Regsaksie kom om kragonderbrekings te verhoed

Piet le Roux

Die sake-organisasie Sakeliga, voorheen bekend as AfriSake, het regsaksie begin met die oog op ʼn oplossing wat Eskom landswyd sal verhoed om elektrisiteit na betalende eindgebruikers te onderbreek.

Met die regsaksie doen Sakeliga aansoek om as vriend van die hof toe te tree tot ʼn belangrike regsgeding deur Resilient Properties en andere teen Eskom en die Emalahleni-munisipaliteit. Die Emalahleni-munisipaliteit skuld Eskom na wat berig word sowat R1,6 miljard, in die lig waarvan Eskom elektrisiteit van die dorp wil weerhou. In die geding vra Resilient Properties en ander applikante egter die hof se bystand om te verhoed dat Eskom elektrisiteit na die plaaslike gemeenskap onderbreek.

Piet le Roux, uitvoerende hoof Sakeliga, het gesê die organisasie kan nie toelaat dat betalende elektrisiteitsverbruikers se krag afgesny word net omdat een staatsinstelling nie sy rekeninge aan ʼn ander kan betaal nie.

“ʼn Ekonomiese katastrofe is besig om in plaaslike gemeenskappe te ontvou en boonop gaan plaaslike sakelui groot koste aan om die kragonderbrekings te stop. Sakeliga tree daarom, in die belang van ʼn oorkoepelende oplossing, tot hierdie saak toe om die hof in die ontwikkeling van toepaslike nasionale beginsels by te staan.”

Le Roux het gesê Eskom se besluit om elektrisiteit na hierdie en ander munisipaliteite te onderbreek is voortydig en onreëlmatig.

“Dit is vir Eskom ʼn gerieflike illusie om te maak asof munisipaliteite sy klante is en dat hy derhalwe by magte sou wees om elektrisiteit na munisipaliteite met agterstallige skuld te onderbreek. In werklikheid is hierdie entiteite almal bloot verskillende bene van die staat, en is munisipaliteite inderwaarheid eerder invorderingsagente as wat hulle eindgebruikers is. Ons wil, as vriend van die hof, wys op statutêre bepalings vir hoe verskillende staatsorgane hul onderlinge geskille by wyse van mediasie en arbitrasie moet bylê. Natuurlik moet munisipaliteite hul rekeninge aan Eskom betaal, maar ons voer aan dat betalende eindgebruikers nie belas kan word met probleme wat tussen staatsorgane afspeel nie.”

Le Roux het gesê Sakeliga betreur Eskom se pogings om die relevante dispuutbeslegtingsmeganismes te omseil.

In sy hofstukke voer Sakeliga daarom onder meer aan: “Eskom het nie net in gebreke gebly om die hof om hulp te nader nie, maar ook versuim om enige alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures te volg. Eskom se versuim loop nou daarop uit dat elektrisiteitsverbruikers hulp by die hof moet vra – iets wat die wetgewende bepalings in gees en doel juis wou verhoed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Alida ·

Dis net reg foeter hulle op. Ons betaal ten duurste en vir ons ou mense is die TV al geselskap of ontspanning nou moet ons in die donker sit met gevoude arms. Dis twak en moet gestop word.

John ·

Hoekom laat Eskom toe dat rekeninge so oploop sonder vroee optrede. Kragverbruikers dra nie kennis van munisipale sake nie en skelmstreke word verdoesel. Die staat en provinsie moet eintlik pa-staan vir hierdie volgehoue truuks by munisipale amptenare met hul groot salarisse en blink karre. Hierdie voordele behoort ingeperk te word want die beamptes glo skynbaar hulle is as keisertjies ingehuldig. Die’ dat hulle nie die poste wil ontruim as hul uitgevang word nie.

Johanna Botha ·

Ag eskom is te blameer ….sny die krag as mense nie betaal ….MAKLIK ! Nou het eskom n nog grote probleem …hehe die mense is n groot grap !

jaco ·

sakeliga, afrisake, afriforum, solidariteit: dis almal organisasies wat ineengeweef is met mekaar. so nou wonder ek maar net: die wit lede van solidariteit staak OOK by Eskom en dit beteken dus hulle help die instel van beurtkrag aan, maar hulle wit rasgenote by Sakeliga wil met regsaksie die beurtkrag keer. IETS maak nie sin nie…

Paul ·

Lees weer die berig waarom dit gaan. Dit gaan oor die weerhouding van krag aan munisipaliteite deur Eskom omdat daardie munisipaliteite aan Eskom geld skuld, maar die eindverbruiker wat die munisipaliteit vir sy krag betaal het, kry ook nou onregmatig saam met daardie wat nie betaal het nie pak. Dit het niks met staking of ras te doen nie.

Rooi Jan ·

Jaco gaan terug en lees die artikels hieroor weer. Eerstens staak die Solidariteit werkers nie hulle hou die ligte aan wanneer hulle nie met swepe van die hekke af weg gehou word nie. Tweedens is die hofgeding waaroor hierdie artikel gaan iets anders wat niks met die beurtkrag situasie te doen het nie dit is ESCOM wat die munisipaliteit probeer dwing om hulle rekening te betaal. Dan vra jy om verskoning aan Afrisake en die werkers wat deur Solidariteit verteenwoordig word.

Lieb ·

Ultimately gaan selfbeskikking die enigste antwoord vir betroubare krag wees.

Paul ·

Afrisake, en dan het julle seker ook opgemerk CR het hul bevinding betreffende grondonteiening gisteraand laat bekend gemaak. Ala Zuma, wat sy kabinet in die middel van die nag geskommel het. En CR se toespraak was nogal vooraf op band opgeneem en laataand eers uitgesaai.

Callie van der Merwe ·

Net 2 vinnige punte. Die Sakeliga is net so skelm en keur nie-betaling van dienste goed as hulle voortgaan met die aksie. Le Roux behoort hom te skaam. Tweedens Om vir dieselfde organisasie in die bres te tree, geen Solidariteit lede staak nie.

Tiemie ·

Jammer om u te steur, maar ek weet nie of u opgelet het dat ons in ons huise oorval en vermoor word nie. Onteiening sonder vergoeding het ook nou ‘n realiteit geword met die regering se besluit gisteraand. Daar is meer drukkende kwessies asseblief.

Sarie ·

Ja en die van ons wat voorafbetaaldemeters het betaal eers vir ons krag en dan gebruik ons, en dan kom eskom met sy beurtkrag of sny die dorp se kragtoevoer af, so ons betaal weereens vir ‘n diens wat ons dan nie kan gebruik nie

marous ·

Waarom bring Eskom nie ‘n regsaksie nie ? Eenvoudig , want dit beteken niks . Waarom is sakeliga en afrisake en afriforum so sku om nie met ‘n massa belasting weerhouding te begin nie ? Dalk besef hulle dit gaan die gewenste uitwerking meebring en is bang daarvoor? Dis al manier om terug te slaan en as hulle dit nie wil erken nie moet hulle in plantasies bele want hulle gaan baie paier nodig kry …vir maagwerkings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.