Regering weer op vingers geraps oor Al-Basjir

Omar al-Basjir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag die regering se aansoek om teen ʼn vorige hofbeslissing oor pres. Omar al-Basjir te appelleer, geweier.

Die regering het die hof genader om ʼn versoek tot appèl in te dien teen die hof se beslissing dat sy versuim om pres. Omar al-Basjir van Soedan in hegtenis te neem, ongrondwetlik was.

Dit kom ná Al-Basjir se besoek aan Suid-Afrika in Junie vanjaar toe die Suider Afrikaanse Litigasiesentrum (SALC) ʼn hofaansoek gebring het om Al-Basjir in hegtenis te laat neem op grond van die Internasionale Strafhof se lasbrief vir sy arrestasie. Die hof het beveel dat Al-Basjir in hegtenis geneem moet word, maar teen daardie tyd het Al-Basjir reeds die land verlaat. Die hof het hierna bevind dat Suid-Afrika verplig was om Al-Basjir in hegtenis te neem en dat die regering se versuim om dit te doen, ongrondwetlik was.

Regter Hans Fabricius het Woensdag die regering se appèlaansoek van die hand gewys en gesê Al-Basjir het geen beskerming in Suid-Afrika geniet nie en die regering was inderdaad verplig om hom in hegtenis te neem en te oorhandig.

Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) die hooggeregshof se besluit verwelkom en gesê die Al-Basjir-sage was ʼn “internasionale verleentheid” vir Suid-Afrika.

“Ons is verheug dat die hof ʼn beginselvaste wetlike standpunt inneem teen die openlike misbruik van mag en die miskenning van die regsproses en die oppergesag van die gereg,” het die DA se James Selfe gesê. Hy het gesê die uitspraak moet as waarskuwing vir pres. Jacob Zuma en sy kabinet dien dat die Soedanese president nie weer na Suid-Afrika genooi moet word soos Zuma Maandag tydens ʼn bespreking van Suid-Afrika se buitelandse beleid aangekondig het nie.

“Die Suid-Afrikaanse regering is deeglik bewus van die bevel wat deur die Internasionale Strafhof uitgereik is waarin voorleggings van Suid-Afrika versoek word met betrekking tot pres. Al-Basjir. Ons bestudeer tans die bevel. Ons sal dan ʼn besluit maak oor die volgende plan van aksie indien enige,” het hy gesê.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LEN ·

Soos sake tans staan, kan jy weg kom met moord. Ons regs bank, kan hul iets doen?
Onkundige Suid Afrikaner.

CHRISTA ·

Nou sal die ANC se ware kleure te voorskyn kom sodat dit duidelik vir die buiteland word WAT die ANC WERKLIK IS!!!

Dave ·

Refering ‘oor die vingers geraps’?
Wat gaan nou gebeur? Gaan Zuma afgedank word? Wie gaan dan die Europese leiers oor die vingers raps en vertel dat húlle ook hul grense moet oopgooi? As dit nie so groot gemors was sou mens vir Zuma & kie kon lag soos vir Mugabe gelag word.

Dave ·

Askies! Hier by my issie f reg langs die g..! (Miskien sal die webred dit raaksien en korrigeer :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.