Register vir seksoortreders ‘bestaan nie’

(Foto: pixabay)

Die drukgroep Action Society sê die bestuur van die nasionale register vir seksoortreders (NRSO) moet geprivatiseer word om die betroubaarheid en geloofwaardigheid daarvan te verseker.

Die organisasie sê hy was geskok nadat die registrateur van die NRSO, Ntombizodwa Matjila, vandeesweek in antwoord op sy navrae erken het provinsiale onderwysdepartemente het nie geredelik toegang tot name van diegene op die lys nie.

“Die afgelope drie jaar is die nasionale register vir seksoortreders (NRSO) nog nie ten volle in werking gestel met die oog daarop om name by die register te voeg nie. Die keuringsproses is eers verlede jaar geïmplementeer omdat die ontwikkeling en opdatering van die NRSO-databasis eers tóé afgehandel is,” het Matjila gesê.

Action Society sê ingevolge die Kinderwet moet toegesien word dat toesighouers en opvoeders geen rekord van seksuele misdrywe het alvorens hulle aangestel word nie. Hy sê die kwessie is reeds vantevore in die parlement geopper, maar “sedertdien is geen poging aangewend om hierdie belangrike lys by te werk en seksuele oortreders van kinders af weg te hou nie”.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling vereis ook ʼn NSRO-klaringsertifikaat vir alle aanstellings van maatskaplike werkers sowel as vir voornemende aanneem- en pleegouers.

“Hoeveel kinders word vasgevang in seksuele mishandeling en aanranding omdat die stelsel ons faal? Hoeveel kinders is die afgelope dekade verkeerdelik deur pedofiele aangeneem?” het Daleen Gouws, woordvoerder van Action Society, gesê.

“Sonder die behoorlike implementering van ʼn NRSO gee ons aan hierdie oortreders ʼn gulde geleentheid om hul misdrywe te herhaal. Die huidige verouderde NRSO is absoluut van geen waarde nie en stel ons kinders in gevaar.”

Luidens Matjila se antwoorde aan Action Society het verskeie provinsiale onderwysdepartemente die afgelope paar jaar talle kere gevra dat ʼn persoon se rekord op die register nagegaan word. Daar kon egter nie aan enige van die versoeke voldoen word nie.

Action Society sê volgens die 2018-’19-jaarverslag van die departement van justisie en maatskaplike ontwikkeling is die getal aktiewe en onafgehandelde skuldigbevindings op die NRSO altesaam 19 668.

Die organisasie sê die feit dat 50 980 kinders tussen 2014 en 2017 verkrag en 2 600 in dieselfde tydperk vermoor is, wys dat die NRSO nie sedert die inwerkingstelling daarvan in 2009 tot sy reg gekom het nie.

Ongeveer 11 600 van hierdie sake is suksesvol verhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Maar hulle gee om. Vir SA se kinders.. Wie is verantwoordelik vir die lys?

Strandloper ·

Duidelik een of ander dom kader wat nie kan lees of skryf nie.

Zombie ·

Wat is die gemene deler in al die wanfunksionerende staats- en semi-staatsinstellings (wonder ek maar by myself)?

Hennie ·

Seksoortredings is ‘n baie moeilike ding om te verstaan vir die pleppe!

Antoinette ·

Ek het onlangs ‘n program op TV gesien van ‘n tipe afgesonderingsgemeenskap waarheen alle seksoortreders in Australie gestuur word en daar bly hulle afgesonderd tot die dag van hulle dood. Een het genoem, as ek reg onthou, dat hy eers parool kan kry twee weke na sy dood. Wat van so-iets hier, of nee, dit sal seker hulle ‘menswaardigheid’ skend.
Jare gelede toe ek ‘n nagraadse kwalifikasie in Kriminologie behaal het, het ek as deel van een van die modules kindermishandeling bestudeer. Een pa het beweer dat hy sy 4-jarige dogtertjie gemolesteer het omrede sy hom ‘uitgelok’ het. Sy het hom gevra om haar af te droog nadat sy gebad het. Die vloeke het altyd ‘n verskoning, hoe onlogies en stupid ookal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.