Regering vra hulp met kos vir bejaardes

Lindiwe Zulu spreek die media Saterdag toe. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die regering doen wat hy kan, maar bure van bejaardes moet asseblief seker maak hulle gaan nie ten gronde nie en die staat laat weet as daar ernstige probleme is, het die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, Saterdag gevra.

Sy het gesê maatskaplike werkers word tans op ongekende skaal ontplooi en die departement is besig om werklose gekwalifiseerde maatskaplike werkers te nader en te betrek, maar die departement is bekommerd dat hulle mense gaan oorslaan, veral waar die kinders nie by die bejaarde woon nie, maar na die bejaarde omsien.

Gevalle van bejaardes in nood moet aangemeld word by 0800 428 428. Dieselfde nommer word vir aanmelding van huishoudelike geweld gebruik, en bure is gevra om huishoudelike geweld aan te meld omdat die slagoffers nie altyd kan nie.

Zulu het, soos die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, die Suid-Afrikaners van harte bedank wat gehoor gee aan die algehele landwye afsondering.

Wat welsynstoelaes betref, het Zulu herhaal dat ouderdomstoelaes en ongeskiktheidstoelaes Maandag en Dinsdag uitbetaal word by al die gewone punte, en die res van die toelaes Woensdag. Sosiale afstandelikheid sal afgedwing word.

Oor die huisvesting van haweloses het Zulu uitgewys baie haweloses – veral dwelmverslaafdes – weier om gehuisves te word en kla dan by die media omdat hulle nie gehuisves word nie.

Dr. Blade Nzimande spreek die media Saterdag toe. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het gesê die akademiese jaar sal vanjaar voltooi word. Dieselfde versekering is deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gegee oor die skooljaar. Skole en universiteite sal heropen nadat die afsonderingstydperk verby is.

Intussen het welvarende Suid-Afrikaners voortgegaan met groot skenkings aan die stryd teen die koronavirus. Lede van die Motsepe-familie het hulle met ʼn skenking van R1 miljard by die Ruperts en Oppenheimers aangesluit.

Die sakereus Christo Wiese skenk 40 000 vyfliterbottels water per dag.

Wat watervoorsiening betref, is 41 000 watertenks op pad na hulpbehoewende gemeenskappe. Watervoorsieningsprobleme moet aangemeld word by 0800 200 200.

Voorts is die land se ergste plakkerskampe, waar sosiale afstandelikheid onmoontlik is weens te veel mense per pondok en pondokke te naby aan mekaar is, geïdentifiseer. Inwoners sal tydelik na staatsgrond elders verskuif word, het die minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Lindiwe Sisulu, gesê.

Sy meen die ergste voorbeelde is by Duncan Village in Oos-Londen, Kennedy Road in Durban, en die Kaapse plakkerskampe Kosovo in Khayelitsha en Dunoon naby Table View.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan Venter ·

Dit lyk my ook nou in hierdie krisistyd, wil die regering als self doen en verseg dat die private sektor betrek word. Dit pas hul Kommunistiese Sosialistiese ideologie.

Interessant genoeg het ek, en dit is nou maar dag 2, nog nie gesien dat enige ander Politieke party gevra is/word om hulp te verleen nie, ook nie enige burgerlike organisasie nie. Die ANC-regering wil hierdie ding alleen baklei, en nie in samewerking met enigiemand anders nie.

Pieter ·

Dit is goed om na jou ouers en bejaardes in hierdie tyd om te sien, veral omdat hulle so kwesbaar is. Interessant dat die Koran die Zaktaat instel wat barmhartigheidsdiens aan die hulpbehoewendes verplig en dit kere herhaal.

Die minister kan ook om hulp vra rakende haar kleredrag. Haar foto lyk meer na Bennie Boekwurm as minister van verdediging.

MakersMark ·

Omdat Ramaphosa camo dra dink sy dis ‘n nuwe modegier….. en die SAW het met gewone “browns” behalwe vir koevoet, 32, 101 die kubane, angolese, chinese en russe op hul yes gegee. Wonder watter jaar het Lindewe haar basiese oplwiding gedoen???

Michael 1 ·

Ek dink sy meen die kamoefleer drag is om haar toewyding te wys aan die 21 dae inperking.

MakersMark ·

Sy is die minister van maatskaplike ontwikkeling nie van verdediging nie. “Camo” en toewyding aan 21 dae inperking kom nie lekker bymekaar uit nie.

Realis Thailand ·

Dis tipies sa en afrika waar die staat weer hulp vir die oumense vra
Waarom sorg die kinders nie vir die oumense nie
Hier waar ek woon is dit deel van die kultuur die kinders sorg vir die ouers
My vriendin se ma woon by ons in haar eie kamer en het haar eie TV en lugreeling en badkamer en sy woon al ses jaar by ons in die huis en dis n plesier om haar hier te he
Sy is nog boonop blind.
Hier weet ek van geen ouer inwoner wie hulp nodig het nie hoewel hier geen ouderdoms pensioen en selfs baie min private pensioene is.

Amatambo ·

Alles goed en wel, maar soos ek dit sien word die armblankes wat in hulle eie “plakkerskampe” krepeer totaal geïgnoreer – mense wat eens op ‘n tyd werk gehad en ordentlik kon lewe, maar agv BBEEE en ander redes deur hierdie kommunistiese regering is baie van hulle vergete, uitgestoot, en ‘n steen des aanstoorts vir hierdie “AFRICAN NATIONAL CORRUPTION” wat ons eens vreedsame en voorspoedige land tot ‘n hool van ongekende misdaad, armoede (onder ALLE volkere) – en nou rommelstatus laat val het. En van Ramaphosa en sy volgelinge word afgode gemaak – Ramaphosa wat nie deur harde werk skatryk geword het nie, maar aan wie jare terug rykdom deur sekere mense en instansies GESKENK is – mag die GEES VAN VERSKRIKKING’ SEKERE MENSE IN HIERDIE LAND TREF SODAT HULLE tot besinning kan kom en die GEES VAN GOD ALMAGTIG weer soos van ouds oor ons heers…

Michael 1 ·

Ons as n gemeenskap en nabye bure het n watsupp groepie begin ons sal mekaar help en ondersteun en ons behoort dit te maak ,maar wat snaaks is is dat wanneer die regering uitdeel dan trek ek nie voordeel maar as hulle iets benodig dan word ek deelgemaak van hulle.

Wil ook net sê ·

Regtig? Dit gaan nie hier oor die ANC nie, maar oor mede menslikheid en barmhartigheid. Ek dink ook jy kan kies aan wie jy wil gee en wie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.