Regshulp vir geskorste Puk-HK-lede

Chantelle Ludik

Chantelle Ludik

HK-lede van die Noordwes-Universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom het regshulp ingewin nadat hulle in Februarie geskors is.

Die onderskeie HK-lede van Karlien-dameskoshuis en Over de Voor-manskoshuis is op 11 Februarie ingelig dat hulle tydelik van hul verantwoordelikhede onthef is en dat hulle hul kamers voor 20:00 moet ontruim.

Werner Human, prokureur van Hurter Spies, het Sondag aan Maroela Media gesê sy kliënt, Chantelle Ludik, die geskorste primaria van Karlien-dameskoshuis, is nooit die kans gebied om haar kant van die saak te stel voordat die skorsing plaasgevind het nie.

Human sê hy het Donderdag vir die eerste keer telefonies met die Puk in verbinding getree. Die HK-lede het vroeër nie regshulp genader nie, omdat die Puk hulle glo ingelig het dat hierdie slegs ‘n ondersoekfase en nog nie ‘n verhoor is nie. Hulle was onder die indruk dat die universiteit die proses intern so gou as moontlik wil afhandel.
Volgens Human het twee ander HK-lede hul eie regsverteenwoordigers genader, maar die firma Hurter Spies sal moontlik sewe van die nege HK-lede verteenwoordig.

Human voer aan Ludik, ʼn LLB-student, was ten alle tye ʼn hardwerkende en lojale student, maar is reeds deur onakkurate mediaberigte in ʼn swak lig gestel. “Die situasie word vererger deur die media se heksejag teen die universiteitsbestuur. Ons kliënt se lojaliteit is by die universiteit en sy wil nie betrokke raak in die sensasie wat opgewek is nie,” het hy bygevoeg.

In ʼn prokureursbrief wat Vrydag aan die universiteit gestuur is, versoek Human dat Ludik dadelik kan terugkeer na haar koshuiskamer hangende afhandeling van die proses. Die universiteit moet glo Maandag voor 12:00 op dié skrywe reageer.

Die universiteit het vroeër aangedui dat hy op 5 Maart ʼn verslag of besluit oor beoogde optrede teen die betrokke HK-lede sal vrystel. Human versoek egter dat dié verslag of besluit nie bekend gemaak sal word voordat ʼn behoorlike en regverdige verhoorproses gevolg is nie.

“Indien ons nie reaksie ontvang nie, sal ons ʼn dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien,” het Human gesê. Hy voeg by dit sal egter in al die partye se belang wees om die saak op ʼn vriendskaplike basis te probeer beredder.

Die universiteit het intussen alternatiewe behuising vir die geskorste HK-lede by Dennepark beskikbaar gestel. “Om die ondersoek te vergemaklik en moontlike inmenging te verhoed, word die betrokke leiers vir die duur van die ondersoek elders gehuisves,” het prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die kampus, op 11 Februarie in ʼn verklaring gesê.

Dennepark word deur besoekers aan die universiteit gebruik, maar dit is glo onveilig en ontoereikend. “Mans het toegang tot die gange en daar was reeds gevalle van onbehoorlike optrede,” het Human bygevoeg. Daar is glo ook nie internettoegang by Dennepark nie, en slegs een lessenaar en een stoel vir elke twee studente. “Enige kamer kan met enige inwoner se sleutel oopgesluit word,” het Ludik Sondag aan Maroela Media bevestig. Sy woon nou uit vrees, en as gevolg van eie veiligheid, by ‘n vriend in die dorp.

Human verduidelik daar is berig dat eerstejaarstudente tydens die Ontvangs- en Bekendstellingsprogram verbied is om van die hysbak gebruik te maak. “Hierdie inligting is in die tradisieverslag vervat wat deur die universiteit goedgekeur is,” het hy gesê. “Dit is nie deel van ‘ontgroening’, soos wat berig word nie. Omdat soveel eerstejaarstudente aan die O&B-program deelneem, is dit veiliger dat hulle eerder van die trappe as die hysbak gebruik maak.”

Ludik het aan Maroela Media gesê direk ná afloop van die O&B-program mag hysbakke weer vrylik deur alle inwoners gebruik word. “Weens die beperkte tyd tydens O&B en ook die grootte van die eerstejaarsgroep, is dit nie prakties moontlik vir al die eerstejaars om hierdie fasiliteit te benut nie. Indien die program dit toelaat, sou gange wel die geleentheid gebied word om die hysbakke te gebruik,” het sy gesê.

Die Ontvangs- en Bekendstellingsprogram is ʼn amptelike en goedgekeurde program van die universiteit wat verseker dat nuwe studente optimaal by die universiteitsgemeenskap kan inskakel. “Meer as 70% van die program bevat akademiese en administratiewe take en aangeleenthede om die eerstejaarstudente so vroeg as moontlik akademies georiënteerd te kry,” het Van Schalkwyk in die genoemde verklaring bygevoeg.

Kiewiet Scheppel, mediaskakelbeampte van die Puk-kampus, het Sondag aan Maroela Media gesê hulle bevestig ontvangs van die skrywe van Hurter Spies. “Die inhoud van die brief kan om vertroulikheidsredes nie bespreek word nie, maar die universiteit se regsafdeling is besig om die saak te hanteer,” het Scheppel gesê.

Lees ook:
Oud-student bedank Puk vir “balans”
Duisende steun Solidariteit se dispuut teen Beeld
Puk-studente begin eie veldtog
Solidariteit v. Beeld lok vurige reaksie uit
Solidariteit se #ProPuk-veldtog
Puk-groet: Beeld reageer op Solidariteit se dispuut
Solidariteit: Bloedneus vir Beeld en Basson
Puk-groet: Departement sê koppe gaan rol
NWU-raad: ‘Ons sal nie menseregteskendings duld nie’
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet: ‘n G*tslag vir Afrikaans
Puk-rektor sê oor ‘Nazi-saluut’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.