Regsfirma reg om Prasa te takel oor miljoene se skuld

(Argieffoto: Untu)

Deur Lucas Nowicki, GroundUp

Werksmans-prokureurs, ʼn regsfirma wat die Passasierspooragentskap (Prasa) reeds in talle hofgedinge verteenwoordig het om geld in te vorder en kontrakte van korrupte kontrakteurs te laat opskort, het sy dienste aan die sukkelende agentskap onttrek.

Dié stap volg omdat Prasa die firma R19 miljoen skuld.

David Hertz, voorsitter van Werksmans, het Bongiziwe Mpondo, die Prasa-administrateur, in ʼn brief oor die besluit ingelig.

Volgens die brief is betaling aan die regsfirma reeds meer as ses maande agterstallig. Die brief is gedateer 16 Januarie, maar dit is moontlik ʼn fout omdat die nuusagentskap GroundUp vroeër al ʼn afskrif daarvan bekom het.

In die brief sê die firma hy het sy advokate wat Prasa in die Siyangena-kwessie verteenwoordig reeds aan dié saak onttrek. ʼn Regter het Prasa beveel om teen verlede Vrydag [17 Januarie] sy hofstukke in te dien. Werksmans het egter reeds op 14 Januarie aan die hof kennis gegee dat hy hom aan die sake in die hooggeregshof wat met Siyangena verband hou, onttrek.

(Argieffoto: ANA)

“Die rampspoedige gevolg hiervan is dat die Siyangena-saak nie op die toegewysde datums geopponeer sal kan voortgaan nie, met die gevolg dat Prasa se aansoek waarskynlik geskrap gaan word,” skryf Hertz.

“Daar gaan eindelik van Prasa verwag word om meer as R6 miljard te betaal aan die einste mense en entiteite wat uitgewys is as die sleutelrolspelers in die korrupsie-waansin by Prasa. Dié wandade het deur die voormalige Openbare Beskermer en in ʼn Werksmans-ondersoek aan die lig gekom het. Dit het Prasa se besluit om die kwessie hof toe te neem, verhaas.”

Siyangena is ʼn IT- en veiligheidsmaatskappy wat in 2010 onder die destydse leierskap van Lucky Montana aangestel is. Die maatskappy moes toegangsbeheer by stasies verbeter. Prasa, gesteun deur die aktivistegroep #UniteBehind, het in Maart 2018 aansoek gedoen vir ʼn hofbevel om die kontrak ter syde te laat stel.

In beëdigde verklarings wat verlede jaar by die hof ingedien is, het Prasa vir Siyangena daarvan beskuldig dat hy ou, ondoeltreffende stelsels teen ʼn opgejaagde prys geïnstalleer het. Daar is onder meer miljoene rande bestee aan geoutomatiseerde hekke wat nie werk nie. Prasa het aan die hof gesê die kontrakte is toegeken sonder dat die regte tenderprosesse gevolg is.

(Argieffoto: ANA)

Prasa het glo reeds R3 miljard aan Siyangena betaal, maar die maatskappy eis miljarde meer van die spooragentskap. Die saak word op 24 Februarie in die hof aangehoor.

ʼn Tweede gedingvoerder wat in Hertz se brief genoem word, is Auswell Mashaba, ʼn voormalige direkteur van Swifambo Rail Leasing.

Swifambo was verantwoordelik vir die verskaffing van treine wat Prasa van Spanje ingevoer het. Dié omstrede aankoop het ʼn herrie ontketen omdat die treine nie op plaaslike spoorlyne gepas het nie. In 2017 het die hooggeregshof bevind Swifambo het die kontrak deur ʼn korrupte tenderproses gekry en dit ter syde gestel. Die appèlhof het die besluit gehandhaaf. Swifambo het kort daarna met ʼn likwidasieproses begin.

In Augustus verlede jaar het Mashaba ʼn aansoek ingedien om te voorkom dat hy finansieel aanspreeklik gehou word vir die mislukte kontrak.

Die Werksman-brief waarsku dat as die likwidasieproses teen Mashaba ter syde gestel word en Prasa versuim om dit teen te staan, dit kan lei tot ʼn “tussentydse dividendeverlies van nagenoeg R80 miljoen”.

Die brief noem ook dat Werksmans reeds “groot sukses behaal het in Prasa se stryd teen korrupsie wat tot dusver nagenoeg R4 miljard beloop”.

Dit sluit in die suksesvolle saak teen “doktor” Daniel Mthimkhulu, ʼn voormalige Prasa-werker wat by die Swifambo-treinskandaal betrek is. Die hooggeregshof het Mthimkhulu beveel om meer as R5 miljoen aan Prasa te betaal nadat dit aan die lig gekom het dat hy gelieg het oor sy kwalifikasies om ʼn senior pos by Prasa los te slaan.

Die brief sê etlike honderde sake waaraan Werksmans se Wes-Kaapse kantoor al ʼn geruime tyd werk gaan geraak word deur die onvermydelike besluit om dienste as Prasa se prokureurs te beëindig.

Hertz skryf dat “tensy al ons rekeninge wat reeds agterstallig is … binne vyf dae betaal word … gaan ons ongelukkig moet begin om stappe teen Prasa te doen om die geld te kry wat hy ons skuld”.

GroundUp het die berig oorspronklik gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Voetslaan ·

Nou wat verwag mens anders? Die bodemlose put is nou leeg en nou staan almal verbaas….. Wag dieselfde lot op grondhervorming?

Swanna ·

Hierdie is maar die begin. Die trajek tussen Kaalfontein en Pretoria loop daar nie eens ‘n trein vir die afgelope ses maande nie. Die spoorlyne is bruin geroes en die bobaan toerusting is op plekke totaal verwyder(geroof). Daar is niks wat hierdie ANC regering reg kan doen nie met hulle BEEE beleid.

Moed Opgegee ·

Dis darem lekker om met ander se kalwers te boer … en nog te vermors ook. Sonder “a worry in the world..” … net ‘n oorverdowende, aanhoudende “ag toemaar dis ok”… streel streel

Thinus Erasmus ·

Eers was dit hartverskeurend sleg om te sien watter skade die land en ekonomie ly, nou begin ek myself verlekker in die feit dat dit alles voorspel was en daar reeds baie werklike voorbeelde was. Al wat my verbaas is die hoeveelhede geld watgetap was en dat daar nog mensies is wat glo alles sal nog regkom?!

marous ·

Waarom privaat regs kenners ? Wat het van die staats prokureurs geword ?

Gerrit ·

So daar is nog steeds mense (kamstig intelligent met hulle LLB grade) wat eers werk doen vir die regering en dan agterna geld vra? Daar is net een manier om met die regering sake te doen. Betaal eers vooraf alles, en dan word die werk gedoen. En as dit nie aanvaarbaar is vir die regering nie, dan stap jy weg.

EK, ·

Gerrit,
Jy slaan die spyker op die kop. Met die regering werk jy op n voorafbetaalde basis. Gierigheid het ook nie brieke nie.

EK, ·

Gerrit,
Jy slaan die spyker op die kop. Met die regering werk jy op n voorafbetaalde basis. Gierigheid het ook nie brieke nie.

Scalla ·

Verbeel my maar is daar nie ook n ene Mnr Poppo in die vrugteslaai betrokke gewees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.