Regsaksie oor grasietydperk vir rybewyse

(Argieffoto: Arrive Alive)

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan regstappe neem teen minister Fikile Mbalula se aankondiging dat die departement van vervoer nie die grasietydperk vir rybewyse wat verval het, ná 31 Maart 2022 gaan verleng nie.

Dit ondanks die feit dat die regering steeds nie in staat is om behoorlike dienslewering te bied nie en dat talle lede van die publiek etlike maande gelede hul lisensie-aansoeke ingedien het.

AfriForum het sy regspan vandag opdrag gegee om ’n prokureursbrief aan die departement van vervoer voor te berei waarin die organisasie eis dat die grasietydperk vir die hernuwing van bestuurderslisensies vir ’n redelike tydperk ná 31 Maart 2022 verleng word. AfriForum oorweeg verder die moontlikheid om ’n hofsaak aan te pak indien die grasietydperk nie verleng word nie en ’n lid van die publiek gestraf word omdat hulle sonder ’n geldige bestuurderslisensie bestuur as gevolg van die regering se onvermoë om hierdie diens te verskaf.

Hierdie aksie mag dalk ’n regspresedent skep wat bevestig dat die publiek onwettiglik gestraf word vir die departement se eie mislukte dienslewering.

“Indien AfriForum daarin slaag om ’n verdere verlenging van die grasietydperk te kry, sal dit die publiek ’n nodige blaaskans gun om die hernuwing van hulle lisensies te finaliseer,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. “Dit sal net regverdig wees aangesien die huidige agterstand van lisensie-aansoeke in die eerste plek te wyte is aan die departement se eie sistemiese en diepgewortelde mislukkings.”

AfriForum is al vir ’n geruime tyd aan die voorpunt van die geveg teen die departement van vervoer se dienslewering. In hierdie opsig het AfriForum in September 2021 ’n formele klag van korrupsie en wanbestuur by die kantoor van die openbare beskermer ingedien. Die openbare beskermer het bevestig dat die klag ondersoek word. Aan die begin van 2022 het AfriForum ook verdoemende beeldmateriaal opgeneem wat die wanfunksionering van die aanlyn NaTIS-stelsel en die korrupsie by die Waltloo-lisensiekantoor ontbloot. Hierdie beeldmateriaal is ook aan die openbare beskermer gestuur as addisionele bewyse vir die bewerings wat in die klagte uiteengesit is.

“Lede van die publiek is eerlikwaar keelvol vir die departement se flou verskonings vir sy skokkende diensleweringstandaarde. Dit is waarom AfriForum namens sy lede en die breër publiek optree deur voort te gaan om druk op die departement van vervoer uit te oefen om sy verantwoordelikheid om behoorlike dienslewering te bied, na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohnnyS

Afriforum nader van die staanspoor die aangelegenheid verkeerd. ‘n Bestuurders lisensie verval NIE. Dit is slegs die kaart wat ‘n vervaldatum op het. Daar is tans GEEN strafbepaling in die Nasionale Pad Verkeerswet waarvoor ‘n bestuurder wat met ‘n kaart wat verval het aangekla kan word.

ES

Tipies, daar is geen aanspreeklikehid vir swak dienslewering in hierdie land nie en nou word Jan Alleman gestraf vir die departement van vervoer se wanbestuur.

Die ergste van als is dat mens deur Administatiewe Aksie, nie die minister direk aanspreeklik kan hou nie., so hulle kan maak wat hulle wil en se net wat hulle wil.

Ek hoop Afriforum gee hul ‘n bloedneus in die hof.

Andre

Nog n bewys van hoe patetie en dom die ANC is, hierdie mens het nie n idee wat hulle doen en die skade wat hulle doen nie.

Andre

Die is hoogtyd dat iemand betaal word om die regering te oorval!!

Julia

Ekself wag al ses maande dat my lisensie hernu moet word. Alles ingevul en betaal maar daar gebeur net niks.