Regering wis glo niks van beoogde KZN-myn

Argieffoto bloot ter illustrasie. 

Die KwaZulu-Natalse regering weet oënskynlik niks van gevorderde planne om ʼn ysterertsmyn reg in die middel van die Eshowe- en Melmoth-vrugteverbouingstreek te ontwikkel nie.

Dít nadat die betrokke boeregemeenskappe vanuit die staanspoor hul bekommernis oor die beoogde ontwikkeling en die uitwerking daarvan op die omgewing se waterhulpbronne uitgespreek het, sê Heinz de Boer, die DA se woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal.

De Boer het onlangs parlementêre vrae oor die voorgestelde myn aan Siboniso Duma, LUR van die KwaZulu-Natalse departement van omgewingsake, gerig.

Hierop het Duma nou geantwoord: “Die LUR en kabinet is nie bewus van hierdie projek nie.

“Die departement is nooit oor die beoogde ysterertsmyn ingelig nie.”

Luidens dokumente, wat reeds in 2021 opgestel is, sal die voorgestelde ysterertsmyn uit ʼn oop groef, verwerkingsaanleg, afvalrotsstortingsterrein, uitskotstoorfasiliteit en gepaardgaande infrastruktuur bestaan.

Die myn sal deur die Jindal Melmoth-ysterertsmyn ontwikkel word, maar op die grond van die Ngonyama-trust, wat op sigself vrae laat ontstaan oor wie eintlik by die myn gaan baat, sê De Boer.

“Plaaslike inwoners het van die begin af gepraat oor die moontlike verlies aan gerief, ontwrigting van boerdery- en landboubedrywighede, potensiaal vir waterbesoedeling en massiewe waterverbruikbehoeftes. Vroeë inligting dui ook daarop dat die reeds waterarm streek onderwerp word aan voorgestelde mynbou wat maandeliks 13 miljoen kubieke meter water verbruik.”

De Boer sê dit is uiters kommerwekkend dat so ʼn groot voorgestelde ontwikkeling, met so ʼn geweldige uitwerking op boere, nie eens op die provinsiale kabinet se radar verskyn nie.

“Die feit dat die regering nie bewus is van mynbouprojekte wat moontlik honderde gesinne kan verdring nie, is tipies van die nonchalante bestuurstyl waaraan ons burgers onderwerp word.”

Volgens Duma sal die departement die streek besoek en ondersoek instel na die voorgestelde ontwikkeling en die moontlike nadelige uitwerking op die streke se waterhulpbronne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grens ·

Ag, hulle lieg, hulle weet presies wat daar aangaan, die geldjies is seker al klaar spandeer op nuwe Range Rovers.

Bulkalf ·

Nou hoekom geld spandeer, sodat departement die streek besoek? Dit is net wolhaarstories, niks is in die pyplyn daar nie of hoe?

Chris ·

Chris Noordkus, eintlik nie n wolhaarstorie nie, kennisgewings het op die kennisgewingbord by P&P Eshowe verskyn, lees die volle berig op Daily Maverick, die feit is as jy nie uit Natalia gebou beweeg nie sal jy nooit weet nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.