Regering wil deurdruk met nasionale gesondheidsversekering

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die regering gaan tans voort met die instelling van sy voorgestelde nasionale gesondheidsversekeringplan (NGV), al weet die staat nog nie wat dit gaan kos en hoe dit gefinansier sal word nie.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIVR) het in die jongste uitgawe van sy @Liberty-beleidsbulletin, wat Woensdag bekendgemaak is, gesê daar bestaan steeds ernstige vrae oor die NGV, maar die regering stu eenvoudig voort met die plan.

“Hoe sal die aanbod by openbare gesondheidsdienste verbeter word om in die verhoogde aanvraag te voldoen as die plan eers ingestel is? Hoe sal die geweldige administratiewe las en korrupsie in die nuwe stelsel aangepak word?” vra dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die SAIVR en skrywer van dié verslag.

Die regering het ook ʼn verslag van die Davis-belastingkomitee, wat in Maart 2017 geskryf en verlede week beskikbaar gestel is, heeltemal geïgnoreer. In die verslag word gewaarsku dat die NGV “waarskynlik nie volhoubaar sal wees nie, tensy daar volhoubare ekonomiese groei plaasvind”.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het ʼn hersiende witskrif oor die NGV op 30 Junie gepubliseer. Hierdie hersiende dokument raak glad nie die talle swakpunte in die vorige voorstelle oor die NGV aan nie.

“Die witskrif ignoreer grootliks die probleme van swak bestuur in die openbare gesondheidsorgsektor, asook die dikwels swak gehalte.

“In plaas daarvan is die kernfokus om ʼn einde te maak aan die mediese skemas wat tans sowat 9 miljoen lede het. Sowat 60% van hierdie mediese skemas se kliënte is swart mense. Dit bied mense toegang tot die land se private gesondheidsorg wat van wêreldgehalte is.

“Regeringsregulering het die koste van mediese skemas tot op ʼn punt gedryf waar die meeste mense sukkel om dit te kan bekostig. Die staat het ook geweier om ʼn laekoste-opsie toe te staan, wat die soort dekking tot minstens 15 miljoen meer Suid-Afrikaners sal uitbrei,” het Jeffery gesê.

In verdere voorbereiding vir die NGV is die regering nou besig om die belastingvoordeel te beëindig wat gehelp het om mediese skemas meer bekostigbaar te maak. Kleiner skemas word ook in groter groepe gekonsolideer en die skemas wat oorbly, word beperk om ʼn enkele voordeelpakket te bied. Jeffery sê sy uiteindelike doel hiermee is om heeltemal ʼn einde aan mediese skemas te maak.

Volgens Motsoaledi sal alle mediese skemas “uiteindelik verdwyn” sodra die NGV in werking tree. “Dit sal ʼn proses wees wat jare neem en in die oorgangstydperk sal daar konsolidasie plaasvind,” het hy gesê. Sodra die NGV eers in werking tree, sal die mediese skemas wat oorbly “in ʼn enkele staatsbeheerde mediese skema opgeneem word”.

Staatsamptenare is ook bekommerd oor dié plan. Reuben Maleka, ʼn woordvoerder vir die staatsdiensvereniging, het in September gesê: “Lede verkies mediese skemas. Ons wil ons nie in ʼn situasie bevind waar die NGV die enigste opsie is nie.”

ʼn Staatsmonopolie oor gesondheidsorg is egter presies wat die NGV-witskrif voorstel, het Jeffery gesê. “Dit sal onbekostigbaar wees en met ʼn geraamde aanvangskoste van R665 miljard teen 2025, sal dit 13% van die land se BBP beloop en ook waarskynlik ondoeltreffend wees. Soos Eskom, Transnet, Prasa en ander staatsinstellings kan dit ook onder bedrog en korrupsie deurloop.”

Sy is van mening dat die NGV nie ʼn verhoogde toegang tot gesondheidsorg sal meebring nie, maar eerder Suid-Afrikaners sal ontneem van die toegang wat hulle tans geniet.

“Die bekendstelling van die NGV is nie ʼn ‘redelik’ stap vir die staat om te doen nie. Dit gaan ook die vlak van besteding verhoog terwyl die staat reeds nie oor die nodige hulpbronne hiervoor beskik nie. Die NGV-voorstel is dus strydig met artikel 27 van die Grondwet.”

Die @Liberty-verslag bied ook verskeie doeltreffende en bekostigbare alternatiewe vir die NGV. Dit is deur die SAIVR en ander voorgestel. Hierdie voorstelle sal die keuses van individue uitbrei en mense toegang gee tot goeie gesondheidsorg teen pryse wat hulle steeds kan bekostig.

Die regering het hierdie praktiese alternatiewe oor die algemeen geïgnoreer. In plaas daarvan beskuldig Motsoaledi kritici van die NGV herhaaldelik daarvan dat hulle ʼn onbillike stelsel wil behou en Suid-Afrikaners van die voordele van universele gesondheidsdekking wil ontneem.

“Hierdie beskuldigings is vals,” het Jeffery gesê. “Kritici is nie gekant teen universele gesondheidsdekking nie, maar eerder teen die vermoë van die NGV om dit te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dis korrup ·

BELAGLIK, as mens kyk hoe die regering tans die staatshospitale bestuur is dit ‘n absolute skande, mense moet op vloere slaap want hulle mors die geld wat vir gesondheidsorg begroot is. Nou wil hulle NOG geld uit die vuisvoos belastingbetaler tap om hulle werk te kan doen en vir mense wie HULLE belowe het hulle sal sorg, nou moet ons weer sorg! Dit is ‘n skreiende skande. Die private sorg is SLEGS van hoe gehalte omdat die REGERING nog nie sy kloue daarin geslaan het nie. Sodra hulle die massas weer inbondel in die private hospitale is die private hospitale binnekort net so sleg soos die staatsfasiliteite. KORRUP KORRUP KORRUP>

Ruby ·

Wanneer gaan die regering besef dat alles wat hulle aan raak verkrummel!….

Staatshospitale, klinieke, onderwys, SAUK, spca, lisensie kantore, eskom, munisipaliteite, mynwese…… om maar net ‘n paar te noem waaraan hulle kloutjies geraak het en besmet is.

Grootskaalse korrupsie vier hoogty in ons piesang republiek!

FM ·

Nog n Prasa – Eskom-Etol- Kernkrag- Sassa Korrupsie debakel is op pad. Hierdie anc regering wil net nie leer nie. Mugabe het dit seker so gedoen en kyk hoe lyk hulle gesondheidsorg. Breek als net af. Alles seker kolonialisme se skuld. Zille was reg.

Alida ·

Wat help dit alles? Die verpleegpersoneel is nie opgelei nie en mense gaan dood onder hulle hande.

moeks ·

Met die NGV gaan miljoene meer mense toegang tot dokters ens. kry. Ek sal graag wil weet as privaat medies dan heeltemal verdwyn gaan werkende mense dan saam met al die ander werkloses in lang rye elke dag by die hospitale gaan sit of gaan daar voorkeur gegee word aan die wat werk? Dink net watter chaos daar by maatskappye en in die werkplek gaan wees as almal wat siek is in lang rye moet gaan sit elke dag en jou beurt afwag?

RN ·

Hierdie regering is besig om heeltemal die kluts kwyt te raak! Wat wil hulle nog kaap, – ons reg dat ons kinders in hul eie taal onderrig word, word bedreig – ons reg op private mediese sorg wil weg gevat word. Gaan ons op die ou einde geen regte meer he nie? Dit is my geld en my besluit om ten duurste vir medies te betaal, wie gee hulle die reg om namens my te besluit! Hulle het alles al in die afgrond bestuur en nou moet ons op alle gebiede, aan hulle genade oorgelaat word! Dit is nonsens.

Pieter ·

As staatshospitale se wanfunksionering aangespreek word, kan privaat mediese dienste mos voortgaan. Maar die ANC wil alles wat werk vernietig.

gert ·

ANC – kry eers ESKOM, SAA, SARS, SASSA,PRASA ens. op n winsgewende en korrupvrye vlak dan kan ons dalk gesels, maar tot dan vergeet daarvan. Aaron Motsoaledi, jy mag miskien n ” dokter” wees, maar van finansiele bestuur en beplanning weet jy absoluut niks – kyk maar na die bestuur van jou portfolio – pateties!!

Die Skrif se, “bepaal eers die boukostes van die huis voordat jy begin bou.”

Frikkie Geld en huis ·

Look alike, think alike !! Rommelstatus of nie, NGV en kernkrag gaan voort.

Jurani ·

Ja….. Ek wonder ook oor die een….. Ons staatshospitale is glad nie op standaard nie….. Ons was verlede week in die onaangename posisie om uit nood ‘n staats hospitaal te moes gebruik. My dogtertjie het ‘n ongeluk by die huis gehad – gedeeltelike traumatiese amputasie van haar 3de toon. Ortopeut het haar geskuduleer vir teater laat die volgende dag. Sy was veronderstel om die volgende oggend ontbyt te kry, wat sy nie gekry het nie…. nadat ek paar keer gevra het. ‘n Ander ortopeut het haar omtrent 10:00 die volgende dag kom sien. Hy praat van groottoon en dat sy eers Vrydag teater toe gaan!!!! ….. sou hulle haar dan vir amper 4 dae nie kos gegee het nie?????? So bly ek was hardkoppid en het daar gebly!!!!! Ek kon die Dr. darem reg help. Dankie tog, my kind is Donderdag ontslaan en ek kan haar verder tuis gesorg! Dit was maar 1 van die vele dinge wat in daardie 3 dae verkeerd geloop het. Ék is glad nie gelukkig met die diens van staatshospitale waarvoor die belastingbetaler moet op dok nie!!!!!

HPV ·

Nuwe fonds waaruit sekere ”comrades” kan skep tot dit ook leeg is, dan ‘n reddingsboei van miljarde Rande ensovoorts, net ‘n nuwe metode tot selfveryking en om diefstal te wettig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.