Regsgeleerde vir lewensbydrae tot Afrikaans vereer

Prof. Jean Sonnekus is in 2020 vereer met die Jan H Marais-prys vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. (Foto: Verskaf)

Die Jan H Marais-prys vir ʼn uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies van hoë gehalte in dié taal te lewer, is Donderdag (25 Maart) aan die regsgeleerde, prof. Jean Sonnekus, oorhandig.

Maroela Media het vroeër berig dat Sonnekus reeds op 7 April 2020 as die wenner aangewys is deur die voorsitter van die keurkomitee, prof. Andreas van Wyk, oudrektor van die Universiteit Stellenbosch. Die oorhandigingsgeleentheid moes egter weens die Covid-19-pandemie uitgestel word.

Sonnekus ontvang die “Helpende Hand”-beeld, wat deur die beeldhouer Coert Steynberg geskep is, en prysgeld van R500 000 as erkenning vir sy lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans. Die prys is tydens ʼn intieme geleentheid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom oorhandig.

Sonnekus se loopbaan blyk ʼn teenvoeter vir die “As jy dit nie in Engels doen nie, tel dit nie”-argument te wees. Hy het oor die afgelope 45 jaar 18 boeke of hoofstukke in boeke en meer as 300 wetenskaplike artikels geskryf, vele daarvan internasionaal en grotendeels in Afrikaans.

“Soms word ek as afgetrede akademikus gevra of dit nog enigsins sin maak om in Afrikaans te publiseer, of Afrikaans as wetenskapstaal iets van die verlede is en of daar nog plek vir dié taal is,” het Sonnekus in sy toespraak gemeld. Sy antwoord op dié en ander soortgelyke vrae is ʼn onomwonde “ja”.

Te dikwels word jong akademici veral in ʼn universiteitsmilieu met swak gemotiveerde redes mislei om nié in Afrikaans te skryf nie, meen hy.

“Hulle word om die bos gelei met argumente soos ‘As jy wil hê dit moet gelees word en daar van jou kennis geneem moet word, dan moet die artikel of inhoud in Engels wees. Afrikaans is uit’ – en dit is eenvoudig nie die waarheid nie.”

Sonnekus het ʼn ervaring uit sy eie loopbaan as voorbeeld voorgehou waar sy artikels hier in Afrikaans gepubliseer is en binne 14 dae kommentaar in Switserland en Duitsland ontlok het. Dit is lande waar mense nie Afrikaans kan lees of verstaan nie, maar in die voetnotas gesien het watter verwysings daar is en dan uit hul eie moeite gedoen het om die artikel te laat vertaal.

“Ons moet seker maak dat taalhindering en eenogige, slegs Engels nie die vlak van ons werk as juriste en akademici verlaag nie. Die gehalte van ons werk is nie afhanklik van die taalhindering van die potensiële leser nie.

“Die sogenaamde politieke druk om te verengels behoort aktief teengewerk te word. Ek dink ons het almal regte, maar ook ʼn verpligting teenoor diegene wat ons voorgegaan het om Afrikaans steeds te bevorder,” het Sonnekus ten slotte aangevoer.

Prof. Oppel Greeff (regs), voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het die “Helpende Hand”-beeld aan prof. Jean Sonnekus (links) oorhandig. (Foto: Verskaf)

Die jaarlikse Jan H Marais-prys is in 2015 ingestel deur ʼn besluit van Het Jan Marais Nasionale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch, wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ʼn groot ondersteuner van Afrikaans as akademiese en literêre taal.

Die Jan H Marais-prys vir ʼn lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Andreas van Wyk (Stellenbosch), Albert Grundlingh (Stellenbosch), Christof Heyns (Pretoria en Genève), Debra Meyer (Johannesburg), Piet Steyn (Stellenbosch) en dr. Johan van Zyl (vroeër van Sanlam). Dit is die laaste jaar dat prof. Van Wyk in hierdie rol sal optree.

Vorige wenners van dié gesogte prys sluit in proff. Herman Giliomee, Jaap Steyn, Jan van der Watt, Marinus Wiechers, Christo van Rensburg en Fransjohan Pretorius.

Lees meer oor prof. Sonnekus hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.