Registrasie vir Gauteng-leerlinge vandag geopen

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Die 2016 registrasieproses vir Gauteng-leerlinge het vandag geopen. Foto: Pixabay.com

Ouers in Gauteng kan van vandag af hul kinders inskryf by die skool van hul keuse vir die 2016-skooljaar. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het egter weereens ʼn beroep op ouers en skole gedoen om nie elektroniese aansoeke vir die doeleindes in te dien nie.

“Daar is te veel onsekerheid oor die Gautengse departement van onderwys (GDO) se gebrekkige bestuur en kommunikasie van die proses. Ons is verder bekommerd oor die onderliggende politieke beweegredes agter die sentralisering van aansoeke,” het Melanie Buys, Fedsas se provinsiale bestuurder in Gauteng, gesê.

Fedsas het vroeër vandeesmaand die GDO se nuwe e-platform vir aansoeke as onregmatig en teenstrydig met die skolewet bestempel. Die federasie is gereed om ʼn interdik teen die gebruik van die e-platform te kry indien dit op skole afgedwing word. Maroela Media het vroeër berig dat die platform slegs twee kriteria vir plasing bereken, naamlik of die ouer of voog in die skool se omgewing woon of werk en of die aansoeker reeds ʼn broer of suster in die skool het. Buys het gesê skole se taal- en toelatingsbeleid word pertinent geïgnoreer, “wat dit laat lyk asof die GDO hierdie registrasieproses wil gebruik om Afrikaans-enkelmediumskole in dubbelmediumskole te omskep”.

Die departement het egter verlede Woensdag gesê die bekendstelling van die e-platform is ʼn poging om die aansoekproses vir ouers te vergemaklik en die gebruik van die platform is opsioneel.

“Ouers moet steeds so gou moontlik aansoek om toelating by die skool van hul keuse doen om hul kinders se name op die waglys vir 2016 te kry. Indien alle beskikbare plekke in die skool nie opgeneem is teen 26 Mei nie, wanneer plasings gedoen word, skep dit die geleentheid vir die departement om leerlinge met ʼn ander taalvoorkeur in die skool te plaas. Dit kan daartoe lei dat skole gedwing word om dubbelmedium te word,” het Buys gesê.

Sy het voorgestel dat skole onderling moet saamwerk om te verseker dat ouers van gr. 7-leerlinge hul skriftelike inskrywings reeds vandag by die hoërskole van hul keuse indien. Laerskole wat nie hul eie gr. R-klasse het nie, moet kleuterskole en ouers in die omgewing deeglik inlig oor die dringendheid van aansoeke vir 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.