Regsaksie kom ná universiteite sluit

Betogings op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus (20 September 2016). Foto: Twitter via @afriforumjeug

Betogings op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus (20 September 2016). Foto: Twitter via @afriforumjeug

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, gaan ʼn klasaksie van stapel stuur teen universiteite wat “weens hul versuim en nalatige optrede” daarvoor verantwoordelik is dat die instellings moes sluit en betalende studente moontlik nie hul akademiese program vir 2016 sal kan voortsit nie.

Dit kom nadat talle universiteite hul akademiese bedrywighede heeltemal opgeskort het weens die voortslepende protesaksie vir gratis onderrig op verskeie kampusse regoor die land. Verskeie universiteite, onder meer die Universiteit van Pretoria (UP), die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Universiteit van die Vrystaat (UV), het aangekondig hul kampusse is heeltemal gesluit en het studente gevra om die kampusse te ontruim nadat die #FeesMustFall-betogings buite beheer geraak het.

AfriForum het in ʼn verklaring gesê die organisasie het van verskeie bronne verneem universiteitsbesture het, ondanks interdikte wat teen betogende studente bekom is, steeds opsetlik versuim om dié interdikte af te dwing.

“Dié optrede is die direkte oorsaak dat duisende studente buiten finansiële skade, ook ʼn verlies aan onderrigtyd ly. Daar is ʼn wesenlike moontlikheid dat studente vanjaar se studies volgende jaar sal moet voortsit,” het die organisasie gesê.

'n Klaskamer by die Universiteit van Pretoria waar 'n toets Maandag, 19 September 2016 deur betogers ontwrig is. Foto: Verskaf

‘n Klaskamer by die Universiteit van Pretoria waar ‘n toets Maandag, 19 September 2016 deur betogers ontwrig is. Foto: Verskaf

Volgens die organisasie het AfriForum universiteite by verskeie geleenthede versoek om dissiplinêre stappe teen die geïdentifiseerde belhamels te doen en daardie studente se studies op te skort en hulle toegang tot kampusse te verbied. Universiteite het egter die versoeke geïgnoreer en laat steeds voortgesette geweld op kampusse toe.

“Ons het gesien hoe die geweld op kampusse toeneem en selfs tot die dood van ʼn werknemer gelei het,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê. “Dit is onaanvaarbaar dat universiteite toelaat dat studente aangerand, geïntimideer en geviktimiseer word net omdat hulle klas toe wil gaan. Die universiteitsbesture moet nou verantwoordelikheid neem vir hul gebrek aan optrede.”

AfriForum het reeds ʼn petisie van stapel gestuur, waarby ouers en ander ondersteuners hul besonderhede kan voeg om deel te vorm van ʼn regsaksie teen universiteite waar studente te na gekom is. Klik hier om AfriForum se petisie te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
DD

Dankie Afriforum. Weereens kan ‘n mens op julle staatmaak. As enkelma van ‘n betalende tweedejaar BSc student moet ek elke dag toekyk hoe bekommerd my kind is oor die naderende eksamen en toetse en praktiese sessies wat nog nie afgehandel is nie. Ek betaal my maandelikse bydrae aan julle met groot vreugde. Nogmaals dankie !!

TTh

Ek vertrou hierdie klasaksie eis sal ALLE kostes insluit vir 2016, klasgelde, petrol geld, koshuisgelde, alle etes, boeke, internet en verlies aan inkomste vir een jaar gebasseer op die eerste jaar na universiteit se markverwante verwagte inkomste plus rente, en voorts ook die saamgestelde rente terug te betaal op 2016 se leningsgelde, plus 10% op die totaal vir pyn en lyding – PER STUDENT. Nou gaan die stomme sotlike regering BETAAL for their people’s actions.

humor

Alles het in n walglike slapgattigheid verval.Nie net kom die universiteite hulle verantwoordelikheid nie na nie, maar ook het die ouerkorps en die gemeenskap n taak om te vervul.

Jeanne

Ek stem saam met Afriforum hoekom moet daar vir ‘n handjievol opstokers en protesgangers ingegee word. As studente opstaan teen die betogers, is hulle rassisties, maar eintlik is dit jou REG om veilig klas te draf en eksamen te skryf. Van wanneer af mag een groep se REG om te betoog iemand anders se REG om klas te draf wegneem? Dit word heeltemal te maklik aanvaar, Die studente ignoreer enige interdik wat beteken hulle het geen respek vir die reg en howe en geregtigheid nie maar dreig self met ‘n interdik om ‘n ander universiteit te verhoed om ‘n meningsopname… Lees meer »

Riaan

Hierdie aksies moet teen die topbestuurslede van die universiteite in hul persoonlike hoedanigheid ingestel word en nie teen die universiteit as ‘n regspersoon nie, want anders sal dit in elk geval die betalende ouers en studente wees wat moet opdok vir die skadevergoeding.