Studenteregistrasie by Unisa gaan voort, ten spyte van verskeie protesoptogte die afgelope week.
Martin Ramotshela, die universiteit se woordvoerder, het gesê die staking het wel hul Muckleneuk- en Sunnyside-kampus geraak. “Registrasie word egter nie by die Muckleneuk-kampus gedoen nie en kan ook by ons dienssentrums regoor die land gedoen word,” het hy gesê.
Studente en werkers het die afgelope week onder meer betoog teen arbeidsmakelaars en studiegelde. “Die universiteitsraad het in Desember ʼn taakspan aangewys om inkontraktering by die universiteit te ondersoek. ʼn Ooreenkoms is bereik. Geen dispuut is verklaar nie en die raad is ses maande gegun om dit in werking te stel. Dit help nie die betogers span die kar voor die perde in nie,” het Ramotshela gesê.
Mpho Morolane, EFF-studenteleier, het vroeër Donderdag studente aangeraai om huiswaarts te keer. “Ons (EFF) sal bepaal wanneer studente kan registreer.”
Unisa het gesê studente kan ook aanlyn vir die nuwe akademiese jaar registreer.