Registrasie by Wits hervat, Tuks steeds gesluit

Die situasie Dinsdag by die Universiteit van Pretoria. Foto: @RRuffiez/Twitter

Die situasie Dinsdag by die Universiteit van Pretoria. Foto: @RRuffiez/Twitter

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg het Woensdag gesê registrasie by die instelling sal Woensdag hervat, terwyl die Universiteit van Pretoria (Tuks) se hoofkampus steeds gesluit is.

By Tuks het protesaksie Dinsdag voortgeduur nadat ʼn groep mense, onder wie kontrakwerkers by die universiteit, Maandag begin betoog het teen die uitkontraktering van werk en vir hoër salarisse. Volgens die universiteit is die protesaksie deel van ʼn nasionale veldtog wat ook bedrywighede by ander tersiêre instellings in Gauteng beïnvloed.

Anna-Retha Bouwer, Tuks se woordvoerder, het gesê studente en kontrakwerkers het deur die loop van Dinsdag van ander instellings buiten Tuks toegang tot die hoofkampus in Hatfield bekom.

“Die universiteit het ʼn dringende interdik teen die betogers verkry om die situasie onder beheer te bring en studente wat hard gewerk het om toelating by die universiteit te kry, wat dikwels ook ver reis, toe te laat om voort te gaan met die registrasieproses,” het Bouwer gesê.

Sy het gesê gesprekke tussen die universiteitsbestuur en die onderskeie belanghebbendes oor die uitkontraktering van dienste by die universiteit, duur voort. “Die universiteit werk ook saam met die departement van hoër onderwys en opleiding om die situasie op te los.”

Volgens Bouwer sal aanlynregistrasie voortgaan soos beplan, hoewel die universiteit Woensdag steeds gesluit is vir personeel en studente.

Die registrasieproses by Wits is Maandag opgeskort nadat studente daar met hul #FeesMustFall-protesaksie voortgegaan het. Betogende studente dring onder meer aan op gratis onderwys, geen registrasiefooie en die skrap van agterstallige studiegeld vir studente wat graad kry.

Die studente se verteenwoordigers by Wits het sedertdien die universiteit se aanbod van die hand gewys om studente ʼn maand grasie te gun om hul registrasiefooie te betaal.

Wits se bestuur het Dinsdag in ʼn verklaring gesê 20 studente is deur die kampus se veiligheidsbeamptes van die perseel verwyder nadat hulle die registrasieproses ontwrig het.

Alhoewel registrasie by die kampus na verwagting Woensdag gaan voortduur, kan studente ook aanlyn en telefonies registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Meraai ·

Nou maar goed. Hoe lank gaan die slimjanne aanhou betoog? Het hulle nog niks geleer nie? Elke keer wat daar stakings was, kan ‘n instansie nie funksioneer en dus nie ‘n inkomste genereer nie. Reg?

Geen wins = kom ons raak van dooie gewig ontslae en siedaar nog mense sit sonder werk en sonder ‘n toekoms! Glad nie moeilike wiskunde nie!

As broodwinner kan ek nie sien hoe jy in die huidige ekonomie durf staak nie! Jy is amper gewaarborg om jou moses teë te kom.

elize naude ·

ons huidige ekonomiese welvaart het ons te danke aan christelike waardes waarvoor ons voorvaders geveg het (staak is passiewe verg) teen diegene wat onderdruk het! maar diegene wat in voorspoed leef sit in hul gemakstoel en raak onrustig as ander vir hul regte veg… want dit mag beteken dat hulle moet deel met die wat nie het nie…

Berhalet Beukes ·

“Come on join the joyride… Get your tickets here!”

P Henning ·

Net jammer my 2 de jaar student kan nie verder somerskool bywoon sedert gister nie. Ongelukkig is daar klaar voor betaal. Ons kinders sal maar by oorsese instellings moet gaan studeer, want ek dink nie die huidige regering is in staat of het die wil om regtig iets aan hierdie situasie te doen nie. Miskien pas die skoen hulle, maar hulle kan nie bekostig om dit openlik te se nie.

Kaspaas ·

Die entitlement waarvan Chris Hart gepraat het – We want, we want ….. So asof almal hulle iets skuld.

Sarie ·

Ons gaan nog jare lank met hierdie studentonluste sit want Zuma en Nzimande gee mos maar net toe. Nou word die student se agterstallige skuld uit die leningsfonds wat miljarde rande beloop ook boonop afgeskryf. Hoe dink hulle waar moet al die geld vandaan kom. Daai een student gisteraand op die nuus het verlengstukke in haar hare wat om dit gedoen te kry meer as R1 000 kos , she was dressed to kill, maar sy kan nie iets bydrae tot haar studiegeld nie. Ek weet nie hoe dink die spul en Zuma en Nzimande moet die universiteite aan die gang bly nie. Hierdie student onluste moet direk voor die deur van Zuma en Nzimande gele word. Net soos in die jare voor die eerste verkiesing in 1994 toe die ANC geboorte gegee het aan die kultuur van nie betaling vir dienste gelewer soos munisipaledienste nie, net so het hulle nou ‘n nuwe baba gebaar, die student. Net soos hulle vandag nog nie die kultuur van nie betaal vir dienste nie uit die spul kan kry nie net so gaan hulle nooit hierdie nuwe kultuur uit die nuwe baba kry nie dit gaan maar elke jaar net erger en erger word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.