wees. Maar nou word ek belas. Maw die regering se maatreels “straf” diegene wat juis probeer spaar vir hul oudag. Hetsy deur pensieon of om te spaar.

Punt is : daar is fout as so min as 6% (soos berig reken) onafhanklik en sonder probleme op hul oudag kan gaan rus. En die GIERIGE fondsbestuurders is deel van die probleem.

KP ·

Siener van Rensburg het gese pensioen fondse gaan ineen stort. Hoop nie dit gebeur eendag nie.

lv ·

As ek hoor,is my finansiele adviseur op een of ander kongres,by een of ander vysster lodge,en heel party keer gaan sy vrou saam,vir n hele naweek,hulle was al selfs op n bootreis vir n kongres,absoluut belaglik,dis my en Jan Publiek se geld! As dit in die staatsdiens gebeur,sal almal korrupsie skree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.