Registreer dán vir plaaslike verkiesings  

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Henk Kruger/African News Agency)

Kiesers sal in Julie kan registreer vir die plaaslike verkiesings wat in Oktober vanjaar plaasvind.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Woensdag bekend gemaak dat 23 146 stemlokale landwyd op 17 en 18 Julie van 08:00 tot 17:00 oop sal wees vir nuwe kiesers om te registreer en vir bestaande kiesers om hul registrasiebesonderhede na te gaan en aan te pas indien nodig.

Die plaaslike verkiesings vind op 27 Oktober vanjaar plaas.

Volgens die OVK is die naweek van 17-18 Julie die enigste geleentheid vir kiesers om te registreer en hul besonderhede na te gaan by stemlokale. Registrasies kan egter deurlopend by OVK-kantore gedoen word totdat die verkiesings geproklameer word.

Geregistreerde kiesers kan ook hul registrasiebesonderhede op die OVK se webtuiste nagaan en aanpas.

Kiesers word ook daaraan herinner dat hulle by ʼn stemlokaal in die wyk waarin hulle gewoonlik woon geregistreer moet wees en ʼn adres of ʼn volledige beskrywing van ʼn woonplek moet verskaf. ʼn Bewys van adres is egter nie nodig vir registrasie nie.

Kiesers wat sedert die laaste verkiesing verhuis het, sowel as diegene met verkeerde, onvolledige of ontbrekende adresse, word veral versoek om hul besonderhede op te dateer.

Kiesers wat in persoon ʼn stemlokaal besoek om hul besonderhede te registreer of op te dateer, word daaraan herinner dat hulle ʼn masker of toepaslike gesigsbedekking moet dra en sosiale afstand moet handhaaf. Handreinigingsgeriewe sowel as skryfbehoeftes sal by elke stemlokaal voorsien word. Kiesers wat hul eie pen wil saambring, word aangemoedig om dit te doen, hoewel daar penne beskikbaar sal wees wat gereeld ontsmet sal word.

Die OVK het ʼn beroep op alle stemgeregtigde kiesers – en veral dié wat die eerste keer gaan stem – gedoen om van die eenmalige registrasienaweek of die aanlynportaal gebruik te maak om alles gereed te kry sodat hul in Oktober kan stem.

Vir meer inligting besoek die OVK se webtuiste by www.elections.org.za. Die OVK se inbelsentrum sal in Junie beskikbaar wees en kan gekontak word by 0800 11 8000 of stuur e-pos na [email protected].

Bestaande kiesers kan hul registrasiebesonderhede op die webwerf nagaan of hul ID-nommer SMS na 32810 (SMS’e kos R1).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genis ·

Het ons al nuwe tegnologie om te stem, of gaan die korrupte polisie weer die stem briewe aanry? Indien die verkiesing gaan plaanvind..

JohanR ·

Sal ek my ANC kos pakkie en T-hemp soe die 22ste October ontvang?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.