Regsaksie oorweeg oor Tshwane-speaker

Die Tshwane-metro is steeds leierloos met verskeie vertragings om ‘n nuwe burgemeester te verkies. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

Die veelpartykoalisie in die Tshwane-metro oorweeg regsaksie nadat ʼn beoogde mosie van wantroue in die speaker nie Maandag plaasgevind het nie.

Mncedi Ndzwanana, speaker en lid van die African Transformation Movement (ATM), het die raadsvergadering verdaag voordat die mosie voor die raad kon dien. Ndzwanana het die raadsvergadering as “onwettig” bestempel.

Johann Mettler, stadsbestuurder van Tshwane, het die raadsvergadering byeengeroep nadat hy ’n petisie van die DA en sy koalisievennote se raadslede ontvang het. Die veelpartykoalisie het Ndzwanana verlede week versoek om ʼn spesiale sitting te belê, maar hy het geweier.

“Hier het jy ’n meerderheid veelpartykoalisie en sy agenda om burgemeesters en speakers te verkies word ondermyn deur ’n minderheid aan die ander kant onder leiding van die ANC en EFF,” het Michael Beaumont, voorsitter van ActionSA, gesê.

“Die vraag wat ons onsself moet afvra, is wie ly as gevolg van hierdie onstabiliteit wat deur die ANC, die EFF en hul koalisievennote gebring word. En daar kan geen twyfel wees dat die inwoners van Tshwane hiervoor betaal nie. Die ANC en EFF moet hul koppe in skaamte laat sak vir hierdie optrede.”

Ndzwanana het ook verlede week ʼn raadsvergadering waartydens ʼn nuwe burgemeester verkies moes word, verdaag. Die veelpartykoalisie was van mening dié aksie was onwettig waarna hulle die spesiale vergadering vir Maandag versoek het.

Ndzwanana is vroeër tot speaker van die raad verkies nadat die 69 stemme van DA-raadslede as bedorwe stembriewe uitgegooi is. Dié stemme was almal ten gunste van ActionSA se Kholofelo Morodi, die veelpartykoalisie se aangewese kandidaat. Die stemme was egter met ʼn nommer, in plaas van ʼn kruisie, gemerk en is gediskwalifiseer.

Intussen is ʼn spesiale raadsvergadering reeds vir vandag geskeduleer, met die doel om ʼn derde keer te poog om ʼn nuwe burgemeester vir die stad aan te stel.

Die stad is steeds leierloos nadat Randall Williams in Februarie as burgemeester bedank het. Sy opvolger, dr. Murunwa Makwarela, is kort daarna as raadslid afgedank, aangesien hy in 2016 insolvent verklaar is.

Die veelpartykoalisie staan vierkant agter Cilliers Brink as uitvoerende burgemeester van die Stad Tshwane.

Makwarela het Brink, wat kort tevore as DA-LP bedank het, in Februarie as burgemeesterskandidaat verslaan nadat verskeie lede van die veelpartykoalisie nie vir hom gestem het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.