Registrasie by kollege hervat ná stormloop

Die skare by die Capricorn TVET-kollege in Polokwane (11 Januarie 2018). Foto: Twitter via @LebogangSeladi.

Duisende voornemende studente het oornag by die Peter Mokaba-stadion in Polokwane bymekaargedrom vóór die registrasie van studente by die Capricorn TVET-kollege Maandag sal hervat.

Dié kollege het die registrasieproses vir die 2018 akademiese jaar Donderdag gestaak nadat ses studente in ʼn stormloop buite die kollege beseer is en na ʼn hospitaal gehaas moes word. Twee ander is buite die kampus deur ʼn motor getref.

Die getal voornemende studente vir tersiêre onderrig het skerp gestyg sedert die regering in Desember aangekondig het dat hulle gratis hoër onderwys aan armes sal verskaf.

Die EFF het intussen geëis dat tersiêre instellings instap-registrasies toelaat vir dié wat die sperdatum vir aanlyn registrasie gemis het.

Die Capricorn TVET-kollege het die registrasieproses na die Peter Mokaba-stadion geskuif in ʼn poging om ʼn groter registrasie-venue aan voornemende studente beskikbaar te maak.

Angstige studente het laat Sondag al na die stadion gegaan om seker te maak hulle is van die eerstes wat Maandag in die ry is.

Buti Manamela, adjunkminister vir hoër onderwys, het gesê sy departement sal alles in hul vermoë doen om te verseker dat die proses glad verloop. Hy het gesê hy is bewus van die lang rye by die stadion en het ʼn verteenwoordiger gevra om die voornemende studente toe te spreek en hul vrese te besweer.

“Dit is nie nodig om oornag in rye te staan nie omdat al die studente toegelaat sal word om vir die beskikbare plekke aansoek te doen,” het Manamela in ʼn verklaring gesê.

Manamela het gesê hy is bly oor die hoë vraag na onderrig deur die jeug en opgewonde dat hulle onderrig “hoogmode” maak.

Hy het voornemende studente ook aangemoedig om by ander kolleges aansoek te doen.

Volgens hom is die toenemende vraag om by TVET-kolleges te studeer rede vir die regering om in beter inligtingstegnologie-stelsels te belê om makliker registrasie te bewerkstellig.

Hy het verder ʼn beroep op politieke partye gedoen om selfbeheersing toe te pas as hulle hul sienings oor die kwessie kommunikeer en nie spanningsvlakke in die reeds plofbare en emosionele situasie te verhoog nie.

Manamela sal glo die Peter Mokaba-stadion besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos B ·

Hulle het dit na die stadium toe geskuif anders was daar teen vamiddag net afgebrande murasies by die kollege oor.Hulle gaan by die stadium ook skade aanrig maar ten minste kan die klasse nog voortgaan.

V ·

Met die sosialistiese uitkyk van die regerende party, wonder ek of die afgestudeerdes eendag werk sal kry? Dan is Gigaba ook genoodsaak om die algemene werker ‘n drag slae te gee met ‘n verhoging in belastings na numa one se roekelose dade en uitsprake. Dit is glad nie goed vir die privaatsektor wat die werk moet skep om die afgestudeerdes te kan akkomodeer nie. Wonder waar die bloed uit watter klip nog gedruk kan word?

Christo ·

SA lei werknemets op – nie werkgewers nie. Die ANC en EFF kan nie skeppend wees en werk voorsien nie. So wie moet? WMC wat doodgemaak gaan word. Nie moeilik om te verstaan nie is dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.