Registrasies hervat ná chaos by Unisa-kampus

Studente staan in rye buite Unisa se Sunnyside-kampus in Pretoria (16 Januarie 2018). Foto: Brenda Masilela/ANA

Die situasie by Unisa se Sunnyside-kampus in Pretoria was Dinsdag weer rustig nadat chaos Maandagoggend uitgebreek het toe voornemende studente begin het om oor die universiteit se hekke te klim om vir die 2018 akademiese jaar te registreer.

Martin Ramotshela, ʼn woordvoerder van die universiteit, het gesê bedrywighede het teruggekeer na normaal en die universiteit kon 08:00 vanoggend weer open. “Studente het van so vroeg as 05:00 af in rye begin staan. Daar was geen ontwrigtings of versteurings nie,” het Ramotshela gesê.

Hy het gesê verteenwoordigers van die universiteit het met studente van die EFF en Sasco vergader wat ʼn lys eise aan hulle gegee het. “Al wat ek nou kan sê is dat ons die eise bestudeer.”

Sommige van die eise sluit in die afskryf van skuld en gratis registrasie. “Nadat ons met die studente vergader het, het hulle ingestem om ons kans te gee om die eise te oorweeg en hulle terugvoer te gee,” het hy gesê.

Studente kon Dinsdag gesien word waar hulle in rye by die kampus inbeweeg. Dimakatso Mabula, ʼn voornemende student wat graag wil registreer om bemarking te studeer, het gesê sy is bly dinge het na normaal teruggekeer. “Vandat ek hier gekom het, het dinge goed gegaan en die rye beweeg vinnig,” het sy gesê.

Maandag het chaos ontstaan toe talle studente wat buite die geslote hekke van die Sunnyside-kampus gewag het om te registreer ongeduldig geraak het en hul weg na die kampus oopgedwing het.

Die hekke was heel oggend lank gesluit met ʼn afkondiging wat elke af en toe gemaak is dat die hekke binnekort sal open. Daar is aan die studente gesê dat slegs 20 studente op ʼn slag toegelaat sal word om die kampus binne te gaan om ʼn stormloop te vermy.

Ure later was die hekke egter steeds gesluit wat daartoe gelei het dat die voornemende studente onrustig geraak het. Hulle het daarna begin om oor die hekke te klim om by die registrasiesaal te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.