Regmatige Tshwane-werkers sál betaal word – administrateur

(Foto: pixabay)

Mpho Nawa, administrateur van die Tshwane-metroraad, sê regmatige werkers van die raad wat hul werkstatus laat bevestig het en steeds nie betaal is nie, sal teen Donderdagaand hul salarisse ontvang.

Vakbonde is woedend nadat die metroraad begin het met ʼn proses om sogenaamde spookwerkers op sy stelsel op te spoor en te verwyder – maar die salarisse van verdienstelike werkers het in die proses ook in die slag gebly. Tydens die proses is van Tshwane-werkers verwag om hul besonderhede by die raad te bevestig. Indien hulle dit nie teen Woensdag gedoen het nie, is hulle nie betaal nie.

Volgens Nawa het ʼn oudit by die metroraad verskeie werkers uitgelig wat vermoedelik op bedrieglike wyse deur die stad betaal word en ʼn oudit- en verifikasieproses is van stapel gestuur om vas te stel presies hoeveel regmatige werkers die metro in sy diens het.

Die proses is tussen 14 en 19 Augustus gedoen, maar “tegniese probleme” het veroorsaak dat sommige regmatige werkers glad nog nie vandeesmaand betaal is nie. Die metro het die spertyd vir inligting tot Woensdag uitgestel om nog werkers kans te gee om hul besonderhede te laat nagaan.

Die stad sê werkers wie se status bevestig is, maar wat steeds nie hul salarisse ontvang het nie, sal voor middernag Donderdag betaal word, terwyl diegene wat vandag nog aanmeld vir verifikasie Vrydag betaal sal word.

Nawa het vakbonde se bewering, dat die stad sowat 7 000 van sy werkers se salarisse onregmatig weerhou, verwerp.

“Dit is ooglopend vals om die administrateurs daarvan te beskuldig dat hulle meer as 7 000 werkers se salarisse weerhou. Die verifikasieproses is gedoen sodat inwoners van Tshwane weet hulle betaal werkers se salarisse wat regmatig op die stad se betaalstaat is,” het hy gesê.

“Die proses het ongelukkig spookwerkers blootgelê wat die mense van Tshwane van hul swaarverdiende geld besteel deur onregmatig, onwettig en bedrieglik salarisse te ontvang wat hulle nie verdien nie.”

Nawa het gesê die administrateurs is onverskrokke in hul pogings om die stad op te ruim en spookwerkers uit te snuffel.

Hy sê die administrateurs het nie hulself na die stad ontplooi nie en wil ʼn staatamptenary vestig wat die stad se inwoners dien, ongeag politieke affiliasie.

“Wanneer ons tyd verstryk, sal ons die stad met ʼn oop gemoed verlaat en weet ons het ons pligte na die beste van ons vermoë uitgevoer,” het Nawa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Deon

En wat gaan gedoen word aan die sg “spook werkers”?