Regrukplan by Eskom vorder goed – De Ruyter

André de Ruyter. (Foto: ANA)

André de Ruyter, hoof van Eskom, sê die beleërde kragvoorsiener besef hy het ʼn belangrike rol om te speel in die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie omdat daar sonder betroubare elektrisiteitsvoorsiening geen volhoubare ekonomiese opbou kan wees nie.

De Ruyter, wat Donderdag die hoofrede by die Joburg Indaba gelewer het, sê as deel van sy omkeerplan is daar gekonsentreer op dringende en interafhanklike prioriteite. Planne is in werking gestel om bedryfsbestendigheid te verseker en die kans op beurtkrag te verminder. Die planne spruit uit Eskom se instandhoudingsherstelprojek en volgens De Ruyter sal die voordele van dié projek reeds teen April volgende jaar gesien kan word.

“Teen September volgende jaar sal ons die moontlikheid van beurtkrag nie heeltemal uitgeskakel het nie, maar reeds beduidend verminder het.

“Eskom se pogings om die aanleg op te knap en in stand te hou en om die vlakke van prestasie en betroubaarheid te verbeter is egter nie genoeg om beurtkrag te beëindig nie. ʼn Bestendige verskaffingstelsel skep vertroue vir die sakesektor om te begin belê in nuwe geleenthede en bestaande geleenthede uit te brei. Dit verhoog aanvraag en plaas verdere druk op die infrastruktuur,” sê De Ruyter.

Hy sê Suid-Afrika benodig bykomende opwekkingskapasiteit om in die bestaande aanvraag te voldoen én voorsiening te maak vir ʼn groeiende ekonomie. “Ons benodig daardie bykomende kapasiteit boonop vroeër eerder as later.”

Volgens De Ruyter is Eskom ingenome met die besluit dat ʼn bykomende 11 873 MW teen 2030 verkry gaan word en neem hy kennis van die noodverkryging van nog 5 200 MW. Hierdie ekstra kapasiteit moet so gou moontlik beskikbaar gestel word.

De Ruyter sê Eskom is ook in die proses om sy inkomste – wat onder groot druk is – te probeer verbeter. Minder krag is verkoop en die tariefverhogings wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) toegestaan het, is volgens De Ruyter nie ʼn weerspieëling van werklike koste nie.

Hy sê daarsonder gaan Eskom se poging om meer doeltreffend sake te doen, slegs korttermynsukses oplewer. Eskom het dus besluit om verskeie van Nersa se besluite in die hof te laat hersien. De Ruyter sê Eskom wil nie in hofgedinge met sy reguleerder betrokke raak nie en hy sien uit na wetgewing wat ʼn minder vyandige benadering sal daarstel.

“Terwyl ons vra vir tariewe wat koste weerspieël, het ons ook ʼn verpligting om ons uitgawes behoorlik en gedissiplineerd te bestuur. Ons vra dus nie vir tariewe om ons ondoeltreffendhede te finansier nie, ons vra vir tariewe wat redelike koste weerspieël.”

De Ruyter sê Eskom het reeds begin met die heronderhandeling van steenkoolkontrakte, terwyl munisipaliteite se skuld aan die kragvoorsiener steeds sy volhoubaarheid bedreig. Hy sê Eskom het geen ander keuse as om dié skuld – wat teen einde Augustus meer as R31 miljoen beloop het – in te vorder nie. Hy sê diegene wat krag gebruik moet daarvoor betaal, en dié beginsel moet vir almal geld.

Teen Maart vanjaar was Eskom se skuld R488 miljard en De Ruyter sê die rente op dié bedrag is heeltemal onvolhoubaar.

Eskom is ook besig met die proses om in drie eenhede – opwekking, verspreiding en transmissie – te ontbondel.

Hy is reeds besig met die herstrukturering van personeel en die inwerkingstelling van gevolgbestuur en tugstappe wanneer werkers hul plig versuim.

De Ruyter sê sommige van die kragvoorsiener se toekomsplanne sluit in die omskakeling van sy ouer steenkoolaangedrewe kragsentrales na gas, herwinbare energie en biomassa-na-energie in ʼn poging om kapasiteit ʼn hupstoot te gee.

Eskom steun ook die regering se geïntegreerde hulpbronplan wat gemik is op ʼn breër verskeidenheid opsies vir kragopwekking.

De Ruyter sê talle probleme lê nog voor, maar dat dit nie onoorkomelik is nie en dat Eskom se toekoms beter as sy verlede gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wondermaarnet ·

Hopelik beteken dit ook die onbevoegde oorbodige personeel gaan uitgedun word.

Kerneels ·

Oor hierdie olifant in die kamer word niks gese^ nie… Sonder om die (duur) dooie hout uit te kap, sal Eskom nooit winsgewend kan wees nie.

Kokerboom ·

Dankie Andre..dis die taal wat ons wil hoor. Baie sterkte

OW ·

So praat ‘n man wat weet waaroor omkeer strategie en bestuur in die algemeen gaan.Enige probleme kan omgekeer word met kundige kennis en bestuur.Sterkte mnr de Ruyter.

JJB ·

Die Olifant in die kamer is Soweto. Wat van Soweto se agterstallige skuld?

Mallie ·

Dis net n bewys dat al die crs em jms niks kan doen sonder die gehate wittes nie. Bou so voort mnr de ruyter. Wys hulle dit kan gedoen word met die regte mense.

Stefan ·

Wag tot die vakhonde weer staak vir ‘n 8 of 10% verhoging, hoe werk die sommetjies dan?

J ·

Ek waarborg ‘loadshedding’ met NUMMA ONE se hofverskyning binnekort!

Hou dop!

Daar sal vanuit die niet ‘n ‘spanner’ in die Eskom aanlegte beland?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.