Regering wil glo sport nasionaliseer

(Foto: Eugene Hoshiko/AP)

Die Wysigingswetsontwerp op Sport en Ontspanning wat verlede week gepubliseer is, is niks anders nie as ‘n poging van die ANC-regering om sport te nasionaliseer en sodoende die party se ideologie weereens ten koste van die land uit te bou en te bevorder nie.

Só sê Heloïse Denner, woordvoerder oor sport van die VF Plus. “Die ANC het telkemale al bewys dat hy nie daartoe in staat is om die land, sy instellings, munisipaliteite en entiteite behoorlik te regeer en bestuur nie.”

Denner meen georganiseerde sport sal dieselfde paadjie loop as Eskom, die SAL, die SAUK en Prasa indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word.

Die voorgestelde wetsontwerp sal dit vir die regering moontlik maak om selfs by spankeuses betrokke te raak.

“Georganiseerde sport het weereens hierdie jaar bewys dat regeringsinmenging nie nodig is nie. Waar die regte mense op die regte plekke aangestel is wat kenners is op hul gebied gaan dit goed met Suid-Afrikaanse sport. Die Springbokke se Wêreldbekersege onder leiding van Rassie Erasmus en Siya Kolisi spreek vanself.”

Regeringsinmenging sal onafwendbaar daartoe lei dat Suid-Afrikaanse atlete en sportspanne se deelname aan internasionale kompetisies soos die Olimpiese Spele bedreig word.

Denner het gesê die VF Plus sal hierdie Wysigingswetsontwerp op alle maniere moontlik teenstaan.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het bygevoeg indien die wetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word, die burgerregte-organisasie beslis klagtes by byna alle internasionale sportfederasies en die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) sal indien.

“Byna alle internasionale sportfederasies se regulasies verbied uitdruklik enige politieke inmenging in sport. Sou die regering voortgaan met hulle planne, stel hulle Suid-Afrikaanse sport op ʼn roekelose wyse aan skorsing uit internasionale sportdeelname bloot. Die regering stel dus hulle eie ideologiese agendas bo die belange van sport.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae