Regering wil kragvoorsiening met meer as 30% verhoog

(Argieffoto)

Bykomende elektrisiteit vir Suid-Afrika wat noodsaaklik is om ekonomiese groei te bewerkstellig gaan deur ʼn deursigtige tenderproses verkry word wat mededingendheid en kostedoeltreffendheid voorop stel, het pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê.

Ramaphosa sê dié nuwe energie – wat uit uiteenlopende bronne, waaronder, son-, wind-, gas- steenkool- en opgebergde krag verkry gaan word – moet nie net aan die land se behoeftes voldoen nie, maar moet ook help om internasionale verpligtinge oor koolstofgasse na te kom.

Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het vroeër vandeesmaand aangekondig dat 11 813MW se krag en opberging van onafhanklike kragprodusente verkry gaan word. Die plan, waarvoor die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) reeds toestemming gegee het, gaan lei tot die opwekking van 6 800MW se son- en windkrag, 3 000MW-gasopwekking, ʼn bykomende 1 500MW van steenkoolopwekking en 513MW se opberging.

Suid-Afrika se kragnetwerk het in hierdie stadium landwyd sowat 30 000MW se elektrisiteit beskikbaar en die staatsbeheerde Eskom is verantwoordelik vir nagenoeg 95% hiervan. Die meeste krag word by steenkoolkragsentrales opgewek.

Ramaphosa het Maandag gesê die land se kragsekerheid is wisselvallig en die beurtkrag wat Eskom nou al jare lank aan en af in werking stel, kom die ekonomie duur te staan.

“Ons vloot steenkoolaangedrewe kragsentrales word al hoe ouer, is geneig tot meganiese probleme en instandhoudingskoste is beduidend,” het Ramaphosa gesê.

“Dit is dus belangrik dat ons die kapasiteit om krag op te wek noemenswaardig en vinnig verhoog.”

Sogenaamde nuwegenerasie-projekte wat so gou moontlik by die netwerk kan inskakel, sal voorkeur kry, het Ramaphosa gesê.

Die regering gaan binnekort ook begin met die proses om tenders oop te stel vir die lewering van bykomende elektrisiteit. Dit is benewens die 2 000MW krag wat tans dringend benodig word om die land se huidige kragtekort teen te werk.

“Die elektrisiteit gaan verkry word deur ʼn deursigtige tenderproses wat mededingendheid en kostedoeltreffendheid prioritiseer,” het Ramaphosa onderneem.

As deel van die regering se regulatoriese hervormings gaan konsepwysigings aan regulasies wat munisipaliteite sal toelaat om krag van onafhanklike produsente te koop, ook binnekort aangekondig word.

“Die kommer oor onsekerheid rondom energiebeleid word op ʼn voortgesette grondslag gepak deur die hervormingsproses wat die middelpunt vorm van ons nasionale ekonomiese herstelpoging,” het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Tenders gaan WEER net vir our people wees en nog meer bedrog ne comrade?

Hennie

Bwahaaaaa ha hahahaha! Wat? Deursigtige proses se Ali! Patrys Moetsappie het ‘n windplaas of 3…baie deursigtig ja!

koos10

Ek wil my inkomste ook met 30% verhoog. Hoe gaan ek dit regkry? Met harde werk!
CR begin met Eskom, hulle het die kapasiteit om krag aan die land te lewer, maar deur korupsie lewer hulle tans net 50% van die behoefde, en van die 50% gaan seker 20% verlore deur wanbetalings en diefstal.

Nici

California het baie kragonderbrekings agv hul groenkrag. Dis duur en onbetroubaar. SA se mense het nie geld nie en steenkool en kernkrag is goedkoper betroubare opsies.

Kokerboom

Deursigtigheid, mededingendheid en koste doeltreffendheis is groot woorde Mnr Ramaphosa!U organisasie se baanrekord laat veel te wense oor..verwys onlangse nuutste “PPE” skandale. Dink u werklik iemand glo u nog? Bewyse lê in doen/toepassing, NIE in praat!!