Regeringsinmenging belemmer vryheid

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse regering se inmenging in die lewens van sy burgers belemmer hul vryheid deur te keer dat hul eerstegenerasie-regte verwesenlik word, het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) op die viering van Vryheidsdag gesê.

Die SNI het Sondag ‘n verslag oor die verwesenliking van eerstegenerasie-regte in Suid-Afrika bekend gestel. Die verslag beklemtoon die skending van verskeie eerstegenerasie-regte weens intervensionistiese en rasgemotiveerde wetgewing wat deur die parlement deurgevoer is.

Hierdie verslag is deur die SNI se werkgroep oor verantwoordbaarheid opgestel. Die werkgroep is saamgestel na aanleiding van Solidariteit se toenemende kommer oor die algehele gebrek aan verantwoordbaarheid binne die regering. Klik hier om meer te lees.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, word die reg op gelykheid en die reg op vryheid van bedryf, beroep en professie geskend deur onder meer die Wetsontwerp op Indiensnemingsdienste; die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming; die Wysigingswetsontwerp op Arbeidsverhoudinge; en die Wysigingswet op Basiese Diensvoorwaardes. “Die reg op vryheid van uitdrukking is verswak deur die stand van sake met betrekking tot die hersiene Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting (No. 6 van 2010), wat na verwagting binnekort as wet bekragtig gaan word,” het Kruger gesê. “Voorts het Suid-Afrika se posisie op die Persvryheidsindeks vanaf die 38ste plek in 2010 tot die 52ste plek in 2013 aansienlik afgeneem.”

Kruger sê dat lae moraal in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD); die disfunksionele aard van die Nasionale Vervolgingsgesag; en die buitengewoon hoë moordsyfer voortdurend op die reg tot lewe inbreuk maak. “Dit het ook ’n invloed op die reg op vryheid en veiligheid van persoon,” het hy bygevoeg.

Volgens Kruger kom eiendomsreg in Suid-Afrika al hoe meer in gedrang. “Daar was ’n paar deurslaggewende gebeure in 2013 wat eiendomsreg bedreig. Dit sluit in ’n aantal wetsontwerpe wat deur die parlement voorgestel is soos die Onteieningswetsontwerp en die Eiendomswaarderingswetsontwerp. Die konstitusionele hof se beslissing in Agri Suid-Afrika v. die minister van Minerale en Energie, asook retoriek van politieke leiers oor nasionalisering het insgelyks daartoe bygedra. Kulturele- en godsdiensregte asook die regte van taalgemeenskappe het ’n geringe dog waarneembare afname ondervind.”

Kruger het gesê dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting ook op die reg van toegang tot inligting inbreuk gaan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.