Regsaksie teen Amsa duur voort

Arcelormittal se aanleg in Vereeniging Foto: arcelormittalsa.com

Solidariteit beskuldig ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) daarvan dat hy sy personeel onbillik en onregverdig hanteer.

Dit volg nadat Amsa vanaf 1 November ’n 5%-verhoging met ’n verdere 2% in April 2021 vir een kategorie werkers ingestel het, maar die oorblywende werkers op 25% korttyd gelaat het met ʼn verdere vooruitsig van ʼn moontlike permanente 8%-vermindering in salaris.

Solidariteit sê hy het vroeër in ʼn skrywe van Amsa geëis dat die korttyd waarop sommige van sy lede geplaas is, afgeskaf word en dat volle salarisse vir die werknemers heringestel word. Solidariteit gaan egter nou voort met regsaksie nadat die maatskappy glo nie gehoor aan dié eis gegee het nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n maatskappy verhogings aan sekere personeel kan toestaan, maar ander se werksure en salarisse word steeds beperk,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van metaal en ingenieurswese by Solidariteit.

“Aangesien sommige werknemers met verhogings vergoed word, is dit duidelik dat Amsa se onderdrukte bedrywighede herstel het, en dit maak die voorstel om ander werknemers se salarisse tydelik en/of permanent te verminder totaal onbillik.”

Volgens Solidariteit was die korttyd wat ingestel is net tydelik en is die permanente instelling daarvan ’n eensydige verandering van diensvoorwaardes, wat onbillik en strydig met die wet is. Die vakbond sê nou Amsa is boonop van voorneme om sekere werknemers se salarisse met 8% te verminder, wat dan vervang sal word deur ʼn prestasiebonus en jaarlikse verlof – “nóg ’n eensydige en onwettige verandering,” sê Venter.

“In teenstelling met die vermindering in salarisse, het die uitvoerende hoof van Amsa, Kobus Verster, in die week aangedui dat groot besparings reeds teweeggebring is, veral op die vaste koste van die maatskappy.

“Amsa het nie aan ons lede se eise voldoen nie, en dit nadat die afgelope tyd reeds verskeie vergaderings gehou is om die aangeleentheid te bespreek. Ons is dus met geen ander keuse gelaat as om voort te gaan met regsprosesse teen Amsa nie. Dit is onregverdig om van een groep werknemers weg te neem terwyl ’n ander groep bevoordeel word,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Solidariteit dankie vir julle onverpose stryd in Suid Afrika

Eltan ·

Wonder wie die arbeids regshulp was wat sit voorgestel het vir hulle… dit klink net eenvousog nie reg nie…

Hennie J ·

Kyk maar aan wie die maatskappy behoort, met wie in die regering hulle hand-om-die-blaas is en wie die werkers is teen wie daar so ooglopend gedriskrimineer word. Dankie Solidariteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.