Registrasie by verskeie universiteite ontwrig

Die Howard-kollege van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). Foto: http://law.ukzn.ac.za/

AfriForum Jeug het vandag ’n skrywe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se bestuur gerig, waarin optrede teen studenteraadslede (SR) en ander betogers geëis word. Dit nadat die 2020-registrasieproses aanhoudend ontwrig is.

Lede van die South African Students’ Congress (Sasco) en EFF-studenteleiers het verlede week begin betoog en die registrasieproses ontwrig. Die universiteit het volgens AfriForum egter nog geen voorsorgmaatreëls getref om die betoging te beëindig nie. “Personeel wat studente met hul registrasie help, word geïntimideer en daar word op hulle geskree. Sekuriteitsbeamptes moes hierdie personeel na hul voertuie vergesel,” sê Chantelle du Preez, nasionale koördineerder vir AfriForum Jeug.

“AfriForum Jeug het ’n dringende skrywe aan Pura Mgolombane, die dekaan van studentesake, gerig waarin ons vra dat die bestuur onmiddellik optree teen die betogers en dat die nodige voorsorgmaatreëls getref word om studente en personeel se veiligheid te verseker,” sê Du Preez.

“AfriForum se veiligheidspan is op ’n gereedheidsgrondslag om lede en nie-betogende studente by te staan, sou die universiteit nie bevoeg wees om hul studente se veiligheid te waarborg nie,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid in die sentraalstreek.

Intussen is registrasie by die Universiteit van KwaZulu-Natal en verskeie van Unisa se kampusse Maandag opgeskort nadat betogende studente die proses ontwrig het. Studente is ontevrede oor die feit dat hulle eers 15% van hul historiese studieskuld moet vereffen voordat hulle registreer. Hulle is ook boos omdat universiteite klasgelde en die koste van verblyf opgestoot het. Die Suid-Afrikaanse Unie vir Studente het Sondag gedreig om registrasie aan al 26 universiteite in die land stop te sit, nadat ʼn vergadering met die minister van hoër onderwys en tegnologie, dr. Blade Nzimande, oor dié sake nie na wense verloop het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Waar stop dit? ·

En as hulle nie slaag nie, dan gaan hulle ook afbrand…

EO ·

Hulle is mos nou mooi groot om te besef dat kostes styg. Dan nie? Hulle redeneer en tree op soos klein stoute kindertjies. Gooi tantrums.

Schalk ·

Studente in Sa net 20% klas loop dan is hulle ok .20 % ters ontwrig universiteit.20% ters regeer SA.Daarom is nog net 20 % van instansies in staatsbeheer nog effektief.TWINTIG PERSENTERS lekker ou 20 % ters.

Kobus ·

Die geweldenaars moet verwyder word en nie weer op Kampus tiegelast word nie. Hulle stel nie in studie belang nie. Maar nie die Regering of Universiteits owerhede het die moed om.op te tree nie.

Seeskulp ·

Almal “gelyk” maar sommiges net meer gelyk as ander…
Ons het n 2de jaar PUK student, baie hardwerkend en bring haar kant. Indien iemand dalk weet van moontlike beurs aansoek plekke vir Biochemie met Chemie as hoofvak laat weet my asseblief. Dankie

Bakhand ·

So lyk SOSIALISME. Jy kry sonder dat jy dit verdien of daarvoor moet werk. Dié wat die meeste EIS, is dié wat reeds niks bydra nie.

Totdat die pondjies opdroog…

Maraai ·

In my dae het jy geweet as jy nie kan bekostig nie maak jy plan. Beurs of lening of deeltyds. So nie moet jy maar begin werk…

@Maraai ·

Dis reg Maraai, selfhelp was ons voorland. Vandag het ons onopgevoede gegradueerdes, wat nie die waarde van enige iets besef nie.

Thelma ·

Enige iets wat die moeite werd is kos geld, as jy iets verniet kry moet jy weet dit is nie die moeite werd. Dit het tyd geword dat mense besef niks is verniet en die persoon wat jou iets leer het ‘n salaris nodig, dus MOET jy betaal.

Hans ·

Die universiteite het n lat vir hul self gepluj toe hul o a klagtes teruggetrek het,borgtog ens vir oortreders gereel en geen strafregtelike klagtes gelê het vir beskadiging/brand van geboue ens.

Onnodig ·

Moet asb nie hierdie onopgevoede vandaliste studente noem nie. n Student is iemand wat trots is op hul Universiteit en n sukses van hul lewe wil maak. Nie ontwrigtend en oproerig nie.

WONDER ·

Nou wat verwag die studente. Dat alles in hul skoot moet val? Word groot asb jy is student wat leer hoe die lewe werk.

A Mac ·

As hierdie nou al klaar aan die begin van die jaar gebeur wil ek nie sien wat die res van die jaar gaan gebeur nie. Wil hierdie mense studeer of soek hulle net ‘n plek waar hulle vir ‘n paar jaar kan hanna-hanna? My simpatie lê by die studente wat regtig wil studeer maar gyselaar gehou word deur die hooligans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.