Regsaksie kan volg sou Zuma immuniteit kry

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die DA het Donderdag gedreig om die howe te nader indien Cyril Ramaphosa, president van die ANC, vir pres. Jacob Zuma immuniteit teen vervolging toestaan as deel van die onderhandelinge rondom sy uittrede.

Dit kom te midde van berigte dat Ramaphosa aan die ANC-koukus in die parlement bevestig het dat vrywaring van vervolging nie deel vorm van die onderhandelings nie.

Die DA meen egter dit is nie vergesog om te spekuleer dat immuniteit egter wel deel uitmaak van die onderhandelinge tussen Ramaphosa en Zuma nie.

“Ons kan nie toelaat dat Zuma aanspreeklikheid vryspring nie aangesien hy sy eed verontagsaam het en die belange van sy vriende en familie bo die belange van die mense van Suid-Afrika geplaas het.”

Die DA het gesê dit is onbegryplik dat immuniteit eers oorweeg kan word gegewe die vernietigende impak wat Zuma se presidentskap op die land gehad het. “Dit wys ook dat die ANC onder Ramaphosa presies dieselfde ANC is wat dit onder Zuma was.”

Zuma word deur 783 aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en afpersing in die gesig gestaar.

Die DA se aandrang dat Zuma nié immuniteit gegun moet word nie volg nadat Ramaphosa aangekondig het hy en Zuma het Dinsdagaand begin met gesprekke oor die oorgang en kwessies rakende sy posisie as president van die land.

Dit het daartoe gelei dat Woensdag se vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, waar daar oor Zuma se lot besluit sou word, uitgestel is.

Ramaphosa het gesê daar sal verder gekommunikeer word oor Zuma se posisie as president sodra tersaaklike aangeleenthede afgehandel is. Hy het gesê hoewel die huidige toedrag van sake die uitstel van die staatsrede, wat Donderdagaand sou plaasvind, genoodsaak het, gaan die regering en die parlement se bedrywighede voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jacques Venter ·

Ek glo die DA span die kar voor die perde in. Ek glo nie ons grondwet maak voorsiening vir amnestie nie.

Kan enige grondwet kenner dalk help

JohanV ·

Die Grondwet maak nie voorsiening vir amnestie nie. Ook ander prerogatiewe wat in die Westminster-stelsel bestaan het, is afgeskaf. Die president het wel sekere prerogatiewe wat eintlik maar meer met die posisie as staatshoof, spesifiek die uitvoerende gesag, te make het.

Johan ·

Ek dink dis effe voortydig want, soos ek ons reg verstaan moet jy eers op die aanklagte tereg staan en skuldig bevind word alvorens ‘n “pardon” toegestaan word teen die straf of strawwe.
Immuniteit voor skuldigbevinding sou ‘n politieke vergryp teen die Grondwet wees

Peters francois ·

Niks nieuws onder de zon de grote vissen ontsnappen altijd aan het net

joev ·

Immuniteit by “wie” kry? die ANC? die anc is nie ‘n gesag nie, is politieke party as ek reg onthou!

Jerry ·

Ek hoop net dat Afri-Forum nie ook op die “bandwagon” spring om Zupta te vervolg. Die laaang arm van die gereg sal hom uiteindelik in katrol. Zupta se boosheid het hom ingehaal en sal hom uiteindelik vernietig. Geduld moet nou die wagwoord wees ten einde geregtigheid 100 % te laat seevier.

jaco ·

Zuma is nou nie meer so gewild by almal in die ANC nie, maar vir n baie lang tydperk was hy wel.
So Zuma is in die ANC en die Nasionale Vervolgingsgesag word beheer deur die ANC-regering. Dan is dit mos nou ‘n administratiewe formaliteit wat hoogstens een week sal duur om eenvoudig te sê “klagtes geskrap; GEEN vervolging. Case closed”. waarom sloer en sloer en sloer al vir ‘n paar jaar? Kan die ANC dan nie met die ANC saamwerk nie?
Soveel ander nonsens van die ANC word dan deur die ANC toegesmeer.

Akademi Buktu ·

Die DA se spesifieke verklaring illustreer maar net weer dat die party onder die leierskap van ‘n politieke tiener staan.

Elsa ·

zuma moet instaan vir sy dade en betaal vir sy korrupte planne en dade…wees ‘n man en bedank en dra die gevolge , jy was mos verkeerd en hou op uuitstel , doen dit nog vandag en trap uit politieke arena

PJC ·

Amnestie is nie moontlik nie maar sou hy ooit skuldig gevind en gevonnis word sal sy maatjies sorg dat hy vinnig parool kry soos vele ander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.