Regering vorder met oordra van eiendomsreg

Minister Lindiwe Sisulu en ander regeringsamptenare tydens die oorhandiging van ‘n huis aan ‘n 61-jarige vrou in Buthulo in die Port St Johns-plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die regering maak betekenisvolle vordering met die oordrag van private eienaarskap deur titelaktes aan mense wat op staatsgrond of in staatsbehuising woon.

Dit blyk uit syfers wat die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, in die parlement verskaf het in antwoord op ʼn skriftelike vraag deur Mohatla Tseki, ANC-LP.

Die oordrag van staatsgrond en staatsbehuising aan diegene wat daarin woon, is deur pres. Cyril Ramaphosa gestel as die primêre onmiddellike doelwit van die regering se grondhervormingsprogram.

Dit verteenwoordig ʼn uiters belangrike beleidsverandering deur Ramaphosa, en in politieke kringe word vordering hiermee fyn dopgehou, veral omdat die Ramaphosa-beleid regstreeks indruis teen die beleid van die EFF en die voorkeur van die Zuma-faksie in die ANC.

Die EFF én die Zuma-faksie in die ANC wil naamlik hê dat die klem eerder eerstens moet val op die herverdeling van kommersiële landbougrond. Tweedens wil die EFF hê die staat moet uiteindelik alle grond besit. Die Zuma-faksie in die ANC wil nie so ver gaan as die EFF nie, maar verkies ook ʼn groot rol vir die staat. Tydens die Zuma-bewind het baie minder oordrag van staatsgrond aan private individue plaasgevind as tans.

Die Ramaphosa-groep se plan met die eiendomsoordrag blyk duidelik te wees. Ramaphosa is nie ten gunste daarvan dat ʼn sosialistiese stelsel met die staat as voorste eienaar en arbiter van landbou-aktiwiteit ingestel word nie.

Hoewel die ANC se besluit by sy 2017-konferensie om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, bindend is op die Ramaphosa-regering en ʼn grondwetwysiging onafwendbaar blyk te wees, gaan dit die aard van die inwerkingstelling van daardie beleidsbesluit, en die bewoording van die grondwetlike wysiging, wees wat die uitwerking daarvan op die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing gaan bepaal.

Bronne na aan Ramaphosa het dit eens dat hy en sy faksie binne die ANC so min moontlik onteiening sonder vergoeding wil hê, en die grondwetwysiging so klein en impakloos moontlik wil maak.

Die strategie met die oordrag van titelaktes vir staatsgrond en staatsbehuising na individuele eienaars blyk ewe duidelik te wees: Elkeen wat so sy eie eiendom kry, word waarskynlik ʼn aktivis teen onteiening sonder vergoeding, want dit sal die verlies van die nuut verworwe bate beteken. Om dieselfde rede word verwag dat die nuut bevoordeeldes dan teen staatseienaarskap van alle grond sal wees – want dan verloor hulle hul bate.

Daarom is die omvang van Sisulu se vordering met die herverdeling van staatsgrond so belangrik.

Haar terugvoer is dat 818 371 eiendomme in staatsbesit tans geïdentifiseer is vir oordrag aan bewoners, en dat veral vroue die bevoordeeldes sal wees.

Die syfers vir die beplande oordragte per provinsie is Oos-Kaap 82 562, Vrystaat 53 471, Gauteng 88 714, KwaZulu-Natal 136 047, Limpopo 40 602, Mpumalanga 57 157, Noord-Kaap 16 874, Noordwes 54 071 en Wes-Kaap 16 882.

Vordering met die oordra van staatsgrond is deurlopend. In die Wes-Kaap is 60 eiendomme in Augustus oorgedra. In die Oos-Kaap het 500 staatseiendomme in Julie private eienaars gekry. Die volgende Oos-Kaapse oordragte is vandeesmaand in Cala, Middelburg en Cradock.

In Noordwes is 209 eiendomme pas in Rustenburg oorgedra, en hierdie maand sal nog 250 staatseiendomme in Noordwes aan die bewoners oorgedra word.

In Limpopo is 490 eiendomme pas oorgedra, maar in die Vrystaat sukkel die proses en daar is vertragings.

KwaZulu-Natal se oordragte vir Julie het 500 beloop. In die eerste tien dae van September is nog 50 eiendomme oorgedra. Die afgelope Saterdag is ʼn klomp eiendomme in Pietermaritzburg aan die nuwe eienaars gegee. Vandag gebeur dieselfde in Umzimkhulu. Saterdag kom Vryheid aan die beurt en op die 27ste word ʼn klomp eiendom in Durban oorgedra.

Wat Gauteng betref, is 217 eiendomme in Augustus in Johannesburg oorgedra. In dieselfde maand is 700 eiendomme by Barberton in Mpumalanga aan die bewoners as nuwe eienaars oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

KrokodilBotha ·

Al te lekker. Jy kan niks vertrou wat die ANC lite of ANC se of doen nie. Tot die NG kerk en Agri SA drink tee saam die spul.

E.K. die eerste ·

Ou krokkie, nog noit die gesegde gehoor “keep your friends close and your enemies closer”? Dis hoe mens dit doen. Soms is dit ook net gewoon beter om saam te probeer werk en dinge uit te sorteer in almal se belang.Mens kan nie net altyd op jou agterpote wees nie, soms help ‘n koppie tee en redelik redeneer en kry meer vermag as net altyd aanvalled wees.

HPV ·

Jy is reg. Die NG Kerk is stil soos ‘n muis met slippers as dit by daaglikse onregte en dubbel standaarde kom. As die NG Kerk net dieselfde ywer, soos met selfdegeslag verhoudings en belhar, aan die dag kan lê kan baie dinge ten goede verander.

Elize ·

Kan ek ook groot ASSEBLIEF n huis kry. My oupa se plaas is deur die Ingelse afgebrand tydens die oorlog. My ouma en haar kinders was in konsentrasie kampe geboender. Niemand het na die oorlog hulle/ons iets GEGEE nie. Dit wat ek vandag het, het ek laaaang ure voor GEWERK en AFBETAAL.

Db ·

Stem saam met die boonste kommentare en dit is hoekom ek die NG kerk vaarwel toegeroep het

Nico K ·

Ek is nie naief nie, maar dit is darem ‘n verbetering as hulle die staatsgrond benut. Dit is wat Afriforum nogal altyd oor baklei. Hoekom kommersiele boere se grond vat as daar ander grond beskikbaar is?

KrokodilBotha ·

Laaste wat ek in die Transkei was, het vrugbare grond links en regs , orals gele. Onbenut, net erosie was doenig. En daar waar daar wel plase met mangos, litchis was ……… lank terug staan die kop hoogte tussen die bosse en onkruid. Daars reen , daars goeie grond, daars nie n wil nie.

Alida X ·

Moontlik help die oordrag om dinge bietjie aftekoel.
Die mense moet nou ook net besef dat herstel en onderhoud ook nou hulle verantwoordelikheid word.
Saam met die voorreg van eienaarskap kom ook verpligtinge.
Weet net nie hoekom juis meer vroue eiendom moet kry as mans nie.
Dra sommer die eiendom op altwee se name oor dan het meer mense eienaarskap.
Wonder hoeveel van die huise gaan oor 5jaar nog in dieselfde eienaar se naam wees. Reeds verkoop en geld uitgemors en bly weer in sinkhuis.

Wildtemmer ·

Nou begin die akkies eers, daar gaan nou geld gevra word om tebou ens. Mag onse Vader ons behoed en bewaar !!

John ·

Hierdie is net die ligte windjie voor die dwarrel wat ‘n orkaan gaan word. Om sommer so ‘n erf/huisie as geskenk te kry met baie van die mense, uitlanders… oei… en Cyril dink sy gekruip in die buiteland gaan help. Jaloesie, kompetisie en gierigheid is sedert Adam se tyd met ons. In SA gaan die orkaan nie verbytrek nie. Miskien maak Cyril eerder voorbrand vir die toekoms wanneer sy eie mense in ander lande shacks/shops moet begin met fake Nikes uit liewe Sjina.

Arno Scheepers ·

Hoeveel ministers kry NOG huise en NOG plase……wonder maar net??

Al ·

Dis baie positief. Dit sal minder grondgrype veroorsaak en populisme dalk bloedneus gee.

Piet parys ·

So hulle kry n huis en ander grond . Ons weet mos die mense sal hulle hande bak hou solank hulle leef want niks is die moeite werd tensy jy daarvoor gewerk het nie.

Gert van Wierdapark ·

Na 25 jaar is daar darem vordering in die verband-hiep hiep hoera, Suid-Afrika. Hoe lank die 818 000 gaan neem om oor te dra, is n Ope vraag! Hopelik kry min Sisulu die amptenare ook aan die werk

Lance ·

Die 3 suster kerke is hulle nog steeds ń eenheid,NG,Herv.en Gerefv. Bestaan die APK.kerk nog

Lance ·

Ek is jare lid van ń engelse kerk,daarom die belangstelling , agv. van my taal.Het ń mooi foto van die ng kerk en eff.wil graag dit met julle deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.