Regering vorder met herverdeling van staatsgrond

Minister Thoko Didiza. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die regering vorder met die proses om 894 plase met ʼn gesamentlike oppervlakte van 529 000 ha wat in die vorige staatkundige bedeling vir die konsolidasie van die destydse tuislande bestem was, onder nuwelingboere en -boerderyverenigings te verdeel, het die minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thoko Didiza, Dinsdag aangekondig.

Sy het gesê tot dusver is 5 838 aansoeke vir die plase ontvang. Aansoeke sluit eerskomende Sondag, 15 November.

Die grootste deel van die staatsgrond is tot dusver bestuur deur die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (IDT), asook deur gemeenskapsorganisasies soos die een op die Makhathini-vlakte in die verre noorde van KwaZulu-Natal, wat die besproeiingsregte uit die Pongolapoort/Jozinidam bestuur.

Die minister het haar kommer uitgespreek oor gerugte van omkopery van staatsamptenare wat by grondhervorming betrokke is. Al die voorvalle wat aangemeld is, word as prioriteit ondersoek, en sy het gevra dat enigiemand wat bewus is van sulke voorvalle, soos omkopery om mense nie van landbougrond af te sit nie, dit onverwyld aanmeld.

Sy het ook laat blyk dat ramphulp vir boere in veral die Vrystaat en die Noord-Kaap wat deurgeloop het onder brande en/of voortgesette droogte, tans baie sterk oorweeg word, maar dis ʼn proses wat behoorlik beplan moet word.

Didiza het voorts die bekendstelling van die Onteieningswetsontwerp, waaroor Maroela Media breedvoerig berig het, verwelkom en belanghebbendes gevra om so volledig moontlik daarop kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Adam Adriaan

Die regering spel herverdeel verkeerd. Hulle spel dit herverneuk

Manie

Kan ‘n mens enige woorde glo wat die agbare minister wys raak met hierdie berig sonder om skepties te dink teenoor wat die geskiedenis anders bewys het.

Pietertjie

Hoekom moet die grond herverdeel word? Dit behoort reeds aan die Staat (dus die publiek), kan nie onteien word nie en moet dus net aan iemand toegeken word. Oëverblindery!

Persheks Adri

Grond vir our people nice en die boere wat reeds swaar trek word nie gehelp nie net oorweeg eish! Nog ‘n nar

Vrijburger

Grond sonder eienaarskap is bloot huurpagtery / langtermyn verhuring van grond. Die ANC mislei deur te se hulle “herverdeel” grond.