Regsaksie teen Volksrust-naamsverandering beplan

Foto: Google Maps

Foto: Google Maps

AfriForum se regspan is besig met voorbereidings om ʼn hofaansoek teen die Dr. Pixley ka Isaka Seme- plaaslike munisipaliteit te bring om dokumente insake die voorgestelde naamsverandering van Volksrust te bekom.

Die burgerregte-groep sal die hooggeregshof nader om die munisipaliteit te dwing om die dokumente beskikbaar te stel, wat AfriForum reeds in Julie vanjaar ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) versoek het.

AfriForum het op 27 Julie 2015 formele regsbesware en ʼn petisie met sowat 3 000 handtekeninge teen die voorgestelde naamsversverandering van Volksrust na Elangwane, en Amersfoort na Zwelethu by die munisipaliteit ingedien.

AfriForum het ook inligting van ʼn vertroulike bron ontvang dat die proses vir die naamsverandering nie korrek gevolg is nie, wat die gronde vir dié aansoek versterk.

AfriForum het die volgende dokumente in hul PAIA-aansoek versoek: die munisipale raad se voorstelle oor die voorgestelde naamsverandering; agendas van die munisipale raadsvergadering oor die voorgestelde naamsverandering en besluite wat geneem is; notules van die munisipale raad se vergaderings oor die voorgestelde naamsverandering en die munisipale raad se naamsveranderingsbeleid.

Volgens AfriForum het die munisipaliteit ondanks dié PAIA-aansoek tot dusver steeds nie gereageer nie. “AfriForum het op 14 Oktober 2015 ʼn interne appèl op die munisipaliteit beteken, wat hulle verplig om die dokumentasie binne 30 dae aan AfriForum beskikbaar te stel, sodat daar bepaal kan word of die korrekte prosedures tydens die naamsveranderingsproses gevolg is,” het Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Mpumalanga, gesê.

“Die regering beskou hulself te dikwels as verhewe bo die wet, en dit kan nie geduld word nie.”

AfriForum meen dat die naamsveranderingsproses bloot ʼn stemwerwingsveldtog vir volgende jaar se verkiesing is.

“Regerings- en munisipale amptenare sal egter persoonlik aanspreeklik gehou word vir alle verkwiste uitgawes wat tydens die proses aangegaan is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan ·

Daar is geld om die plekke se name te verander wat geld mors is plaas gebruik hulle daai geld vir dienslewering

Winston ·

En die belasting betalers bly hoes en hoes vir vrugtelose uitgawes a g v astrantheid wat hulle nog duur te staan gaan kom.

Manie ·

Dit is tyd dat belastingbetalers soos die Studente in opstand kom en dryf die verdomde geldverkwisters uit die Distrik uit.

sarie van heerden ·

Aangesien oningeligde ongeletterdes nie weet wat buite hul grense aangaan nie kan iemand hul miskien daarop wys dat naamsverandering nie vir dommes is nie. In Wallis verskyn Walliese name reg langs Britse name en niemand neem aanstoot nie. Bygese dis ontwikkelde mense. Hong Kong het ontafhanklikheid van Brittanje gekry sonder noemenswaardige ontwrigting vir hul inwoners. Het inwoners van Suid Afrika niks meer geleer as om op een beentjie, eers die een dan die ander, te dans en te skree nie. Los ons plekname want dis nou n gekrap waar dit nie jeu nie.

Charl Coetzee ·

Ai, die sprinkaan kan maar net nie die mier los nie. Begin jou eie dorp dan noem jy dit net wat jy wil.

Hulle is besig om my van Samaritaan tot Leviet te druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.